Terug werk toe - kenners gee raad
Jy is al gewoond daaraan om doodmoeg te voel en jou splinternuwe baba soos ’n boek te lees, maar nou het die tyd gekom om terug werk toe te gaan en jy bars nou nie juis van opgewondenheid by die vooruitsig nie. Gaan jy en jou baba oukei wees? Die meeste gesinne maak ’n aanpassingsfase deur wanneer ma terugkeer werk toe, sê Erica Neser, ouerskapsghoeroe en skrywer van verskeie boeke. “Soms is dit moeiliker vir jou as vir jou baba. As baba tuis by ’n versorger bly, sal sy slaappatroon moontlik minder beïnvloed word, want dis darem nog ’n bekende omgewing met iemand wat hy hopelik voor die tyd al leer ken het.” Baie ma’s gaan terug werk toe wanneer hul baba sowat vier maande oud is. Dis ongelukkig ook presies wanneer babas se slaappatroon effens onstuimig word, waarsku Erica. “Hulle word dikwels meer dikwels in die nag wakker, wil meer gereeld voed en is meer klouerig en huilerig as voorheen. As ma dan boonop bedags kantoor toe verdwyn, kan dit alles erger maak.” As jy borsvoed, kan dit gebeur dat jou baba bedags min uit die bottel wil drink en snags aan die bors wil inhaal. Dis uitputtend, maar byt vas, want dit duur nie vir altyd nie. Nagvoedings help ook om jou melkproduksie te bevorder en sorg dat jy en jou baba ’n bietjie ekstra tyd vir vel-tot-vel-aanraking en drukkies het, sê Erica. Daar is ook ’n moontlikheid dat jou kind se dagslaappatroon verander wanneer jy terugkeer werk toe, sê sy. “Baie ma’s probeer hard om hul kind voor die tyd in ’n roetine te kry wat soos die kleuterskool s’n verloop. Soms werk dit, soms nie. “As dit nie werk nie, ontspan en herinner jou daaraan dat jou baba wel sal aanpas. Dit help om te aanvaar dat die eerste paar weke ’n bietjie taai gaan wees. Dit sal mettertyd makliker word.”

Kies die regte versorger

  • Wie gaan na jou baba omsien? Wees 100 persent seker voor jy ’n besluit maak. As jy ’n kleuterskool of dagsorgplek kies, gesels met mense wie se kinders daar is. Is die plek geregistreer?
  • Gesels met jou versorger oor watter tyd jy haar kan kontak en in watter omstandighede jy by die werk gekontak kan word. Maak seker die versorger het nog iemand se nommer in geval van nood. Moenie elke uur bel nie!
  • As jy bekommerd is oor jou kind se voeding, doekruilings en slaaptye, kan jy die versorger vra om ’n rekord daarvan te hou.
  • Erica sê dit help as ’n mens vir die versorger of kleuterskool vertel watter tye en hoe lank jou baba gewoonlik slaap, en hoe jy hom normaalweg help om aan die slaap te raak. Moet egter nie omgekrap voel as hulle dinge anders doen nie. Die skool se roetine gaan jou baba se roetine beïnvloed en dis nie noodwendig ’n slegte ding nie.
  • As jou kind tuis bly, kan jy wel vra dat die versorger by die bestaande roetine hou. Dis egter in die haak as sy jou kind op ’n ander manier as jy aan die slaap maak, sê Erica. “Babas ontwikkel meestal verskillende assosiasies met verskillende plekke en mense. Hy kan byvoorbeeld leer dat hy by die skool op ’n matras aan die slaap raak, maar by die huis raak hy teen mamma se bors aan die slaap.”

VOEL GOED EN LYK GOED
Anrike van der Walt is ’n fiksheidsmodel, bootcamp-afrigter en ma van twee dogtertjies. Sy sê gereelde oefening en ’n goeie eetplan is die geheim om swangerskapsgewig af te skud, maar dis nie altyd maklik nie. Eet gereeld in die dag (elke twee tot drie uur) sodat jy jou metabolisme aan die gang, jou bloedsuikervlak stabiel en jou lus vir suiker en ongesonde kos in bedwang hou. Anrike stel voor jy berei die komende week se geregte oor die naweek voor sodat jy elke dag ’n gesonde kosblik kan inpak. Moenie ontbyt oorslaan nie en drink elke dag sowat twee liter water. Begin elke oggend met ’n glas water met vars uitgedrukte suurlemoen. “Al die spanning van die werk, slapelose nagte en die nuwe ma-verantwoordelikhede kan jou oorweldig laat voel. Sien goed na jou ook om. As jy goed en gesond voel, kan jy beter na jou kinders omsien. Probeer om minstens 20 minute drie keer per week te oefen – daar is talle oefeninge wat jy in die gerief van jou eie huis kan doen. Laai ’n toep af om jou met jou program te help.”

Wenke vir werksdinge

  • Wees georganiseerd. Kyk of jy voor jy begin al jou e-posse kan deurgaan en gesels met kollegas oor enige veranderinge aan jul werkomgewing, skedule of kantoorsake.
  • Gesels met jou werkgewer oor ’n plek waar jy kan uitmelk. Soek ’n skoon, rustige omgewing en stel ’n skedule op.
  • Kyk of jy die eerste week dalk ’n uur later kan begin of fleksietyd kan werk sodat jy stelselmatig by jou nuwe lewe kan aanpas. Moenie op ’n Maandag begin nie – dan kan die week baie lank voel!
  • Pak jou handsak en jou baba se sak die aand voor die tyd.
  • As jy altyd laataand by die werk gebly het, maar dit nou nie meer kan doen nie, moet jy dit op jou eerste dag terug duidelik maak.
  • Vra hulp as jy voel dat jy balle by die werk laat val.
  • Hou sake professioneel. Moenie van kollegas verwag om heeldag na babastories te luister nie. Maak seker dat jy al jou take verrig en nie van hulle verwag om in te spring as jy vroeg huis toe wil gaan nie.

Praktiese wenke

  • Dit gaan nie maklik wees om jou baba die eerste dag af te laai nie. Wees voorbereid op al die emosies en sorg dat jy genoeg snesies byderhand het.
  • Hou ’n foto op jou lessenaar om die afskeid makliker te maak.
  • Skuldgevoelens is normaal. Die meeste werkende ma’s voel skuldig, maar nie almal van ons kan tuisblyma’s wees nie. Al wat jy kan doen, is om jul tye saam regtig kosbaar te maak en die meeste daaruit te haal.
  • Stel ’n plan B op. Versorgers word siek en die lewe loop draaie – wat gaan jy doen as jou baba siek is?
  • Stel ’n roetine vas. Babas floreer met ’n vaste roetine en kry gou ’n nuwe een wanneer jy teruggaan werk toe.
  • Praat met jou maat oor wie wanneer in die nag opstaan sodat jy ook genoeg slaap kan kry.
  • Sit eie tyd opsy en versorg jouself.
  • Stel iemand aan om jou met huistakies te help.
  • As jy oor naweke skoonmaak, skuif jou baba van vertrek tot vertrek sodat julle steeds interaksie kan hê.
  • Kook oor naweke en vries. As baba eers kan eet, kook en vries kos in ysbakkies wat kan toemaak.
  • Hou maaltye eenvoudig. Maak sommer kos in ’n prutpot; dit spaar tyd in die aand.
  • Doen inkopies aanlyn.
  • Hang klere so op dat dit nie gestryk hoef te word nie.

KIKKER JOU VOORKOMS OP

Aletté-Johanni Winckler, ’n Kaapse voorkomskonsultant, stilis en ma van drie seuntjies, sê ’n baba is sekerlik die grootste geskenk, maar daar is altyd ’n prys om te betaal. “Nadat ek onderskeidelik 30 kg, 20 kg en 25 kg met my manne aangesit het, het ek agt maande ná die geboortes steeds swanger gelyk. Omdat ek ’n voorkomskonsultant is, was daar groot druk op my om vinnig weer goed te lyk.” Hier is haar wenke

  • Bykomstighede kan ’n uitrusting opkikker. Jy kan swart aantrek en bykomstighede kan die prentjie verander. Koop oorbelle wat die aandag na jou gesig en weg van jou maag trek. Teen die tyd dat baba daarmee gaan begin speel, is jou lyf weer normaal.
  • Sorg dat jou grimering en hare met sorg gedoen is. Hoe ’n mens aan die buitekant lyk, het ’n regstreekse invloed op hoe jy aan die binnekant voel. As jy dus moeite met jou hare en grimering doen, gaan jy klaar beter voel.
  • Moenie klere dra wat elke rolletjie wys nie. Dra sagte, vloeiende materiale wat los oor jou lyf val, maar steeds vorm wys.
  • “Ek wou nie groter klere koop nie, maar het op die ou end een mooi werkbroek en ’n paar bloesies gekoop wat ek afgewissel het. Moenie noodwendig jou swangerskapsklere dra as dit nie meer nodig is nie,” is Aletté-Johanni se raad.
  • Trek hakskoene aan wanneer jy terugkeer werk toe, al is dit wighakke. Dit sal jou langer en slanker laat lyk en meer in beheer laat voel. 
RAAKGEKOOP
Borsmelk-bêresakkies deur Pigeon R99,99 vir ’n pak van 25, Baby City, Baby Boom, Dis-Chem, apteke en takealot.com.
Pigeon