Spraak- en taalontwikkeling is van die belangrikste mylpale in vroeë kinderontwikkeling. Die meeste van ’n kind se toekomstige sosiale en verstandelike ontwikkeling hang van hierdie mylpale af. ’n Taalagterstand kan lei tot isolasie, frustrasie, leerprobleme, gevolg deur ’n lae selfbeeld en swak akademiese prestasie.

Hoe kan jy seker wees jou kind se spraak-en taalontwikkeling is op die regte vlak en hoe kan jy help om hierdie mylpaal die beste te bereik?

Baie mense glo kinders loop op een en praat op twee. Dit is egter nie so nie, want reeds op eenjarige ouderdom moet hulle al enkele woordjies kan sê. Die eerste drie jaar van ’n kind se lewe is die belangrikste tydperk om spraak en taal aan te leer. Dis dan dat kinders die taal van hul omgewing soos sponse absorbeer.

Binne drie jaar ontwikkel ’n kind van ’n baba wie se hooftaal huil is tot ’n parmantige kleuter wat met haar ouers debatteer! Kom ons kyk na die mylpale ...

WENK

Wanneer jy met jou baba gesels, moet jy onthou om soms klein tussenposes te laat, soos in ’n ware gesprek. Dit gee jou baba kans om te ‘antwoord’.

0-3 maande

’n Kind begin taal leer van die oomblik dat sy gebore word. Die vroegste kommunikasiegedrag word kort ná geboorte in haar oogkontak gesien (meestal wanneer mamma besig is om haar honger te stil), daarna volg die huilbuie (veral wanneer sy geleer het dat mamma dadelik aandag gee). Babas onder drie maande leer om na die bron van ’n geluid te draai en begin glimlag wanneer hulle ’n bekende stem hoor.

4-6 maande

Babas begin op dié ouderdom gewoonlik op die gevreesde woord “nee!” reageer. Hulle is ook in staat om veranderinge in stemtoon te herken en begin ook meer na ander klanke luister, soos die broodrooster wat opspring, speelgoed of masjiene wat geluide maak en voëltjies wat buite sing.

7-12 maande

Hierdie tydperk is gewoonlik baie opwindend en groot pret vir mammas, omdat hul baba nou duidelik luister wanneer iemand met haar praat of haar naam roep. Sy herken ook bekende name (mamma, pappa), asook eenvoudige voorwerpe soos sleutels. Dis nou dat baba dit baie geniet om na prentjies in ’n boek te kyk terwyl mamma die woordesê. Die lang verwagte enkelwoorde begin gewoonlik tussen nege maande en een jaar oud.

1-2 jaar

Jou peuter begin in hierdie tyd na liggaamsdele wys en kan selfs die eenvoudige dele opnoem (ogies, ore, neus, hande, voete). Hulle hou daarvan om dieselfde storie oor en oor te hoor en kan selfs eenvoudige kinder­liedjies saam babbel-sing of ’n liedjie of rympie voltooi wanneer mamma die laaste woord weglaat.

Ná 2 jaar

Vanaf omtrent twee behoort jou kind meer ingewikkelde tweedeel-bevele te verstaan (“gaan haal jou sokkies EN jou skoene”), en behoort sy haar eerste twee- tot driewoord-frases te begin gebruik.

Drie tot vyf jaar

Teen drie behoort sy reeds volle sinne te begin praat. Teen vier behoort sy goed te kan praat, hoewel sy nog sekere grammatikale foute kan maak. Teen vyf behoort sy haar basiese moedertaal te bemeester het.

Hoe ontwikkel taal?

’n Baba leer taal deur te luister na hoeander mense praat; daarom verstaan ’n kind (reseptiewe taal) baie meer as wat sy self in staat is om te sê (ekspressiewe taal).

Baie ouers glo taalontwikkeling is ’n natuurlike of outomatiese proses. Dit is ’n wolhaarstorie. As ’n kind nie die woorde hoor nie, kan sy dit nie leer en gebruik nie. Hoe meer ’n ouer met ’n kind praat en dieselfde woorde en dieselfde frases herhaal, hoe gouer sal die kind taalgebruik leer. Sodra ’n woord of frase genoeg kere herhaal is, word dit deel van die ekspressiewe woordeskat. Navorsing het gewys dat ’n kind wat begin praat, ’n woord sowat500 keer moet hoor voor dit deel van haar ekspressiewe woordeskat word.

Twee tale in die huis

Kinders word groot met verskillende tale wat in die huis gepraat word (Afrikaanse mamma, Engelse pappa en Afrikatalige dagversorger). Dit kan tot taalverwarring lei, veral as die een taal met die gepaard­gaande woordeskat en konstruksies nog nie goed vasgelê is nie. Dit is daarombelangrik om een taal te kies tot jou kind drie jaar oud is, wat die fondament gaan vorm om later ander tale te leer.

As jy egter wil hê dat jou kind al die tale magtig moet wees, moet jy net konsekwent wees. Mamma moet dus altyd net haar taal praat en pappa syne. Aanvaar egter dat taalontwikkeling dan stadiger kan wees.

In ’n geval waar mamma heeldag werk en die oppasser nie die ouers se taal praat nie, sal in die naweek ekstra aandag gegee moet word en sal die kind fyn dopgehou moet word om seker te maak dat taalmylpale wel gehaal word.

Probleme? Begin by gehoor

Een van die grootste hindernisse in die ontwikkeling van taal en spraak is middel­oorontsteking in die vroeë kinderjare.

Wanneer daar vog in ’n kind se middel­oor is, verhinder dit haar om alle spraakklanke (veral die lae klanke soos b en d) duidelik te hoor.

Ouers dink dikwels dat hul kind kan hoor as sy op geraas reageer, maar dit is nie waaroor dit gaan nie. Vog in die middel­oor veroorsaak nie algehele doofheid nie, maar lei dikwels tot ’n gehoorverlies waar net 30 tot 40 persent van ’n woord gehoor kan word. Die kind hoor dus nie die regte uitspraak van woorde nie.

As jou kind dus minder as ander praat, woorde aanhoudend verkeerd uitspreek of dalk harder as die ander maatjies praat, kan jy gerus die huisdokter of pediater raadpleeg om te kyk of daar nie vog in die middeloor is nie. Dit kan tot drie maande duur voor vog ná ’n oorinfeksie verdwyn.

As jy steeds bekommerd is, laat ’n oudioloog ’n volledige ge­hoortoets doen. Oudioloë sal jou ook sê of dit tyd is vir ’n spraakterapeut en of jy eers met terapie moet wag.

Sorg ook dat jy by geboorte, sommer in die hospitaal nog, die gehoortoets laat doen wat sal vasstel of jou kind se koglea werk.

Luister na jou moederhart! Stel onder­soek in as jy dink daar is ’n probleem met jou kind se taal. Moenie luister na mense wat vertel dat alle seuntjies in jul familie stadig leer praat het nie en toe op drie jaar oud skielik die hele Pharos kon opsê nie!

Help spraak só

Dis belangrik om ’n omgewing te skep waar ’n kind taal op ’n natuurlike manier kan aanleer. Dit beteken dat daar nie druk op jou kind moet wees waar iemand heeltyd verwag dat sy iets sê nie – taal moet speel-speel aangemoedig word.

Moenie baie vrae vra nie, soos “wat is dit?” – vertel jou kind eerder wat iets is, gee ’n voorbeeld en laat hulle dit dan herhaal.

Ouers behoort van die dag van geboorte af met hul baba te praat. Sommige mammas het ’n stil en teruggetrokke geaardheid. Ander dink weer dis verspot om met hul babas te praat omdat hulle nog nie kan verstaan of reageer nie.

Hoe meer jy praat, hoe beter is jou kind se kans om taalvaardig te raak. Noem al die liggaamsdele op terwyl julle doek ruil, sing die robotliedjie (ek ry met my rooi motorkar en saam ry ook my pop …) as julle by ’n verkeerslig kom, en supermarkte verskaf gulde geleenthede om kleure en voorwerpe op te noem.

Elke keer as jy kos maak kan jy jou kind se wiskundige taal verbeter deur hoeveelhede op toe noem: ’n vol koppie meel, ’n teelepel bakpoeier en ’n halwe koppie meel.

Daar is fantastiese boeke met prentjies waar jy saam met jou kind al die diergeluide kan opnoem (die moeilikste is om soos ’n olifant te trompetter).

Moenie babataal praat nie en praat met jou baba asof sy elke woord verstaan! In navorsing is bevind dat die ken van kleuterrympies op die ouderdom van drie ’n betekenisvolle verskil maak aan ’n kind se lees- en luistervermoë.

Behalwe dat jy soveel moontlik met jou kind moet gesels, moet jy ook soveel moontlik vir haar lees. Ruil boeke met vriendinne uit of sluit by ’n biblioteek aan.

As ’n kind na stories luister, word nie net taalvaardighede ontwikkel nie, maar kreatiewe denke word gestimuleer, aandagspan word verleng, woordeskat word uitgebrei en taalstruktuur en sinskonstruksies word op ’n natuurlike manier versterk.

Jou baba se spraak- en taalontwikkeling is ’n opwindende reis; maak dus jou kar vol prenteboeke, liedjies en rympies, en geniet die avontuur!

Rooi ligte

Een van die belangrikste tekens van outisme is ’n gebrek aan of regressie in taalontwikkeling. Daar sal egter ook ander tekens wees soos ’n gebrek aan oogkontak en ’n geneigdheid om dieselfde gedrag oor en oor te herhaal, soos om blokkies altyd dieselfde uit te pak. Kinders met outisme sukkel om by nuwe situasies of roetines aan te pas, het dikwels spesifieke kosvoorkeure, reageer nie wanneer hul naam geroep word nie, roer nie kommunikasie aan nie, rig nie versoeke nie en lyk asof hulle ander mense en die omgewing uitskakel om in hul eie kokon te wees.


Meer oor die skrywers van dié artikel

Dr. Estie Meyer is ’n ma van twee en ’n oor-neus-keelarts by die Groote Schuur-hospitaal en Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad. Silva Kuschke is ’n spraakterapeut en ou­dio­loog en departements-hoof by die Rooikruis-kinderhospitaal.