Uit & tuis met jou borste

akkreditasie
Hoe gemaak as jy moet borsvoed terwyl jy en baba op pad is? Ma's deel hul menings.

Dis ’n ou debat: Is borsvoeding in die openbaar so normaal soos asemhaling, of is dit taboe wanneer dit nie agter ’n toe deur geskied nie?

Carla Cronjé, ’n trotse laktivis (laktasieaktivis) en mamma van drie, het in Januarie ’n Facebook-oorlog ontketen nadat sy ’n “geen borsvoeding”-plakkaat in die Wimpy op Hartswater in die Noord-Kaap gekiek het.

Sy het die foto op die groepblad van La Leche League Suid-Afrika (LLLSA) geplaas en verontwaardigde lede het op die gesinsrestaurant se blad protes aangeteken.

Binne ure het die franchise amptelik op FB en Twitter beloof om aandag aan die kwessie te skenk – en dit nogal om elfuur op ’n Saterdagaand. Volgens die hoofkantoor was “geen borsvoeding” nie nasionale beleid nie, eerder ’n geïsoleerde reël van die tak. Die plakkaat is die volgende dag verwyder en die betrokke bestuurder het op LLLSA se blad om verskoning gevra.

Die voorval het oornag van Carla ’n borsvoedingsheldin gemaak.

Ag nee, sies

Ondanks hierdie oorwinning was heelparty ma’s ontsteld oor die venynige aanval op nipping (die speelse afkorting vir nursing in public) op die internet en radio.

“Niemand sê ma’s moenie borsvoed nie, maar in die openbaar is dit ’n no-no,” het ’n Facebook-gebruiker op Wimpy se blad geskryf. “Om darem jou bors uit te haal terwyl ek eet … Nee, gaan asseblief kleedkamer toe, ek wil nie jou kaal borste sien nie.” Nog iemand het gesê: “As ’n ma nie in die toilet wil voed nie, kan sy tuis bly of uitmelk.”

Toe ma’s probeer uitvind wat dan so walglik aan borsvoeding is, het die hare gewaai. Kritici het laktasie met uitskeidingsprosesse vergelyk en moedersmelk met liggaamsvloeistowwe. ’n Man het gewonder waaroor die bohaai gaan: As ma’s hulself met ’n kombersie bedek, gee hulle mos nie aanstoot nie?

“My seuntjie wou in ’n stadium elke 20 minute drink, al het ek hom tuis gevoed. Eendag het ons verby ’n skool gestap waar ’n krieketwedstryd aan die gang was. Baba het so ’n bohaai opgeskop dat ek hom op die sypaadjie gevoed het – tussen ’n klomp seuns en mans. Hy het die tepel elke vyf minute gelos om na die wedstryd te kyk. Dit was ons laaste uitstappie in ’n lang tyd!”

Hanlie, op Facebook

Waarom wil jy dit dan doen?

MA’S DRING AAN OP HUL REG OM ORAL TE BORSVOED OM PRAKTIESE SOWEL AS SOSIO-POLITIEKE REDES.

  • Borsvoeding is natuurlik en moedig ander aan om te borsvoed. “Borsvoedende ma’s verdien juis aanmoediging,” meen Lauryan in ‘n Facebookgesprek. “Almal weet tog borsvoeding is die beste.” Pauline stem saam: “Daar is niks aanstootliks aan borsvoeding nie. As jy gril, kan jý ’n kombersie oor jóú kop gooi.”
  • Borste se primêre funksie is voeding en nie seksuele prikkeling nie. Ongelukkig is borste in ons samelewing só geseksualiseer dat openbare borsvoeding soms bestempel word as ekshibisionisme of naaktheid. Vreemd genoeg is plakkate van skamel geklede modelle alomteenwoordig in inkopiesentrums terwyl ma’s wat diskreet borsvoed, vuil kyke kry. “Van anatomie gepraat, kom ons vergeet vir ’n oomblik van borste,” skryf Karen op Facebook. “Die sternokleidomastoïed is ’n merkwaardige spier: Dit stel diegene wat nie gemaklik is met borsvoeding nie, in staat om weg te kyk. Gebruik gerus hierdie ingeboude liggaamlike app.”
  • Borsbabas het, soos bottelbabas en volwassenes, die reg om te eet wanneer hulle honger is. “Ek verstaan nie waarom mense hierdie basiese mensereg ontken nie,” redeneer Shanna. “Indien diereregte, seksuele oriëntasie of ras ter sprake was, sou hulle hul woorde versigtiger geweeg het. Daar lê ’n reuse opvoedingstaak vir ons voor.”
  • Borsbabas het die reg om in ’n gemaklike, higiëniese omgewing te voed. In Suid-Afrika is dit dikwels te warm om in die kar te sit of ’n baba onder ’n kombers te laat sweet. En wat van borsvoeding in onwelriekende toilette – of in inkopiesentrums se “voedingskamers” waar ma’s ook hul kleingoed se doeke ruil? Voorstanders van nipping se slagspreuk is: “As borsvoeding jou afsit, is jy welkom om jou kaasburger in die toilet te geniet”.

