Te vroeg, te klein

akkreditasie
’n Vroeë geboorte is dikwels onverwags en skokkend, en kan jou vreesbevange, verward en magteloos laat voel. Ons vertel jou wat om te verwag, en ma’s wat dit al deurgemaak het, deel die lesse wat hulle geleer het.

Voltermynbabas word tussen 37 en 42 weke gebore. Babas onder 37 weke is vroeggebore (prematuur) en word volgens geboortegewig in drie groepe gedeel:

  • Laegeboortegewig-babas (LG) weeg tussen 1,5 en 2,5 kg en word tussen 32 en 37 weke gebore.
  • Baie laegeboortegewig-babas (BLG) weeg tussen 1 en 1,5 kg en word tussen 28 en 32 weke gebore.
  • Ekstreem laegeboortegewig-babas (ELG) weeg minder as 1 kg en word tussen 24 en 28 weke gebore.

Gaan my baba oorleef?

Gelukkig het die mediese wetenskap al so ver gevorder dat baie probleemswangerskappe wat in die oue dae in ’n miskraam of babasterfte sou eindig, nou tot ’n suksesvolle geboorte gevoer kan word.

Babas ouer as 24 weke en met ’n minimum gewig van 450 g het deesdae ’n kans op oorlewing, en ná 30 weke word dié kans ál groter. By babatjies wat voor 30 weke gebore word en minder as 1,5 kg weeg, kan ’n mens wel meer beduidende probleme en siektes verwag.

Neonatale intensiewe sorg

Omdat vroeggebore babas nog nie so ver soos voltermynbabas ontwikkel het nie, word hulle in ’n neonatale intensiewe sorgeenheid opgeneem waar hulle in ’n broeikas verder groei.

’n Baba se velletjie is voor 30 weke ontsettend dun. Water kan maklik daardeur dring. Die sorgpersoneel moet seker maak dat so min moontlik vog van die baba se liggaam verdamp om ontwatering te voorkom en die liggaamstemperatuur optimaal en stabiel te hou.

Gaan hy komplikasies oorhou?

Baie vroeggebore babas hou geen komplikasies oor nie en kan normaal groei en ontwikkel, hoewel dalk aanvanklik stadiger. Vroeggebore babas is meer vatbaar vir hart-, long-, spysvertering- en neurologiese probleme. Infeksie en stadige groei en ontwikkeling kan bykomende komplikasies wees.

Jy sal jou vroeggebore baba egter jare lank fyn moet dophou, want meer subtiele probleme kan later duidelik word, soos leerprobleme op skool en groter vatbaarheid vir toestande soos die metaboliese sindroom (’n kombinasie van leefstylsiektes soos hoë bloeddruk, cholesterol en diabetes) wanneer hy ouer is.

Moontlike komplikasies in NISE

  • Apnee: Jou baba hou vir 20 sekondes of langer op asemhaal, dikwels terwyl hy slaap. Teen sy verwagte geboortedatum behoort dit te stabiliseer.
  • Bradikardie: Jou baba se hartklop word stadiger.
  • Retinopatie: Nuwe bloedvate word in jou baba se retina gevorm, gewoonlik as gevolg van te veel suurstof weens suurstofbehandeling. Dit kan oogskade veroorsaak. Babas in die NISE moet hiervoor getoets word.
  • Gehoorprobleme: Jou baba kan gehoorverlies opdoen. Laat hom tot vyf jaar oud hiervoor toets.
  • Longprobleme en -siektes: Jou baba se onderontwikkelde longe ontsteek maklik. Langdurige ventilator behandeling kan verdere skade veroorsaak. Die skade kan blywend wees of heeltemal verdwyn.
  • Spysverteringsprobleme: Refluks is algemeen. Jou baba kan hardlywig wees. As jy kan uitmelk sal dit jou baba help, want borsmelk bevat ’n natuurlike lakseermiddel.
  • Breuke Lies:- of naelbreuke kom soms voor. Naelbreuke herstel self teen twee en liesbreuke moet chirurgies herstel word.
  • Breinbloeding: Vroeë babas se wisselvallige bloeddruk kan bloeding op die brein tot gevolg hê.
  • Infeksie: Vroeggebore babas is baie vatbaar vir infeksies en die personeelmoet dit tot elke prys probeer vermy.

Ma's deel hul wenke: "so het ons dit te bowe gekom"

Sara-Lea Van Eeden, Edenville, Vrystaat

Ons baba Lia is drie weke te vroeg met ’n noodkeisersnee in die lewe gebring en moes in die NISE opgeneem word omdat haar longe nog nie goed gewerk het nie.

Vir ’n eerstekeer-ma en ná ’n noodkeiser is dit hartverskeurend om jou baba in die NISE te sien. Jy is tegelyk geskok, opgewonde, bang en hartseer. Toe ek vir Lia die heel eerste keer kon besoek was daar ’n engel van ’n suster, Erika Roodtman, aan diens.

Sy het pas die maskertjie afgehaal en die voedingsbuisie verwyder, en toe dadelik vir Lia onder my nagrok op my bors laat lê. Sy het op die monitor vir my gewys hoe Lia se hartklop, temperatuur en suurstofsaturasie vir die eerste keer stabiliseer.

Dit was soos om ’n wonderwerk te aanskou!Toe my man, Pierre, later daar opdaag, het suster Erika vir Lia onder sy hemp ingedruk. Hy wou nog keer, maar voor hy kon, was Lia teen sy bors. Hy doen dit nou nog saans met haar voor ons gaan slaap.

Lia het ook op haar beste geborsvoed ná ’n vel-teen-vel-sessie. In die tye dat dit moeilik was om haar te borsvoed, het ’n ander wonderlike suster, Junitha Kitime, my gehelp om 3 ml kolostrum op ’n slag met die hand en ’n druppertjie uit te melk.

Jou ondersteuningstelsel is die heel belangrikste; dat daar mense is wat jou moed inpraat en in jou glo!

Joan Van Zyl, Kaapstad

Wynand is op 24 weke gebore en ek is nie toegelaat om hom vas te hou voor hy sewe weke oud was nie. Ek het baie, baie ure per dag langs sy hospitaalbedjie deurgebring omdat ek geglo het ek stuur só goeie vibes uit en help hom verstaan dat daar iemand is wat vir hom omgee.

Ek het ook baie met hom gepraat – ek sing baie vals en het dus eerder vir Wynand stories vertel, soos Hansie en Grietjie. ’n Mens voel ’n bietjie simpel om daar te sit en dit te doen, maar dis goed vir jou baba en die ander ma’s doen dit in elk geval ook.

’n Wenk wat ek vir ma’s kan gee is om vriendskappe te smee met ander ma’s in die eenheid. Hulle is ál mense wat regtig verstaan wat jy beleef en julle kan mekaar ondersteun.

Sluit aan by ’n internet-steungroep vir preemie-ouers – daar is ’n paar op Facebook en Yahoo, plaaslik en internasionaal, en dis ’n ongelooflik koesterende bron van troos en kosbare raad en inligting deur mense wat in dieselfde bootjie is of was.

Skryf ook jou ervarings neer – begin ’n blog, neem baie foto’s, stuur gedurig vir ander mense nuus oor jou kind. Dis terapie vir jou en bied later baie spesiale herinneringe. Gun ook ontspantyd vir jouself; jy moet jou batterye herlaai hou.

Moenie na ’n dokter luister as hy sê jy moet 18 tot 24 maande wag voor jy bekommerd raak oor jou kind se moontlike agterstande nie. Neem hom ná sy ontslag vir evaluering deur ’n terapeut en pediater wat in neuroontwikkeling spesialiseer. Die beste ding wat ons gedoen het, was om lank voor Wynand se eerste verjaardag al met terapie weg te spring.

Veronika van den Berg, Johannesburg

Lia Amelie is op 32 weke gebore en het 1,1 kg geweeg. Die susters van die neonatale eenheid was engele. Hul deernis, omgee, kennis, humorsin en sagte harte het ons regop gehou. Ons het vriende met hulle gemaak en soveel moontlik by hulle probeer leer.

Dis egter belangrik om te onthou dat jy jou kind se ouer is en niemand anders daardie plek kan vol staan nie. Jou baba het jou nodig, al voel jy magteloos, bang en onbevoeg. Niemand kan haar liefhê soos jy haar liefhet nie, en dit is daardie liefde waarop sy floreer.

Dit help nie jy vra hoekom dit gebeur het nie, want jy sal nooit die antwoord kry nie. Hoe gouer jy vrede maak met die pad waarop jy is, hoe gouer kan jy fokus op dit wat die belangrikste is: jou wonderwerk-kind.

Bly fokus daarop om uit te melk, dit is waardevolle kos wat niemand anders vir jou baba kan gee nie. Begin ook so gou as wat jy kan met vel-teen-vel-kontak; dit is die beste vir jou en baba. Moenie bang wees om haar vas te hou nie, al lyk sy broos – leer net hoe om dit reg te doen.

Welma Lubbe se boek Prematurity – Adjusting your dream was van onskatbare waarde. Dit het elke denkbare vraag wat ek gehad het, beantwoord. Ek het ure langs Lia se broeikas gesit en lees. Dit het my bemagtig om ’n beter en slimmer mamma vir haar te wees.

Kry ’n “woordvoerder” – dit word oorweldigend om al die (goedbedoelde) telefoonoproepe en SMS’e te hanteer. My beste vriendin het ’n WhatsApp-profiel vir Lia geskep sodat ons kerk, vriende en familie by die groep kon aansluit en daagliks op hoogte gehou kon word van verwikkelinge.

Ek het vir haar gelees, gesing en vir haar vertel van haar boetie, sussie en die kat en hond wat by die huis vir haar wag. Bid sonder ophou en wees dankbaar vir elke dag saam met jou preemie.

Leonie De Jager, Centurion

Anneke (nou 3) en Konrad (nou 1) is albei op 36 weke gebore. Ek het gevind dat die susters in die NISE jou aanmoedig om kontak met jou baba te hê en daar is darem niks lekkerder as daardie klein paddalyfie wat teen jou bors opgekrul lê nie.

Moenie dat die vroeë geboorte jou uitkyk en ervaring van die wonderwerk ondermyn nie. Al is jou baba aan masjiene en drade gekoppel, beteken dit nie dat jy nie ’n band met hom gaan hê nie.

Die suster het my geleer om die masjiene “mis te kyk” en my babas te leer ken en agter te kom hoe hulle in sekere omstandighede reageer.

Ek het gesorg dat ek genoeg slaap kry. Jou baba het jou nodig en dis makliker as jy uitgerus is. Ek het ook gevind dat my melkproduksie beter was as ek uitgerus was.

Roetine was ook ’n moet vir my en my babas, want dit het my sekuriteit gegee. Ek het gesorg dat ek gereeld en op vasgestelde tye uitmelk sodat my baba met voedingstye borsmelk kon drink.

Dit is belangrik om gereeld gesonde maaltye te eet – jou baba is afhanklik van jou en jy moet jou eie immuniteit ook sterk hou.

Wat ook al gebeur, praat met die dokters en susters. Hulle ken die omstandighede en verstaan beter as enigiemand wat aan die gebeur is.

Moet nooit huiwer om hulle te vra as jy onseker is oor dinge of raad nodig het nie. Hulle deel graag hul ervaring.

Ons het van babagim te hore gekom en dele daarvan by ons babas se daaglikse roetine inge- werk om solank agterstande wat weens die vroeë geboorte kon ontstaan het, te begin oorbrug

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees