Vat koliek vas

akkreditasie
As jou pap baba koliek het, moet jy maar op jou tande kners en wag tot die koliekmaande oorwaai. Daar is wel 'n paar dinge wat jy kan doen om hierdie fase vir jou en jou pasgeborene makliker te maak.

Is dit koliek?

As jou gesonde baba elke dag ontroosbaar huil, is daar ’n kans dat dit koliek kan wees. Tipies begin koliek binne die eerste vier weke ná baba se geboorte en klaar dan weer teen ongeveer 16 weke op. Dit word gekenmerk deur ’n gehuil wat minstens drie of meer uur per dag aanhou, minstens drie keer per week voorkom en minstens drie weke lank duur. Die res van die dag kan botter gewoonlik nie in haar mond smelt nie en is sy gesond en gelukkig.

Jou koliekbaba...

  • huil hard, intens en ontroosbaar. Dit begin gewoonlik laat in die middag of vroeg in die aand en kan ure lank aanhou.
  • trek dikwels haar knieë op tot teen haar bors en maak haar ruggie krom.
  • se magie voel hard en lyk effens opgeswel.
  • hou haar asem op of word rooi in die gesig.

Dokters en kenners meen koliek is nie naastenby so algemeen as wat ma’s glo nie. Moet dus nie net aanneem ’n baba met dié simptome het koliek nie – laat die dokter liewer daaroor besluit.

Die presiese oorsaak van koliek is nog onbekend, maar wetenskaplikes reken dat daar ’n verskeidenheid oorsake is wat van baba tot baba kan verskil.

Dokters besef ál meer dat spysverteringsprobleme nie noodwendig die hoofoorsaak van koliek is nie, en dat temperament, omgewing en ’n onvolwasse immuunstelsel alles ’n rol kan speel.

Help jou baba so

Onthou dat niks wat jy doen, heeltemal van die koliek ontslae sal raak nie. Dít gebeur eers as jou baba se stelseltjie volwasse genoeg is om self tot bedaring te kom.

Daar is egter ouers met ervaring en professionele mense wat jou baba deur hierdie tyd kan help – vra rond! Kyk uit vir patrone in jou baba se huilery; dit kan belangrike leidrade gee oor wat kan help. Beproef ’n oplossing ’n paar dae lank om te kyk of dit werk. Hou jou oë oop vir enige teken van verbetering.

Borsvoeding:

As jy borsvoed, voed op aanvraag. Doen dit vir voeding sowel as troos en so gereeld as wat jou baba ’n kalmerende invloed nodig het. Voed in ’n rustige atmosfeer. Loop lig vir kos wat baba winderig kan maak.

Skakel een moontlike oorsaak ’n paar dae lank uit en kyk of jy ’n verskil sien. Die algemeenste oorsake van ontstelde magies is suiwelprodukte, kafeïen, kool, broccoli en ander groente wat winde veroorsaak. Moet egter nie aanneem dat die skuldige kossoort – as daar een is – ’n tipiese sondaar is nie.

Winde uitvryf:

Eksperimenteer met hoe gereeld en wanneer jy windjies uitvryf. Daar is ’n verskeidenheid posisies wat jy kan uittoets; kies die een wat die beste vir julle werk.

  • Oor jou skouer. Hou jou baba met sy lyfie regop teen jou bolyf sodat sy koppie op jou skouer rus en sy boudjies deur jou arm ondersteun word. Tik of vryf sy rug dan sagkens met jou ander hand. Dit is dikwels die maklikste posisie om ’n wind uit te kry, aangesien jou baba se lyf reguit en regop is.
  • Regop sit. Laat sit jou baba op jou skoot sodat sy gesig sywaarts kyk. Sy lyf moet effens vorentoe leun en sy kop moet teen jou voorarm gestut wees, terwyl jou hand hom onder sy skouer weg van jou vashou. Vryf ferm, maar sagkens opwaarts of tik sy rug liggies met jou ander hand.
  • Gesig na onder. Laat jou baba met sy gesig na onder op jou voorarm lê, met sy bolyf hoër as sy beentjies. Vryf sy rug met ferm opwaartse bewegings met jou ander hand.

Beweeg:

Skaf ’n slingersak of drasak aan vir tye wanneer koliek opvlam. Jy kan jou baba ook in ’n stootwaentjie stoot. As die weer te sleg is vir ’n uitstappie, stoot hom in die huis rond, of stap met jou baba in jou arms in ’n stil en donker kamer terwyl jy neurie of sing. Nog ’n opsie is om jou baba in ’n wiegstoel vas te hou of in ’n swaai te plaas. Jy kan jou baba ook vir ’n motorrit neem.

Hitte:

Gee jou baba ’n warm bad of plaas ’n handdoek of toegedraaide warmwatersak op sy magie. (Maak net baie seker dis nie te warm nie.) ’n Ander plan is om hom met ’n warm kombers toe te draai.

Massering:

Hou jou baba met sy beentjies teen sy magie opgekrul, masseer sy magie of gee ’n volle lyfmassering. Probeer ook om jou baba op sy magie op jou skoot te laat lê en masseer of gee ligte kloppies op sy rug. Lê op jou rug en lê jou baba op jou maag neer terwyl jy sy ruggie masseer. Sit hom in die bed wanneer hy slaap.

Stimulasie:

Stimulasie Probeer jou baba bedags weghou van hoogs stimulerende situasies waar sy sintuie oorlaai kan word, en hou in gedagte dat uiters besige dae veeleisende nagte kan beteken. Speel vertroostende musiek of skakel wit geruis aan soos die stofsuier of lopende water, of speel ’n CD met natuurklanke.

As koliek jou onderkry...

Net so moeilik as wat koliek vir jou baba is, so uitmergelend is dit vir jou – veral as jy ander kinders ook het om na om te sien, as jy pas terug is by die werk, of as jy aan nageboortelike depressie ly. Hier is ’n paar dinge wat jy kan doen om van die stres uit koliektye te haal:

  • Weet dat jou baba in sy koliektyd sal huil en dat, terwyl jy dinge kan doen om hom gemakliker te maak, daar niks is wat jy kan doen om hom heeltemal te laat ophou huil nie. Die koliek is nie as gevolg van enigiets wat jy doen of nie doen nie.
  • Beplan uitstappies vir tye van die dag wanneer jou baba gewoonlik gelukkig is. As uitstappies hom gelukkig maak, beplan dit vir koliektye.
  • Gebruik iemand anders se aanbod om ’n bietjie na jou baba om te sien, selfs al is dit net sodat jy ’n stil bad of stort kan geniet. Herinner jou gedurig daaraan dat dit tydelik is en dat koliek sal verbygaan.
  • Moenie die heeltyd doenlysies opstel en uitvoer nie; doen net wat belangrik is.
  • Praat met ander ouers wat ook koliekbabas het sodat julle idees kan uitruil en mekaar kan troos.
  • As jy die huilery nie meer kan verduur nie en kwaad of angstig raak, sit jou baba in sy wiegie of gee hom vir iemand anders om vas te hou sodat jy hom nie per abuis skud of seermaak nie. ’n Baba wat geskud word, kan permanente breinskade opdoen. As jy blind van woede word – en koliek kan dit aan jou doen – sit jou baba liefs neer.
  • Besef dat babas geen langtermynskade van koliek oorhou nie.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees