Tandjies wat pla

akkreditasie
Haal die pyn uit tande kry deur die volgende ervare ma's en kenners se raad te volg.

Is dit tande?

Kenners verskil oor die simptome van tande kry, maar almal is dit eens dat dit ’n kind nooit ernstig siek maak nie. Jy kan verwag dat jou asjas in hierdie tyd wel:

  • prikkelbaar kan voorkom;
  • byterig kan wees;
  • baie kan kwyl (wat tot ’n uitslag op die kennetjie kan lei);
  • onwillig kan wees om te eet omdat sy tandvleis sensitief is; en
  • slegter as gewoonlik kan slaap.

Sommige kenners reken ook dat tande kry gepaard kan gaan met doeke wat erger ruik as gewoonlik, ’n baie effense koors en ligte diarree (nie erg nie). Moenie net siektesimptome afskryf as tande kry nie – praat liewer met jou apteker, dokter of klinieksuster as jy twyfel.

Help jou kleinding so

Sommige babas se tande verskyn stil-stil, maar ander is beslis nie so gemaklik met die proses is nie. En ’n moeilike baba beteken ’n moeë ma. Hier is rate wat ons by ervare ma’s en mediese kenners gekry het.

Aandag aftrek Bedags is dit soms genoeg om baba se aandag van sy ongemak af te trek deur hom besig te hou met aktiwiteite soos stap, dans en bietjie vertroeteling.

Massering Vryf ferm met ’n skoon vinger oor sy tandvleisies. Jy kan ook ’n rubber-tandeborseltjie (soos Pigeon s’n) gebruik om die tandvleis te masseer.

Tanderinge ’n Tandering is nie te hard nie en is lekker koumateriaal. Belê gerus in die soort wat jy in die yskas kan sit om af te koel – die koue sal ekstra verligting bied. Moet dit nie vries nie!

Kos om aan te kou Dr. Angela Gilhespie, skrywer van The ABC’s of Children’s Teeth, beveel onder meer ’n hoenderbeentjie sonder vleis aan, asook wortelstokkies, appelskyes, selderystokkies en broodkorsies. Baie ma’s hou van tandebeskuitjies, maar Angela waarsku teen die hoë suikerinhoud daarvan. Oumas beveel dikwels biltong aan – maak seker dis nie te sout nie en bly byderhand.

’n Elektriese tandeborsel Ja, Angela vertel jy kan dit gebruik om baba se tandvleis mee skoon te maak (en later sy tandjies) en babas is blykbaar dol oor die vibrasie daarvan in die mondjie.

Koue goed Koue bring verligting. Sit dus sy fopspeen in die yskas of gee hom koue jogurt, koue wortels of ’n piesang wat ’n rukkie in die yskas was.

Kamille Baie homeopate beveel kamille aan vir tandekry – jy kan kamilletee gee of Weleda se tandekrypoeier wat ook kamille bevat.

Plaaslike mondverdowingsmiddels Kyk na opsies soos Teejel, Bonjela, Pansoral-jel, Prodol (deur baie ma’s aanbeveel) of poeiers soos Vidol en Ashton & Parsons. Nog ’n gewilde opsie by ma’s is Dynexan, wat eintlik vir volwassenes bedoel is. Praat egter eers met jou apteker daaroor. Jy kan jou apteker ook vra vir hul eie tandemengsel.

Pynstrope Babaveilige pynstrope soos Panado of Calpol behoort met uitsondering gegee te word, maar kan veral in die nag help. Bly weg van aspirien; dit kan tragiese gevolge hê.

Tandhigiëne

Hoe gesond baba se melktande is, het 'n invloed op sy volwasse tande. Vee sy eerste tandjies twee keer ’n dag skoon met ’n skoon nat lappie. Jy kry ook spesiale vingertandeborseltjies.

Die grootste oorsaak van tandbederf by babas is dat hulle met ’n bottel slaap, omdat die vloeistof agter die tandvleis opdam en groot skade aanrig – vermy veral bottels sap en versoete tee. Dit kan baba se tandjies letterlik wegvreet.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees