Hierdie artikel is gepubliseer in die Augustus 2015 uitgawe van Baba & Kleuter.

Reg in die middel van jou diepste slaap en soetste drome word jy wakker van ’n geskree om ’n bottel melk. “Mamma! Mamma! Mamma!” weergalm dit deur die huis. Sy skree so hard dat jy wonder of die buurmamma ook al opgestaan het. Almal het gesê die nagopstanery gaan net ’n paar maande duur, maar jou kind het besluit dat sy jou ’n paar jáár lank gaan wakker boelie vir ’n bottie.

Jy wil beslis nie haar pasgebore bababoetie ook wakker hê nie en prop dus so gou as wat jy kan die bottel in haar hand voor jy sleepvoet na jou eie bed terugkeer. Hoe lank gaan dit so aanhou? Gaan jy ooit weer ’n goeie nagrus kry?

Nagbottels 

Wanneer babas klein is, het hulle gereeld ’n klein bietjie melk nodig om te help om hul bloedsuikervlak binne normale grense te hou. Babas slaap baie en hul magies is klein. Om al die melk in te kry wat hulle in een dag nodig het, moet hulle minstens die eerste vier weke in die nag ook drink.

Babalyfies word egter gou groot en sal stelselmatig hul bloedsuikervlak ál langer deur die nag konstant kan hou. Van 4 tot 6 weke af kan hulle al begin om vyf of ses uur te slaap sonder dat hulle melk nodig het. As jy jou tydsberekening reg het en jou baba haar lang nagslapie laat slaap wanneer jy in die bed klim, beteken dit dat jy ook vyf of ses uur ononderbroke slaap kan kry.

Teen 6 maande kan feitlik alle babas minstens agt uur lank ononderbroke slaap, met ander woorde van 21:00 tot 05:00, en van 7 maande af nog langer. Babas kán dus van vroeg af regkom sonder melk in die nag, maar hoekom doen baie van hulle dit nie?

Slaap, of eerder wakker word in die nag voor jou kleinding agt tot elf uur geslaap het, het niks met voeding te doen nie, maar met ’n gebrek aan slaapvaardigheid. Babas leer slaapvaardigheid in die eerste jaar aan en hul vaardigheid verbeter vinnig, veral tussen 6 en 12 maande.

As ’n baba gereeld siek is kan die aanleer van hierdie belangrike vaardigheid wel belemmer word.

Babas wat van vroeg af kan deurslaap, word soms vir ’n paar oomblikke wakker, maar kry dit reg om self weer aan die slaap te raak sonder dat hulle ’n ouer of iets soos ’n bottel of bors nodig het om hulle te sus.

Peuters wat dus steeds melk in die nag drink, het heelwaarskynlik nie as baba geleer om self weer aan die slaap te raak nie en gebruik die botteldrinkery of borsvoeding om hulle te sus tot hulle weer slaap.

Hoekom tatta sê vir nagbottels? 

Die belangrikste rede waarom jou peuter in die nag moet ophou melk drink, is dat jy én sy beter kan slaap. Dit sal ook sorg dat jy deur die dag baie vriendeliker is.

Wanneer ’n kind met ’n bottel in haar mond aan die slaap raak, bly die melk of ander vloeistof in aanraking met haar tandjies. Dit is een van die hoofoorsake van tandbederf by klein kinders. Peuters wat nog in die nag melk drink, kan ook te veel energie inneem wat – veral as hulle bedags ook baie melk of vrugtesap drink – hulle oorgewig kan maak. 

Daarby kan die nagdrinkery dit moeilik maak om haar later van die nagdoek af te kry.

Drink in die nag kan vinnig ’n slegte gewoonte word wat jou peuter waarskynlik nie self sal afleer nie. Hoe langer dit voortduur, hoe moeiliker gaan dit vir julle albei wees om dit stop te sit.

Hoe sê ’n mens tatta? 

Wanneer jy genoeg van die nagopstanery gehad het en jou peuter wil leer om nie meer snags melk te drink nie, moet jy eerstens op ’n strategie besluit. Twee faktore gaan bepaal hoe jou strategie lyk: hoe sterk jóú wil is, en hoe sterk jou peuter se wil is.

As jou kind een van dié is wat nee vir ’n antwoord stilweg aanvaar en nooit weer haar hand in die visbak steek as jy een keer gesê het dat ’n mens dit nie doen nie, kan jy metode 1 hieronder beproef, veral ook as jy iemand is wat voet by stuk kan hou nadat jy op iets besluit het.

