Stompie, val af!

akkreditasie
Versorgting van die stomp oorblyfsel van jou baba se naelstring kan 'n spannende taak wees. Maar dis eintlik baie maklik!

Tydens jou swangerskap verskaf die naelstring deur jou bloedtoevoer voedingstowwe en suurstof aan jou ontwikkelende baba. Dis die noodlyn tussen haar liggaam en die plasenta. Maar as jou baba eers gebore is, het sy nie meer haar naelstring nodig nie. Dit is waarom haar naelstring kort ná geboorte geklamp en naby haar naeltjie afgeknip is.

Jy kan met jou ginekoloog gesels oor die moontlikheid dat die koord eers geklamp word wanneer dit ophou klop, sowat ’n minuut ná geboorte. So kry jou baba meer bloed en sy ystervoorraad sal groter wees. Ál meer dokters doen dit deesdae, en dis veral voordelig vir babas wat vroeg gebore is.

Voor die naelstring gesny word, sal die dokter dit op twee plekke afklamp om die bloeding tot die minimum te beperk. Dikwels word die nuwe pa gevra om die naelstring te knip.

Die klamp word net so gelaat tot die string ’n dag of twee later verdroog het. Wanneer dit verwyder word, is daar soms effense bloeding. Jy en jou baba sal geen pyn ondervind wanneer die naelstring geknip word nie omdat dit nie senuweepunte het nie.

Die stompie wat oorbly maak ook deel van die naelstring uit en sal ná ’n ruk uitdroog en afval en jou baba se naeltjie agterlaat.

Dit is belangrik dat die stompie van jou baba se naelstring deeglik versorg word tot dit afval, wat in die eerste 10 dae sal gebeur.

Bank toe met die bloed

Jou baba se naelstring en die bloed daarin bevat stamselle, wat eendag kan help om moontlike siektes wat sy dalk kan ontwikkel te behandel. Stamselle is die “oorsprongselle” van die liggaam omdat meer gespesialiseerde selle – soos bloedselle en die selle van die hartspier – daaruit ontstaan.

Bloed en weefsel wat stamselle bevat, kan ná geboorte uit jou baba se naelstring getrek en gevries word om eendag gebruik te word om siektes soos leukemie te beveg. Bekyk gerus die advertensies vir stamselberging in Baba & Kleuter as jy nog inligting nodig het en kontak die diensverskaffers direk.

Julle sal voor die geboorte hieroor moet besluit en die mediese span inlig sodat ’n stelletjie vir die versameling van die bloed en weefsel betyds aan die ginekoloog gegee kan word.

Let hierna op

Die bietjie droë bloed by die stompie is normaal, maar kontak die dokter indien:

  • Jou baba koors kry,
  • Daar bloeding is aan die punt van die naelstring of die deel naby die vel,
  • Geel sug uit die stompie sypel,
  • Daar ’n swelling of rooierigheid om jou baba se naeltjie is,
  • Die deel om jou baba se naeltjie pynlik is.

Infeksie van die naelstring is algemeen, maar vinnige optrede kan voorkom dat die infeksie versprei.

Sorg so vir stompie

Die kleur van jou baba se naelstring sal verander van geelgroen tot bruin en swart voor dit eindelik afval. Tot dit gebeur, moet jy die volgende doen:

  • ¬Hou dit skoon. Die stompie van die naelstring sal gou genees as jy dit uitlos. As dit egter vuil of taai word, kan jy ’n pluisie watte in ontsmettingsalkohol doop (onthou om die oortollig vloeistof uit te druk) en dit skoonvee. Herhaal met nog ’n stukkie watte, maar vee dié keer onder die stompie skoon.
  • Hou dit droog. Stel die stompie aan lug bloot net wanneer jy kan. As dit warm is, kan jy vir jou baba net ’n doek en T-hemp aantrek sodat lugsirkulasie om die stompie aangemoedig word. Vou die bokant van jou baba se doek aan die voorkant terug sodat dit nie teen die stompie skuur nie en die stompie aan lug en nie urine nie blootgestel is.
  • Hou by ’n sponsbad. Probeer om jou baba in dié tyd nie van kop tot toon te bad nie tensy dit regtig nodig is. As jy moet bad, hou dit kort en druk die stompie agterna sagkens maar deeglik droog.
  • Laat die stompie self afval. Moenie aan jou baba se stompie trek nie, selfs al hang dit aan net ’n draadjie. Dit sal vanself afval en wanneer dit gebeur, is sy naeltjie dalk nog nie heeltemal genees nie. Dit kan dalk effens bloei en ’n dag of wat teer wees. Soms bly ’n paar stukkies knoetserige weefsel agter nadat die naelstring afgeval het. Dit kan vanself verdwyn, maar moet soms deur ’n dokter behandel word.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees