Besluit op ’n kamer

Naby of ver van jou kamer af? Dis die eerste besluit wat jy oor die babakamer sal moet neem, en dis meestal ’n hoogs persoonlike besluit. Sommige ouers hou daarvan om te weet die babakamer is naby, ander verkies dit weer ver sodat hulle nie wakker word van elke klein babageluidjie nie. Die rigting waarin die babakamer se vensters wys, is egter belangriker as die afstand van jou kamer af. In Suid-Afrika kan ’n kamer met groot vensters aan die suidekant van jou huis te koud word. Die ideaal is ’n kamer met vensters wat noord wys. Moet ook nie vergeet van die bure se braaiplek of erger nog, hul hondehok nie. Jou baba gaan in daardie eerste paar maande baie slaap en ’n aanhoudende geblaf of skielike harde musiek kan hom wakker hou.

Voor jy op ’n babakamer besluit, is dit ’n goeie plan om self ’n nag lank in daardie kamer te slaap. Hoe anders gaan jy weet van die raserige warm­watersilinder in die dak of ’n pyp wat reg langs die muur afloop en ’n onaardige geluid maak elke keer as iemand die stortkraan oopdraai? En wie sou ooit kon raai die straatlig skyn net mooi by daardie kamer in?Wees ook op die uitkyk vir ’n moont­like trek in die kamer.

Die vensters

Gevoerde gordyne wat lig uithou sal die kamer donkerder maak en jou baba herinner aan die baarmoeder, wat sy aanpassing in sy nuwe wêreld ’n bietjie makliker kan maak. Gordyne wat die lig uithou sal daardie allerbelangrike dagslapies ook aanhelp.

Die bababed

Die bababed is sekerlik die belangrikste meubelstuk wat julle vir jul bondeltjie gaan koop. Vergeet eers van voorkoms en funksie – veiligheid is belangriker. 

Hier is ’n paar wenke

  • Dit behoort diep genoeg te wees om te keer dat jou baba later uitklim. Die openinge tussen die sparre moet klein genoeg wees dat jou baba nie daardeur kan val nie.
  • Een van die kante van die bedjie moet verkieslik kan oopmaak of -skuif sodat jy jou baba maklik in en uit kan tel. Maak seker die meganisme is van so ’n aard dat ’n ouer kind dit nie sommer kan oopmaak nie.
  • Maak seker die bed is met loodvrye verf geverf. Die meeste nuwe beddens sal aan dié vereistes voldoen, maar ’n ou of antieke bed dalk nie.
  • As julle ’n opslaan- of kampbedjie wil koop, maak seker dit het ’n sterk basis en gebruik net ’n matras wat vir die bed aanbeveel word.
  • Speelgoed hoort buite die bababed – selfs sagte speelgoed – want jou baba kan maklik daarin versmoor. Maar as dit dan nou moet, laat teddie eerder aan die voetenent van die bababed sit en nie by jou baba se kop nie. 

Hou die bed weg van:

  • gordyne of blindings, want jou baba kan later albei van dié in die hande kry en dalk verstrengel raak,
  • muurverwarmers,
  • sonnige of koue vensters,
  • vensters wat kan oopmaak, en
  • spieëls of enigiets anders wat swaar is en hang en dalk op jou baba kan val.

Die vloer

Dis nou tyd om oor die binnekant van die kamer te besin. Hoe lyk die mat? Moet dit dalk vervang word? Matte versamel stof en stof is ’n algemene allergeen. As julle die kamer ’n nuwe vloerbedekking wil gee, oorweeg ’n houtvloer met los matte. Hierdie soort vloer word makliker skoongehou en los matte kan meer gereeld vervang of omgeruil word.

Jou kombers en my matras

Die besluit oor die bed is een ding. Daarna moet jy die regte beddegoed koop.

Maak seker...

  • Die matras is nuut en nommerpas vir die bed wat julle gekoop het (en onthou om die plastiekomhulsel om die matras te verwyder). Daar behoort nêrens ’n gaatjie of gleuf te wees waar ’n baba-arm, -been of -kop kan inglip en moontlik vassit nie.
  • Dis ’n matras met gate aan die een kant.
  • ’n Babakussing is onnodig.
  • Die matras is ferm.
  • Die beddegoed is dun en van rekkatoen. Gebreide of gehekelde komberse soos dié wat jou ouma maak is wonderlik, want dit hou jou baba warm en sal hom nie laat oorverhit nie.
  • Spesiale babaslaapsakke is ’n blink plan want babas kan hulleself nie dieper daaronder inwikkel en so ’n stuk lap oor die kop kry nie. Jy hoef ook nie die slaapsak uit te trek vir nagvoedings of doekruilsessies nie. Kies ’n slaapsak wat gepas is vir jou baba se ouderdom en maak seker dit het nie ’n hoedjie nie.

Bly weg van ...

  • Sagte beddegoed soos duvets, want dit word met wiegiedood verbind.
  • Waterbeddens, skaapvelkussings, boontjiesakke en ringkussings. Dit is nie geskikte slaapplek vir babas nie.
  • Elektriese komberse.
  • Bababedbeskermers (cot bumpers) help jou baba teen die harde sparre beskerm. Kies een met mooi prentjies, maar hou in gedagte dat ’n veilige een genoeg strikkies moet hê om dit stewig aan die sparre vas te maak en dat dit die bed soos ’n handskoen moet pas. 
  • As julle las het van muskiete in die somer, is ’n muskietnet ’n goeie idee. Die soort wat uit die plafon val, werk goed maar jy kry ook ’n spesiale soort wat op bababeddens gemonteer word. 

Die mure

Die kleur van ’n babakamer is baie belangrik. Hoewel babas baie van helder kleure hou, moet ’n mens hul kamer liefs nie te vrolik versier nie, veral nie aan die begin nie. ’n Babakamer moet ’n kalme­rende invloed op jou baba hê. Kies liewer gedempte kleure met min kontras.

Bababeligting

Hoe skyn die son bedags in die kamer? Is dit te fel? Die gordyn of blinding wat jy kies, asook die posisie van die bababed, sal daardeur beïnvloed word. 

’n Nagliggie of ’n lig met ’n doofskakelaar is ook ’n goeie plan. So kan jy jou baba in die donker kom voed sonder om oor iets te struikel én die omgewing kalm hou terwyl hy drink. 

Oppas vir ’n staanlampie op sy doekruilstasie, want die lampie skyn dalk regin sy ogies terwyl sy doek daar geruil word.

Vir die ore

Witgeraas en baarmoedergeluide kalmeer baie klein babatjies. Dit kan hulle help om rustiger te slaap omdat die omgewing bekend klink. Koop witgeraasmusiek, musiek met baarmoederklanke of Barokmusiek. Laasgenoemde het glo ook ’n kalmerende invloed op babas. 

Die regte temperatuur

Babas wat heelnag onrustig is, kan te warm of koud kry. Maar hoe weet jy wat die regte temperatuur is? Volg dié riglyne:

  • Wat reg is vir jou, is meestal ook reg vir babas. Sowat 20 tot 23 °C is die ideaal. Die babamonitor sal die temperatuur in die babakamer op die skerm wys.
  • Moenie jou baba te warm aantrek met slaaptyd nie. Babas kry gou te warm.
  • Maak seker die kamer is goed geventileer, met ander woorde dat dit deur die dag en nag genoeg vars lug kry.
  • ’n Waaier kan ’n warm kamer goed afkoel, maar moet dit nie op jou baba laat blaas nie. Onlangse navorsing het gewys babas wat in kamers met draaiende waaiers slaap, het ’n skraler kans om weens wiegiedood te sterf. Dit is blykbaar omdat waaiers die lug laat rondbeweeg en dus die gevaar van herinaseming baie verminder. 

Monitor haar

Die meeste babakamers het deesdae ’n babamonitor. Dit maak ma en pa se lewe baie makliker, want jy weet presies wat in daardie bedjie aangaan. Eers was dit net die geluide uit die kamer wat gemonitor is sodat jy duidelik kan hoor as jou baba huil. Nou kry jy ook monitors met ’n kamera wat jou toelaat om jou baba op ’n klein televisieskerm dop te hou. 

Sensorkussings (wat tussen die basis van die bababed en die matras geplaas word) laat weer ’n alarm afgaan wanneer jou baba vir ’n vasgestelde tydperk (mees­tal sowat 20 sekondes) geen beweging toon nie.

Is daar plek vir jou?

Die een of ander tyd in jou kindjie se lewe gaan sy wil hê jy moet naby haar slaap, al is dit eers later wanneer jy moet slaapstories lees of as sy in die nag wakker skrik van ’n nare droom, of as sy siek is. Maak dus seker daar is plek vir jou ook in die babakamer, hetsy ’n gemaklike stoel (wat veral belangrik is as jy beplan om te borsvoed) of ’n enkelbed.