Moenie wag tot jou rakkertjie begin rondseil voor jy ’n plan maak nie. Dan is dit te laat, want ongelukke tuis is een van die grootste oorsake van dood by kleintjies onder vier jaar. Begin deur te probeer vasstel watter ongelukke die waarskynlikste sal voorkom en wat jy kan doen om dit te keer. Selfs dán beteken dit nie dat ongelukke nie sal of kan gebeur nie. Die beste manier om jou huis te begin beveilig is om op jou knieë in elke vertrek te gaan sit en uit jou baba se oogpunt daarna te kyk. So sien jy raak wat hy sal raaksien en wat sy belangstelling sal prikkel.

In die kombuis

  • Pak giftige stowwe en skoonmaakmiddels in ’n kas wat buite jou baba se bereik is.
  • Bring knippe aan al jou laaie en kasdeure aan sodat jou baba dit nie kan ooptrek en haar beseer nie.
  • Sorg dat al jou potte en panne se handvatsels na binne wys wanneer jy kos maak sodat jou baba dit nie kan raakvat en op haar omkeer nie. Kies die agterste twee stoofplate.
  • Dis nie ’n goeie idee om magnete op die yskas te plak nie. As dit sou afval en breek, kan jou baba dit optel en in haar mond sit en dan moontlik verstik of dit insluk.
  • Was die bottels van jou skoonmaakmiddels uit voor jy dit in die vullisblik pak. Selfs net ’n druppeltjie daarvan is vir jou baba gevaarlik.

In die badkamer

  • Verwyder alle seep, skeermesse en sjampoe van jou badrand af.
  • Plaas ’n rubbertuit oor die bad se krane sodat jou baba hom nie per ongeluk daarmee kan brand of sy kop daarteen stamp nie.
  • Moet nooit jou baba in jou arms vashou terwyl jy uit die bad klim nie. Jy gly dalk.
  • Bring knippe aan die toilette se deksels aan sodat dit gesluit kan word.
  • Hou medisyne op ’n plek waar jou baba dit nie in die hande kan kry nie. Pak dit ook dadelik weg nadat jy dit gebruik het.
  • Moet nooit na medisyne as lekkers verwys nie en probeer om nie jou eie medisyne voor jou baba te drink nie.
  • Maak seker dat jou badkamers se deure van buite oopgesluit kan word ingeval jou kind hom binne toesluit.

In die babakamer

  • Moenie swaar goed bo jou baba se bed hang nie.
  • Heg speelgoed in jou baba se bed aan die muur se kant vas sodat jou baba haar nie daarteen kan optrek en so uit haar bed val nie.
  • Moenie verwarmers naby die bababedjie plaas nie.
  • Moet liewer nie ’n kussing gebruik vir ’n baba jonger as ’n jaar nie.
  • Moenie speelgoed wat te groot is in die bababedjie sit nie. Jou nuuskierige kleinding kan daarop klouter om uit die bed te probeer kom.

In en om die huis

  • Installeer veilige relings op die trappe of balkonne waar baba kan afval. Die relings moenie te wyd uitmekaar wees sodat jou baba kan deurkruip nie, en jou baba se kop moenie daar deur kan steek en vassit nie.
  • Installeer hekkies aan die bo- en onderkant van trappe.
  • Alle elektriese drade – van die telefoon, rekenaar, lampe en ander toestelle – moet buite jou baba se bereik wees.
  • Lampe op lang staanders kan deur jou baba omgetrek word en op hom of deur ’n venster val. Pak dit tydelik weg of sit dit op ’n plek waar dit deur ander meubels versper word.
  • Bedek kragpunte om te keer dat jou baba sy vingers daarin druk.
  • Hou alle vullisblikke toegeknip en buite jou baba se bereik.
  • Batterye hou ’n gevaar in. Die batteryholte van speelgoed, afstandbeheerders en alles wat met batterye werk, moet stewig toegemaak kan word – verkieslik met skroefies. Beskou ’n ingeslukte battery as ’n mediese noodgeval.
  • Gebruik deurstuiters sodat jou baba se vingers nie in die deuropening of by die skarniere vasgeknyp kan word nie.
  • Hou jou baba weg van potplante aangesien sommige plante giftig is en jou baba aan die blare kan verstik. Daar is ook ’n moontlikheid dat hy die hele potplant op hom kan omkeer.
  • Moenie plastieksakke in die huis laat rondlê nie. Jou baba kan dit kou en daaraan verstik of dit oor sy kop trek en versmoor.
  • Hou noodnommers van jou dokters, die naaste gifbeheersentrum en die hospitaal by jou telefoon. Die nommer van die 24-uur gifinligtinghulplyn is 086 155 5777.
  • Tafeldoeke wat laag van die tafel afhang kan deur jou baba vasgegryp word en hy kan alles van die tafel aftrek en op hom omkeer.
  • Oefenapparaat is gevaarlik omdat babas hul vingers in die speke of ratte van ’n fiets kan vasknyp of gewigte op hulself kan aftrek.
  • Glaspanele in koffietafels kan onder jou baba se gewig breek sou hy daarop klouter. Verwyder dit eerder of vervang die glas met iets sterkers.
  • Hou jou kind weg van glasdeure en ander voorwerpe met glas in, soos fotorame en losstaande spieëls.
  • Hou jou troeteldiere se kos op ’n plek waar jou baba dit nie kan bykom nie.
  • Belê in meer as een soort swembadbeveiliging, soos ’n heining én ’n net of seil, asook alarms. Visdammetjies en enige oop water moet ook beveilig word.
  • Swaar meubelstukke soos ’n boekrak moet verkieslik teen die muur vasgesit word sodat jou baba dit nie probeer uitklim en dan op hom omtrek nie.
  • Bedek die skerp hoeke van meubels met spons of iets soortgelyks om gevaarlike stampe teen die kop te voorkom.

In die bad
Moet nooit ooit jou baba of kind alleen in die bad los nie. Kry alles wat jy nodig het vooraf gereed. Tap altyd eers die koue water in en dan die warm water om te voorkom dat ’n kind per ongeluk brand en ook dat die kraan te warm raak. ’n Badstoeltjie en rubbermatjie kan help dat jou kind nie omdop nie.
Het jy geweet?
Selfs al probeer jy hoe hard, kan jy nooit jou huis volkome beveilig nie.
Dreambaby se Liberty Doorway Gate R749,99, Baby City, takealot.com, Baby Group en theshoppingcart.co.za
Safety 1st se Portable Bed Rail R749,99, Dis-Chem en Baby City.
Safety 1st se Finger Pinch R39,99, Pick n Pay en Baby City.
Safety 1st se Swing Shut Toilet Lock R34,99, Pick n Pay en Baby City.
Dreambaby se Cabinet Sliding Lock R39,99, Baby City, takealot.com, Baby Group en theshoppingcart.co.za.
Dreambaby se Foam Corner Cushions R89,99 vir ’n pak van vier, Baby City, takealot.com, Baby Group en theshoppingcart.co.za.
Dreambaby se Outlet Plugs R39,99 vir ’n pak van 12, Baby City, takealot.com, Baby Group en theshoppingcart.co.za.