As jy borsvoed, is dit ook die enigste metode wat kan werk. As jou kind een van dié is wat in die winkel op en af spring tot sy ’n speelding kry, of skop en skree tot sy haar sin kry, is metode 2 dalk ’n beter opsie, ter wille van die bure!

As jy weet dat jou kleinding jou maklik om haar pinkie draai en jy haar te vinnig jammer kry, is dit ook ’n beter opsie. 

Metode 1 

Bespreek jou plan met jou maat en maak seker dat julle albei instem en gereed is om die tattamelkie-uitdaging aan te pak. Maak seker dat julle genoeg slaap kry in die week voor die tyd. Vrydagaand is gewoonlik ’n goeie wegspringtyd; dan kan jy die volgende dag verlore slaap inhaal indien nodig.

As jou peuter al naby twee is, kan jy voor sy gaan slaap verduidelik dat sy van vanaand af nie meer ’n melkie in die nag kan kry nie. Gaan klim vroeg in die vere met net ’n bottel of oefenbekertjie water langs jou bed. Wanneer jou kind wakker word en roep dat sy ’n melkie wil hê, gaan na haar toe en gee die bottel of bekertjie water.

Die kans is klein dat sy dit gedweë sal aanvaar, ’n paar slukke sal drink en sal omdraai om verder te slaap. Hoe jonger sy is, hoe groter is die kans wel dat sy dit sal doen. Die meeste peuters wat gewoond is aan melk daardie tyd van die nag sal egter die water gooi laat dit daar trek en huil dat hulle ’n melkie wil hê.

Verduidelik kalm dat die yskas in die nag gesluit of jou borste leeg is en dat sy nie melk kan kry nie. 

Sy sal waarskynlik aanhou huil en jou taak is om haar rustig te maak en sonder melk weer aan die slaap te kry. Jy kan water aanbied ingeval sy werklik dors is, en haar optel en vashou, sus of net by haar sit tot sy weer slaap.

Wat haar reaksie ook al, hou voet by stuk dat sy melk kan kry wanneer dit oggend is.

Jy gaan hierdie proses elke aand moet herhaal tot sy leer dat dit nie die moeite werd is om wakker te word vir water nie.

Die meeste kleingoed leer dit heel vinnig, maar as jy één keer ingee as sy ’n groot bohaai opskop, gaan sy elke keer nog ’n groter geraas maak tot jy vir haar melk gee.

Jy behoort ook stelselmatig minder aktief betrokke te wees in die proses om haar weer aan die slaap te kry.

Die eerste nag kan dit dalk nodig wees om haar te sus, daarna kan jy haar net stil vashou, later net jou hand op haar sit, naby haar sit en dan verder van haar af begin sit. Jy kan selfs vinnig uit die kamer gaan voor sy slaap en weer terugkom. So sal sy leer om haar self te sus tot sy weer slaap.

Metode 2

Hierdie metode werk baie meer geleidelik en behels dat jy die melk wat sy drink, geleidelik minder maak. Dit kan op een van twee maniere gedoen word. Die eerste manier is om haar melk met 25-50 ml minder te maak, afhangend van hoeveel sy drink. As sy net 125 ml drink, kan jy dit met 25 ml minder maak en as sy nader aan 250 ml uit die nagbottel drink, kan jy dit met 50 ml verminder.

Verminder elke week die melk met 25-50 ml. As sy nog melk vra, moet jy verduidelik dat dit op is. Met dié metode behoort die tatta-bottie-uitdaging binne ses weke afgehandel te wees.

Die tweede manier is om die melk geleidelik met water te verdun. Giet elke keer 25-50 ml minder melk in die bottel en vervang die res met skoon water.

Die eerste week sal jy dus byvoorbeeld 100 ml melk plus 25 ml water of 200 ml melk plus 50 ml water in die nagbottel giet. Vervang elke week 25-50 ml van die melk met water tot jy ná vyf weke net ’n bottel water gee as sy in die nag wakker word.

Die meeste peuters sal dan vinnig ophou om wakker te word. As sy af en toe wakker word, moet jy net skoon water aanbied en so min moontlik doen om haar te help om weer aan die slaap te raak.

Jy kan ’n gunsteling-teddiebeer of kombersie vir haar gee om haar te help om veilig te voel en haar self rustig te maak.