Tandemvoeding

akkreditasie
Moenie bekommerd wees nie - dit is moontlik om 'n ouer kind en 'n nuwe baba albei te borsvoed.

Vraag:

Ek is sewe maande swanger en het ’n 15 maande oue peuter wat ek borsvoed. Ek sal graag wil tandemvoed, maar is bang die nuwe baba kry nie al die nodige voedingstowwe as my ouer kind ook nog aan my drink nie. Sal ek genoeg melk vir albei hê?

Antwoord:

Wanneer jy ’n ouer kind én ’n nuwe baba borsvoed, word dit tandemvoeding genoem. Tandemvoeding is nie ’n nuwe verskynsel nie.

Jy kan dalk gemengde gevoelens hê as jy swanger raak terwyl jy nog ’n baba of ouer kind borsvoed. Ander mense kan dalk ook druk op jou plaas om op te hou. Voorgeboorte-gesondheidswerkers beveel soms aan dat ’n swanger vrou ophou borsvoed om veilig te bly. Dis onder meer omdat die stimulasie of suig aan die bors die baarmoeder laat saamtrek.

Dit gebeur omdat die gesuig veroorsaak dat die liggaam oksitosien vrystel, wat die borskliere en baarmoeder laat saamtrek. Mense is dus soms bang dat borsvoeding tydens swangerskap ’n spontane aborsie kan veroorsaak. Baarmoedersametrekking is egter normaal terwyl jy swanger is en kom ook voor tydens seksuele omgang.

Gelukkig neem ondersteuning vir borsvoeding tydens swangerskap nou toe en kenners stem saam dat as die swangerskap normaal verloop en jy en jou ongebore baba gesond is, borsvoeding veilig kan voortgaan.

Ma’s is dikwels bekommerd dat hulle nie genoeg melk kan maak vir ’n nuwe baba en ’n ouer kind saam nie.

Borsmelkproduksie is egter die resultaat van vraag en aanbod, en albei kinders se behoeftes en hul gedrink aan die bors sal boodskappe na die brein stuur om die regte hoeveelheid melk te produseer. Nog ’n tipiese bekommernis is dat die ouer kind die melk gaan drink wat vir die baba bedoel is.

Die eerste noodsaaklike kolostrum is natuurlik vir die nuwe baba bedoel en dis dus ’n goeie idee om jou ouer kind betyds te waarsku. Verduidelik dat die eerste melk wat gemaak gaan word ’n baie spesiale melk vir nuwe babas is.

Verduidelik verder dat hy self daardie eerste spesiale melk gekry het, dat dit baie goed vir hom was en dat die nuwe baba dit ook baie nodig gaan hê.

Die meeste geboortes in Suid-Afrika vind in hospitale plaas en daar is dus ’n tydelike skeiding tussen ma en ouer kind wanneer die nuwe baba gebore word. Dit gee jou die kans om die nuwe baba alleen ná die geboorte te voed.

In die geval van ’n tuisgeboorte kan jy reël dat jou man, die ouma of ’n ander vertroueling die ouer kind besig hou sodat die baba eerste ná die geboorte kan drink.

Dit kan ook werk om jou ouer kind by die borsvoeding van die baba te betrek. Gee dalk vir hom ’n spesiale takie soos om vir die baba klere uit te kies vir die volgende dag of ’n slaapliedjie te sing terwyl mamma die baba borsvoed.

Soms wil ouer kinders ná die geboorte van ’n baba meer voed, selfs elke keer wanneer die baba voed. Die borsvoedingsorganisasie La Leche League sê baie ma’s laat hierdie gedrag ’n ruk lank toe, maar verduidelik dan later vir die ouer kind dat sy liewer alleentyd met hom of haar tydens borsvoeding wil deurbring wanneer die baba klaar gedrink het.

So kan tandemvoeding ’n verrykende ervaring wees vir sowel die nuwe baba as die ouer kind.

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees