Gebeur dit dat jy soms teen vieruur die middag nog nie jou hare gekam het nie of nog jou pajamas aanhet en sukkel om die eenvoudigste taak af te handel? Babas is regte tydslurpertjies, en jy moet dus regstaan met slim tydspaar-taktieke om deur die dag te kom.

Benodigdhede byderhand

Slim beplanning spaar tyd. Lê jou babakamer so uit dat jy nie heen en weer hoef te skarrel om met bad- en doekruiltyd jou baba se goed bymekaar te kry nie. Jy moet net jou hand kan uitsteek na wat jy nodig het. As jy wel goed heen en weer moet piekel, bêre dit in ’n maklik draagbare houer wat jy kan optel en saamvat na waar jy dit nodig het.

Jou doeksak

Met ’n baba kan jy nie net gou in die motor spring en ry nie – dit verg fyn beplanning en tydsberekening om by sy skedule te pas. Sorg dus dat jou babasak altyd klaar gepak en gereed by die voordeur staan sodat jy net kan gryp wanneer jy moet ry. Pak benodigdhede daarin soos boudjieroom, fopspene, vogdoekies, ’n ekstra stel klere, doeke en sakkies om vuil doeke in weg te gooi. Party ma’s hou ’n ekstra doeksak met noodsaaklikhede permanent in die motor of het twee doeksakke wat hulle afwissel sodat een altyd gereed staan. As jy dit verkies om net een te hê, onthou om gebruikte items te vervang sodra jy tuis kom.

Skoon kombuis

As jy nie tyd het vir skottelgoed was nie, plaas ’n skotteltjie met seepwater langs jou wasbak en pak die vuil skottelgoed deur die dag daarin. Dan lyk jou kombuis netjies en saans was jy dit makliker.

Baba se kos

Maak baie kos op ’n slag gaar en vries dit in ysbakkies. Ontdooi ’n paar blokkies op ’n slag wat jou baba kan eet.

Die ekstra goedjies

Maak seker dat jy ’n ekstra stel klere inpak. Nog ekstras is ’n kombersie en spoegdoek vir jou baba – jy weet nooit watter glipsie wag nie!

Dra haar saam

’n Drasak waarin baba knus teen jou lyf sit terwyl jy jou hande los het om ’n paar takies af te handel, is vir baie ma’s ’n redding. Dit word ook aangemoedig vir binding tussen jou en baba.

Jassie vir ma

As jy beplan om uit te gaan, trek ’n los T-hemp oor jou uitgaanklere aan tot jy by die voordeur kom. Dit kan keer dat jy moet skoon aantrek nog voor jy gery het as jou kleinding onverwags op jou skouer oorkook.

Beperk aanlyntyd

As jy alleen tuis is met net jou baba, is aanlynkontak met die buitewêreld dikwels ’n redding. Stel egter maar ’n kookwekker as jy begin Facebook om te keer dat jy daar vashaak!

Verskeidenheid ruilstasies

In ’n groot of dubbelverdiepinghuis kan dit help om volledig toegeruste doekruilstasies in verskillende vertrekke te hê, veral daar waar julle die meeste tyd deurbring.

Aanlyn-inkopies

Inkopies met baba is tydrowend en uitputtend. Doen jou inkopies aanlyn – byna alle kettingwinkels het deesdae aanlynwinkels met afleweringsopsies.

Kook ekonomies

Kook dubbelhoeveelhede en vries die ekstra porsies. Eenskottel-geregte is vinniger en maak die skottelgoed minder. Enige bevrore gereg wat jy net in die oond hoef te druk, is nou ’n belegging. Of belê in ’n prutpot of drukkoker.

Kry ’n borsvoedstasie

Aan die begin kan dit voel of jy permanent besig is om jou baba te voed. Dis wonderlike bindingstyd, maar ook ’n goeie tyd om te rus of boodskappe te lees. Rig ’n gemaklike borsvoedingstasie in met iets te drinke, asook tydskrifte, jou tabletrekenaar, jou selfoon of die televisie-afstandbeheerder.

Lysies help

As poedingbrein inskop of ’n slaapgebrek jou van helder denke beroof, kan jy kosbare minute vermors terwyl jy probeer dink wat om te pak of te doen. Lysies help daarmee. Plak ’n lysie op met die standaarddinge wat byvoorbeeld in baba se doeksak moet kom – dit sorg dat jou maat ook die doeksak kan pak sonder om iets te vergeet.

Mandjies oral

Sodra jou kleinding begin kruip, kan speelgoed die huis vol lê. Plaas in elke vertrek ’n speelgoedmandjie waarin jy die speelgoed kan gooi wanneer julle klaar gespeel het.

Gee jou maat ’n kans

Moenie vir manlief vra om iets vir baba te doen en dan heeltyd oor sy skouer loer nie. Gebruik hierdie tyd nuttig elders.

Praktiese kleertjies

Sommige babaklere is pragtig, maar tydrowend om aan te trek. Los dit vir spesiale dae en trek klere aan waarin jy haar doek in ’n kits kan ruil.

Wees aanpasbaar

Pas aan by jou baba. Dis tydmors om te probeer kos maak as sy knieserig is. Gee eers aandag aan haar – jy kan later kos maak wanneer sy rustiger is.

Rus

Dit is werklik ’n goeie idee om te rus wanneer jou baba rus. Dit gee jou woema om later helder te dink en jou take vinniger af te handel.