Wat gebeur?

Die plasenta voorsien jou ongebore baba van voedingstowwe en suurstof terwyl sy in die baarmoeder is. Die plasenta is aan jou baba verbind met die naelstring. Wanneer jou baba gebore word, hoef die naelstring nie meer suurstof en voedingstowwe te vervoer nie en is dit dus nie meer nodig nie. Dis hoekom jou baba se naelstring kort ná die geboorte afgeklamp en naby haar naeltjie afgeknip word. Dié prosedure is pynloos, aangesien daar geen senuweepunte in die naelstring is nie. Die klamp word aangelos tot die naelstring uitdroog.

Die klein stompie wat agterbly is deel van die naelstring wat uiteindelik uitdroog en afval.

Dis belangrik dat jy hierdie oorblywende stukkie naelstring behoorlik versorg tot dit vanself afval, wat gewoonlik binne die eerste 10 dae gebeur, al kan dit soms tot 20 dae lank klou.

Versorg die stompie só:

Hou dit skoon

Maak die naelstring met elke doekruiling skoon en ook ná elke bad. Lig die stompie op en maak die plekkies om en onder die stompie met ontsmettingsalkohol en watte skoon. Sorg dat jy dit behoorlik skoonmaak en moenie bang wees om op die basis te vee waar die naelstring aan die naeltjie vasgeheg is nie.

Hou dit droog

Stel die stompie soveel moontlik aan lug bloot. As dit warm is, kan jy jou baba in 'n doek en T-hempie aantrek om die lugvloei om die naeltjie te verbeter. Vou jou baba se doek aan die voorkant na onder sodat dit nie teen die stompie vryf of die stompie aan urine blootstel nie. Dis ook 'n goeie plan om die stompie omtrent vyf minute per dag son deur 'n venster te gee.

Vee net af

Vermy dit om jou baba in die eerste dae 'n vol bad te gee. Jy wil nie die naelstring onnodige vog laat trek nie, want dan duur dit langer om uit te droog.

Laat die stompie self afval

Moenie daaraan trek nie, selfs al hang dit aan 'n draadjie. Dit sal self afval. Maak dit met ontsmettingsalkohol skoon en hou dop om seker te maak dit ontsteek nie. Soms bly daar 'n paar stukkies klonterigheid oor nadat die koord afgeval het. Dit kan vanself verdwyn, maar soms moet dit deur 'n dokter behandel word.

Die naelstring val binne 10 dae af, maar kan tot 20 dae klou.

Pediater toe

Naelstringstompies wat nie behoorlik versorg of skoongemaak word nie, kan ontsteek. As die basis van die koord ontsteek, sal jy moontlik 'n antibiotiese salf moet aanwend, wat die infeksie gewoonlik vinnig laat opklaar. As dit nie gebeur nie, sal jou baba ’n mondelikse antibiotikum moet drink. ’n Bietjie droë bloed om die naeltjie is normaal, maar raadpleeg jou dokter onmiddellik as:

  • jou baba koors ontwikkel;
  • jy bloeding aan die punt van die koord of op die deel na aan die vel opmerk;
  • etter uit die basis van die koord sypel;
  • die area om jou baba se naeltjie opgehewe en rooi is, of nie lekker ruik nie; of as
  • daar tekens is dat jou baba pyn by sy naeltjie het.

E-pos jou vrae na yolandi@babaenkleuter.co.za. Vrae kan ongelukkig nie persoonlik beantwoord word nie.