Van bors na bottel

akkreditasie
Daar is ma's wat dit regkry om hul babas net met die bors te voed. Maar as jy soos 80% van Baba & Kleuter se lesers 'n werkende ma is, sal jy jou borsmelk op 'n ander manier in jou baba se magie moet kry.

As jy weer ná jou kraamverlof begin werk, gaan jy en jou baba noodgedwonge vir agt tot 10 uur van mekaar geskei wees. Jou baba kan natuurlik nie vir so lank sonder voeding bly nie. Dis dan wanneer jy na die bottel of beker reik. Met ’n bietjie kennis en beplanning hoef die bekendstelling van ’n bottel nie traumaties te wees nie.

Beginsels voor jy begin

1. Borsmelk is en bly die beste voeding vir jou baba. Selfs nadat jy vaste kos begin bekend stel het, is borsmelk steeds in die eerste jaar die hoofbron van voeding. Al kan jy weens werkverpligtinge nie meer bedags borsvoed nie, kan jy gelukkig steeds sorg dat jou baba borsmelk kry.

Dit doen jy deur uit te melk. Vir jou eie gemoedsrus is dit raadsaam om ’n borsmelkvoorraad tuis te begin opbou sowat ’n maand voordat jy weer moet gaan werk. Jy kan ook by die werk uitmelk sodat daar altyd genoeg is vir jou baba. Jy is wetlik geregtig op tyd vir uitmelk.

2. Onthou ook dat borsvoeding belangrik is vir binding en jou baba se emosionele ontwikkeling. Moet dus nie onnnodig vroeg die bottel bekend stel en julle twee só van kosbare oomblikke saam beroof nie. Wees bewus daarvan dat gedeeltelike bottelvoeding kan inmeng met borsvoeding, en dat jou baba tyd aan die bors nodig het sodat jou lyf melkproduksie kan vestig.

Jy wil ten alle koste vermy dat jou baba die bors verwerp omdat sy die bottel begin verkies omdat dit makliker is om daaraan te suig. Jy kan ook koppievoeding oorweeg waar baba geleer word om uit ’n koppie te drink.

3. Maak ’n belofte aan jouself en jou baba om haar aan jou bors te laat drink op elke geleentheid waar jy kan: net voor jy werk toe ry, sodra jy tuis is, heelnaweek en in die nag ook as dit vir jou prakties is en as jou baba ’n behoefte het. Dit is die beste ding wat jy vir jou melkproduksie kan doen.

Hoe stel ek die bottel bekend?

Ma, in hierdie stadium moet jy die tydskrif aan jou man oorhandig, want jy gaan nie self die bottel bekend stel nie. Julle kans op sukses is veel groter wanneer iemand anders as die ma die een is wat die bottel bekend stel. Pa, onthou: Werk met baie liefde en groot geduld.

So maak jy:

  • ¬Hou jou baba snoesig op jou skoot – jonger babas geniet gewoonlik die halfregop posisie, terwyl ouer babas dalk sal wil regop sit.
  • Behou oogkontak en glimlag. Jy kan ’n ouer baba ’n bietjie met die bottel en speen laat speel.
  • Om die temperatuur van die melk te toets, drup ’n paar druppels aan die binnekant van jou pols. Die melk moet louwarm wees, en so twee tot drie druppels per sekonde moet uitvloei.
  • Hou die bottel teen ’n hoek sodat melk in die speen loop – nie lug nie. As die speen platval ná ’n rukkie van suig, trek die bottel effens uit sodat die speen weer kan vol loop. Jy kan ook die dop van die bottel bietjie minder styf vasdraai.
  • Bied die eerste keer ’n bottel aan wanneer jou baba nie te honger is nie en ook nie te vaak nie.
  • Ma moenie eers in die kamer wees nie.
  • Kielie jou baba se wang of lippe met die speen en wag tot hy dit self met sy mond begin vasvat.
  • Maak gerus die tiet ook warm deur warm water daaroor te laat loop.
  • Hou baba in verskillende posisies – op jou arm asof sy borsvoed, of op jou bene met haar gesiggie na jou, of op jou skoot met haar rug teen jou maag.
  • Wieg ’n bietjie terwyl jy die bottel gee.
  • Vryf winde uit as sy die tiet loslaat en nukkerig raak.
  • Dit kan ’n paar dae kos voor jou baba regkom met die bottel – moenie moedeloos raak nie. Bly rustig en probeer weer. Aanhouer wen. Gun julself tyd om dit reg te kry, sonder stres. Begin dus so twee weke voordat Ma moet terugkeer werk toe.

Moenie

  • ¬Moenie die bottel in baba se mond indwing nie. Voedings moet aangenaam wees, nie stresvol nie.
  • Moenie jou bekendstellingspoging langer as tien minute laat duur nie, sodat jy en jou baba nie te gefrustreerd raak nie. Probeer eerder môre weer.
  • Moet nooit jou baba in ’n posisie vasstut en haar alleen laat om self te suig nie, of die bottel teen ’n handdoek laat staan nie. Dit verhoog dramaties die risiko van oorinfeksies of verstikking. Onthou, dis goed vir jou baba om tydens die voedings met jou te bind.

Hou dit skoon

  • Was jou hande deeglik voordat jy met die bottel of uitmelktoerusting werk.
  • Sien toe dat al die toerusting deeglik gewas en gesteriliseer word. Gee veral aandag aan die spene, waar melk kan vassit.
  • Daar is verskeie steriliseringseenhede en -metodes op die mark. Lees die aanwysings noukeurig.
  • Moenie oorskietmelk weer verhit nie, want skadelike bakterieë kan daarin groei.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees