Liefdevolle aanraking is een van jou baba se grootste behoeftes en net so belangrik as voiding en slaap. Navorsing het al dikwels gewys dat babas wat nie genoeg daarvan kry nie, stadiger groei, makliker siek word en ’n verstandelike agterstand kan ontwikkel. Liefdevolle aanraking is egter instinktief vir die meeste ma’s. Waarom dan ’n stappie verder gaan met babamassering?

Babamassering gaan nie net oor die aanraking nie; dis wedersydse kommunikasie tussen ouer en baba, sê Margo Kilborn van die Internasionale Vereniging van Babamassering. Sy sê dit hou hope positiewe gevolge in ...

Dit smee ’n band

Tydens massering vorm ’n spesiale emosionele band tussen die masseerder en baba, en dis die rede waarom hulle ma’s oplei en nie self babas masseer nie, verduidelik Margo. “Ons bemagtig die ouer – dis ons grootste doelwit. Ons beskou die ma as die kenner en die baba as die onderwyser, want babamassering behoort ’n spesiale tyd tussen ma en baba te wees.” Dit geld ook pa’s. Een studie waarin pa’s ’n maand lank hul baba elke aand 15 minute lank masseer het, het gewys die pa’s het meer vreugde en warmte in hulle interaksie met hul babas getoon wanneer hulle met hulle speel.

Kalmer baba

Ons almal weet hoe lekker ontspanne ’n mens voel ná ’n goeie massering, en dit geld babas ook. In studies is bevind dat babas wat gereeld gemasseer is, laer vlakke van streshormone soos kortisol gehad het as babas wat nie gemasseer is nie, wat beteken dat babamassering stress by babas help verminder.

Gesondheidsvoordele

Massering hou ’n verskeidenheid fisieke voordele vir jou baba in, van verbeterde asemhaling en hormoonfunksie tot beter bloedsomloop, beter ingewandsfunksie en beter spiertonus en -koördinasie. Kenners reken dit kan ook help met koliek en kan krampe help verlig. Verskeie studies het ook al gewys dat vroeggebore babas wat ses maande lank gemasseer is, meer gewig aangesit het en beter ontwikkel het as ander vroeggebore babas. Nog ’n studie het gewys babamassering help dat vroeggebore babas beter reageer en gemiddeld vyf dae vroeër uit die hospital ontslaan word as babas wat nie gemasseer is nie.

Beter slaap

Watter ma van ’n baba begeer nie dat haar kleinding beter slaap nie? Navorsers het bevind dat babamassering babas en selfs peuters beter laat slaap. Een studie het ook bevind ’n daaglikse massering sowat 15 minute voor slaaptyd help kinders om vinniger aan die slap te raak. 

Rustiger ma

Massering maak nie net jou baba rustiger nie, maar ook vir jou. Dit bou jou selfvertroue as ouer omdat jy meer sensitief is vir jou baba se lyftaal. In studies is gewys dat ma’s wat nageboortelike depressie het, minder teneergedruk voel as hulle hul baba gereeld masseer en dat hulle ook beter met hul baba bind.