“In ’n vulkaan. Baba was poedelnakend – ons het in een van die warm poele geswem. Ook op treine, busse, vliegtuie, strande … ag, oral!”

Melinda, op Facebook

  • Borsmelk verteer binne 90 minute, dus kan mamma nie gou-gou tussen voedings uitglip nie, veral nie as sy op aanvraag voed nie. Vooraf uitmelk is soms nie ’n opsie nie, want sommige borsbabas aanvaar nie bottels nie. In die eerste ses weke leer ’n baba nog hoe om te borsvoed en kan bottels tot borsweiering lei. Boonop kan ’n ma nie haar melkproduksie afskakel wanneer sy uitgaan nie. Oorvol borste kan verstopte melkbuise of melkkoors veroorsaak en sy moet baba óf voed, óf iewers uitmelk en haar kosbare melk dan teen die regte temperatuur berg.
  • In ’n land met ’n onaanvaarbaar hoë kindersterftesyfer red borsvoeding lewens. Behoort ons borsvoeding dan nie te normaliseer nie? In Kanada word lewensgrootte kartonknipsels van ma’s wat borsvoed uitgestal. “Wanneer borsvoeding die norm is,” lui die byskrifte, “sal hierdie nie meer opmerklik wees nie.”
  • Kritiek teen openlike borsvoeding is ’n vorm van geslagsdiskriminasie. Wanneer borsvoeding in die openbaar verbied word, word vroue se vryheid ingeperk. Hierdie houding versterk die eeue-oue idee dat vroue tuis hoort: kaalvoet en swanger, óf in die wiegstoel agter ’n toe babakamerdeur.

Wat sê die reg?

Ná die Wimpy-voorval het ma’s op sosiale media bespiegel oor hul wetlike reg om op openbare plekke te voed. Kim Norton Jurgens, La Leche League-leidster, het geskryf: “Daar is geen wet téén openbare borsvoeding nie. Onbetaamlike ontbloting is onwettig, maar tensy jy jou bloes uittrek en jou borste rondswaai, gaan niemand jou tepels sien nie – jou baba se kop versteek dit.”

Hoewel geen wet jou die reg gee om oral te voed nie, is dit amptelike regeringsbeleid dat borsvoeding bevorder moet word. “Openbare borsvoeding kan dus nie ontmoedig word nie,” meen Kim, “tensy ma’s in huisarres geplaas word. Borsvoeding moet in die openbaar aanvaarbaar wees om te kan werk.”

“In ’n binneband op die rivier by Sun City se Valley of the Waves. Ek kon nie toemaak nie en het sommer my swemkostuum afgetrek.”

Julia

Hoe om diskreet en gemaklik oral te borsvoed

  • In die eerste paar weke terwyl jy en baba nog leer, kan dit moeilik wees om ongemerk te voed. Moenie moed verloor nie, binnekort is jy en baba ou hande. Intussen kan jy ’n kombersie oorgooi, ’n spesiale borsvoedmantel dra, baba in ’n drasak voed of ’n klerewinkel se aanpaskamer gebruik.
  • Oefen voor die spieël en eksperimenteer met verskillende posisies en kledingstukke.
  • Gee jou selfvertroue ’n hupstoot deur ’n La Leche League-vergadering by te woon. Dis ’n veilige atmosfeer waar jy kan oefen en sien hoe ervare ma’s dit doen.
  • Tweestuk-uitrustings werk beter as rokke. Dra los toppies wat jy van onder kan oplig eerder as kledingstukke met knope. Probeer ’n oopknoopbloes bo-oor ’n T-hemp dra sodat eersgenoemde jou bedek terwyl jy laasgenoemde oplig.
  • Jy sal waarskynlik ’n oomblik se privaatheid nodig hê terwyl baba aan die bors vassuig. Sodra hy lekker drink, sal sy gesiggie jou bors bedek. Stap na ’n stil hoekie in die winkel, draai weg, of sit agter in die restaurant.
  • Neem iemand saam wanneer jy die eerste keer uitgaan. ’n Ekstra paar hande om die doekesak te dra of ’n kombersie oor te gooi, is goud werd.
  • Leer ken baba se liggaamstaal. Wanneer sy honger is, sal sy haar koppie ronddraai, haar handjies suig en smakgeluide maak. Voed voor sy te honger raak – ’n skreeuende baba gaan alle oë op jou vestig.
  • Vermy oogkontak met vreemdelinge: Kyk na baba.
  • Doen wat vir jou en baba gemaklik is. As jy lekker onbedek voed, doen dit. ’n Kombersie of mantel maak borsvoeding eintlik meer opsigtelik. Ouer babas raak maklik prikkelbaar as hul gesiggie toe is; hulle wil eerder rondkyk of met ma loerspeletjies speel. Hou jou ouer baba fyn dop en haal haar van die bors af sodra sy belangstelling daarin verloor.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees