Topwenk
Dit is nie nodig om jou nuwe baba elke dag te bad nie – elke derde dag is voldoende. Op die ander dae kan jy jou pasgeborene ’n ‘bo-en-onder-bad’ gee.

Voorbereiding

Die voorbereiding van die kamer waar jy jou baba gaan bad, is belangrik. Maak die vensters, gordyne en deur toe sodat die kamer lekker warm bly en daar geen trek is nie. Skakel die verwarmer aan as dit koud is. Sit jou baba se skoon uitrusting reg en maak al die drukkertjies en knope oop. Sit ’n nuwe doek reg, asook enige room wat jy wil gebruik. ’n Sagte handdoek, waslap en seep moet byderhand wees. As jy by ’n badjie gaan kniel, sorg dat jy ’n dik handdoek onder jou knieë het. Maak jou hare vas en haal jou horlosie en juwele af. Daar moet ’n droë plekkie wees, dalk ’n doekruilmatrassie, waarop jy baba ná die bad kan neerlê om hom aan te trek.

Mond

Jy hoef nie jou pasgeborene se mond skoon te maak nie, maar as jy ’n wit lagie op die tong en aan die binnekant van die mond sien, kan dit moontlik sproei wees. Besoek dan liefs die pediater.

Jy kan jou baba se ogies met ’n klam wattebolletjie reinig, een vir elke oog. Gebruik afgekoelde kookwater. Vee liggies van die binnehoek na die buitehoek om aanpaksels te verwyder. As jou pasgeborene se ogies skoon is, hoef jy dit nie te doen nie.

Hare

Handel die harewassery eerste af. Hou jou baba met een arm en hand so vas dat sy koppie na agter en na onder lê. Plaas jou duim en een van jou vingers oor sy ore. Giet met jou los hand water oor sy hare. Was dan met babasjampoe en spoel af. Melkkors is baie algemeen en dit beteken beslis nie dat julle vuil is nie. Moenie daaraan krap nie. Smeer liewer saans ’n bietjie olyfolie aan wat die skilferkors sal help lig sodat jy dit die volgende dag met sjampoe kan afwas. Dit sal ’n paar dae duur. As die skilferkors erger word, kan jy die apteker vra om iets aan te beveel.

Ore

Jou pasgebore baba se ore is baie delikaat en hoef nie binne skoongemaak te word nie. Jy kan die oorskulp en agter die oorskulp met ’n nat lappie vee as melk of spoeg daar opdam. Maak seker dat jou baba se oorskulp nie ’n knak het wanneer jy haar op haar sy neerlê nie. Wees versigtig om met badtyd nie water in die oortjies te laat loop nie. Moenie oorwas uit jou baba se oor probeer krap nie; dit beskerm die oortjie teen vuilheid en stof. Onthou tog om in die voutjies van jou nuwe baba se nek skoon te maak. Jou kleinding kan haar koppie nog nie lig nie, en melk en spoeg loop maklik in die nekkie af en pak daar saam.

Genitalieë

Die vagina is selfreinigend. Moet dus nie diep in jou babadogtertjie se geslagdele was nie. ’n Wit afskeiding is normaal en moet uitgelos word. ’n Babaseuntjie se voorvel moet ook uitgelos word. Die voorvel kan nog nie teruggetrek word nie. As jy dit probeer doen, kan jy dit beskadig. Beweeg die vel dus baie sagkens net sover as wat dit vanself kan wanneer jy hom was.

Naelstring

Maak jou baba se naelstring met watte en ontsmettingsalkohol skoon. Jy hoef nie bang te wees nie, want dis nie seer wanneer jy dit skoonmaak nie. Vee goed rondom die naelstring elke keer wanneer jy doek ruil. Die stompie behoort binne 10 dae af te val. Gaan dokter toe as die naelstring vrylik bloei of ’n afskeiding het wat sleg ruik.

Naels

Babas word in baie gevalle met lang naels gebore; omdat die naeltjies skerp is, kan jou pasgeborene haar sleg krap. Hou die naels kort – dis meestal nie eens nodig om dit te knip nie. Jy kan dit met jou vingers ná badtyd afrol as die naeltjies sag is. So nie, kan jy ’n vyl of naelknippertjie inspan wanneer sy slaap. As jou baba aanhou om haar te krap, kan jy vir haar klein handskoentjies aantrek sodat sy haar nie seermaak nie.

Babavel

Jou nuwe baba se vel is nog baie dun en sensitief, en geboortemerke is baie algemeen. Tot 40 persent van pasgeborenes kry baba-aknee, gewoonlik wanneer hulle ’n paar weke oud is. Dit kom meestal op die wange, ken en soms op jou baba se voorkop voor, en is dikwels meer sigbaar as jou baba warm kry of as die velletjie geïrriteer word deur spoeg of materiaal wat daarteen skuur. Dit word veroorsaak deur die swangerskapshormone wat nog in baba se lyfie in omloop is. Moenie daaraan druk of enigiets daaraan smeer nie! Dit pla jou baba nie en dit sal self verdwyn. Baie babas sal “ooievaarsbyte” op hul ooglede en agter hul kop net bo die nek hê. Dit gaan ook self weg. Gebruik net velsorgprodukte wat vir pasgeborenes goedgekeur is. Smeer jou baba ook ná badtyd in om te voorkom dat die vel uitdroog.

HET JY GEWEET?
Druk jou baba ná badtyd liggies met ’n sagte handdoek droog. Sy vel is baie sensitief en ’n growwe gevryf kan hom seermaak.

Raakgekoop

Telament Paediatric Colic Drops (R118,99, 30 ml) en Gripe Water (R37,99, 150 ml) help om verligting te bring vir pyn en winde. By alle groot kleinhandelaars en babawinkels te koop.