Die gesig van ’n woes bebaarde Sweedse pa wat salig slaap met die piepkleinste van vroeggeborenes op sy bors in
’n hospitaalbed in Uppsala, is nie ’n beeld wat hom sommer laat oplos in die niet van vlietende gedagtes nie. Klein Peter is op 25 weke gebore, het 520 gram geweeg en was gekoppel aan ’n magdom pype en dinge.

Teen 27 weke het hy reeds 100 g aangesit – ’n allemintige hoeveelheid vir die handgrootte wesentjie. ’n Dekade of twee gelede was dit skaars moontlik om ’n vroeggebore baba van 26 weke deur te haal. Peter het ’n voorsprong.

Sy pa is ses tot agt uur per dag sy broeikas wanneer sy ma se agtuur-skof verby is. Op 27 weke kan Peter al oogkontak maak en ná die 75 sekondes wat dit duur om hom van die broeikas of sy ma na sy pa se bors oor te plaas, is hy dadelik stabiel. Sy pa se vel hou hom warm, gemaklik en bied die nodige koestering wat hy eintlik nog in die baarmoeder moet hê.

’n Pa wat vel-tot-vel-kangaroesorg op ’n vroeggebore baba toepas, is nie iets wat aldag gesien word nie – maar dis uiters suksesvol.

Moet egter nie dink dat hierdie sorg net vroeggebore babas beskore is nie. Op www.kangeroomothercare.com vertel ene Vania en Konrad die storie van hul tweeling se geboorte. Ná Vania se keisersnee het die dokter elke seuntjie vinnig ondersoek en hulle direk daarna op Vania se bors neergesit.

Enetjie se asemhaling was hortend en die dokter het hom dadelik na die pa se bors oorgeplaas sodat hy vel-totvel-aanraking kon hê. Die regop posisie en Konrad se liggaamshitte het die seuntjie se asemhaling oombliklik laat verbeter en geen suurstofbehandeling was nodig nie.

Hy’s stewig in ’n drasak teen sy pa vasgemaak.

Kort daarna is sy boetie saam met hom in die drasak geplaas sodat die twee op hulle pa se warm vel kon stabiliseer terwyl hul ma nog geopereer word.

Ná Vania se operasie is pa met babas en al op ’n rolstoel gelaai en saam met ma uit die operasiesaal na hul kamer gestoot. Die seuntjies is een vir een van Konrad se bors gehaal en oorgeplaas na Vania s’n, waarna hulle albei dadelik oogkontak kon maak en selfs met sukses geheg het vir ’n eerste slukkie borsmelk.

’n Week later skryf Vania ’n e-pos aan haar vroedvrou: “Vel-totvel- aanraking het ons as ’n familie nader aan mekaar gebring en die oorgang van vier na ses gesinslede makliker gemaak.”

Hoe kan pa met vel-tot-vel help?

Voltermynbabas

Babas wat direk ná hul geboorte vel-tot-vel-kontak op pa se bors geniet, stabiliseer vinniger, sê die webtuiste www.skintoskincontact.com. Vel-tot-vel-aanraking is goeie bindingstyd en help ma om solank gemaklik ná die bevalling te raak en haar op die eerste borsvoeding voor te berei. Pa’s se warmer lyftemperatuur is ’n pluspunt vir pasgeborenes.

In die dae wat volg kan hierdie nabye kontak van onskatbare waarde wees. Dit hou baba veilig, warm en gekoester, wat hom minder knieserig en selfs winderig maak. Dis die begin van ’n diep verhouding tussen pa en sy nuweling – en waarborg selfs ’n bietjie meer slaap!

In die geval van ’n keisersnee is pa se hulp bykans onontbeerlik. Waar ’n ma net ná ’n normale bevalling haar babatjie onmiddellik op die bors kan sit, moet ’n keiserma se operasie nog voltooi word, sy moet herstel van die verdowing en sy het ’n wond wat vel-tot-vel-kontak ’n uitdaging maak.

Navorsing het gewys dat keiserbabas op die vel-tot-vel-kontak met pappa floreer en dat hulle daarna veel makliker vir die eerste keer borsvoed as babas wat geen kontak gehad het nie.

Dis vanselfsprekend dat meerlinge meer vel vir direkte aanraking nodig het – iets wat pappa dan met gemak kan voorsien wanneer mamma nie almal gelyk kan voed nie.

Vroeggebore babas

Die biologie van die kerngesin het nog nie oor die eeue verander nie. Wat wel verander, is dat vroeggebore babas en babas met ’n lae geboortegewig oorlewe. Hier is pa’s inderdaad beter as ma’s toegerus om die versorging van die jongeling waar te neem.

Ma’s wat vroeg die lewe skenk, ervaar verlies en het tyd nodig om deur die skok te werk van ’n baba wat moontlik nie gaan oorleef nie. Pa’s voel ook skok, maar is liggaamlik en geestelik onmiddellik gereed om tot aksie oor te gaan en te versorg.

Vaderlike vel-tot-vel-kontak is veilig en doeltreffend vir die baba se temperatuurregulering en kardiorespiratoriese stabilisering.

Vel-tot-vel-kontak behoort onmiddellik ná geboorte te begin en so min moontlik onderbreek te word – veral in hierdie kleinstes van babatjies. Pappa of mamma se koesterende bors word hul nuwe baarmoeder.

Ononderbroke vel-tot-vel-kontak is slegs moontlik wanneer ma en pa beurte maak en gelyke betrokkenheid by die proses het. Ook gaan mamma moet begin uitmelk lank voor baba aan haar bors kan suig en in dié tyd bied pappa ’n veilige hawe.

Hoe weet ons hierdie dinge?

Studies oor kangaroesorg deur pa’s word al sedert 1989 gedoen. Die US National Library of Medicine verskaf ’n lys van navorsers op dié terrein in ’n dokument getiteld Paternal Kangeroo Care 5/27/10.

Hiervolgens het Acolet et al reeds in 1989 bevind dat ’n 35 dae oue baba geen verskil ervaar tussen die vel-tot-vel-sorg wat hy by sy ma kry en dit wat sy pa bied nie. In 1991 bevind De Leeuw et al dat babas met onstabiele asemhaling binne 60 minute van vaderlike veltot- vel-kontak verbetering toon. K. Christensson publiseer die artikel “Fathers can effectively achieve heat conservation in healthy newborn infants” in die joernaal Acta Paediatrica (November 1996).

Die toename in liggaamstemperatuur van babas in studie was betekenisvol vinniger by babas met veltot-vel-kontak met hul pa’s as dié van babas in die broeikas of wiegie. ’n Merkwaardige toename in bloedglukose is ook by babas met vel-tot-vel-kontak aangetoon, terwyl daar geen soortgelyke toename by babas in die ander kontrolegroepe gevind is nie. Interessant genoeg was babas met vel-tot-velkontak se liggaamstemperatuur 24 uur ná geboorte veel hoër as broeikasbabas s’n.

In die joernaal Birth (Junie 2007) verskyn ’n artikel deur Erlandsson, Dsilna, Fagerberg en Christensson met die titel “Skin-to-skin care with the father after cesarean birth and its effect on newborn crying and prefeeding behavior”.

Die skrywers het bevind dat babas in die vel-tot-vel-groep getroos gevoel en ophou huil het, vinniger kalm geword en makliker aan die slaap geraak het as babas in ’n wiegie. Hulle kom tot die slotsom dat pa’s as primêre versorgers beskou moet word wanneer ma en baba reg ná ’n keisersnee geskei word.

In ’n Suid-Afrikaanse studie deur Leonard & Mayers in 2008 is twee pa’s doelbewus verbied om kangaroesorg toe te pas en hulle het uitgesluit gevoel en dit as wreed ervaar. Baie van die navorsers het gevind dat pa’s wat vel-tot-velversorging toepas meer verantwoordelikheid teenoor hul pasgeborene voel, hul babas met meer selfvertroue hanteer, meer betrokke is en graag die versorging van hul baba met ma deel.

Voordele vir pa

  • Jy gaan bemagtig voel om vir jou baba te sorg, en nie nutteloos of oorbodig nie.
  • Jy word jou kind se primere versorger wanneer jou vrou nie beskikbaar is nie.
  • 'n Sterk band vorm vroeg-vroeg reeds tussen jou en jou pasgeborene.
  • Dis 'n geleentheid vir emosionele genesing.
  • Jy's 'n rustige ouer.
  • Jy kan jou baba se unieke honger- en stres- tekens eerstehands lees.
  • Jy pas meer slaap in.