(Hierdie artikel was eerste gepubliseer in Baba & Kleuter, Mei 2016)  

Jou baba kan kommunikeer lank voor sy kan praat. Maande voor sy haar eerste woordjie sê, is sy besig om sin te maak van die reëls van die taal wat sy hoor. Sy gebruik ook haar eie stel verbale en nieverbale kommunikasieboodskappe om elke dag met die belangrike mense in haar lewe – dis nou met jou en pappa – te kommunikeer.

Dié boodskappe is voorlopers van spraaken taalontwikkeling en sluit in oogkontak, beurtname, huil, vokalisasie (vokaalagtige klanke soos “aaaee”) en selfs liggaamsbewegings.

Voorlopers is baie belangrik vir taalontwikkeling omdat dit die grondslag lê vir ’n goeie kommunikasievermoë namate kinders groter word. Wat taalontwikkeling betref, is jy die beste speletjie wat daar is. Interaksie van aangesig tot aangesig tussen babas en hul versorgers lê die grondslag vir die ontwikkeling van kommunikasievaardighede.

Gebruik dus die eerste paar weke van jou baba se lewe om met haar te kommunikeer en haar te leer ken.

JOU PASGEBORENE KOMMUNIKEER SO

Pasgebore babas is met die nodige vaardighede toegerus om sin te maak van die wêreld en daarop te reageer. Babas is in hul eerste lewensjaar soos sponse: Hulle suig al die taal- en sosiale interaksie in hul omgewing gretig op. Pasgebore babas het die volgende vaardighede om hulle te help kommunikeer:

SY KAN HOOR EN VERSTAAN

Gehoor is die eerste sintuig wat ten volle by babas ontwikkel. Die binneoor is reeds in die middel van die swangerskap so groot soos ’n volwassene s’n en ’n paar minute ná geboorte sal ’n baba vir harde geluide skrik. Dit lyk of babas geprogrammeer is om na stemme te wil luister en na ’n hoër stemtoon. Die meeste volwassenes en selfs jong kinders praat onwillekeurig met ’n hoër stem wanneer hulle met ’n baba speel. Navorsing het gewys babas kan hulle ma se stem binne drie dae ná geboorte herken.

Babas begin ook reeds in die baarmoeder taal verstaan. Al kan hulle nie die woorde wat gesê word, verstaan wanneer hulle gebore word nie, kan hulle emosies uitken. Babas is op die emosies van hul versorgers ingestel – dis deel van hulle oorlewingsvaardighede.

Hulle verstaan hul versorgers se gevoelens deur na hul stemtoon te luister, gesigsuitdrukkings te bekyk en hul asemhalingspoed te voel. Dis nie soseer wát jy sê nie, maar hóé jy dit sê wat ’n babatjie emosioneel absorbeer.

SY KAN MET EN SONDER GELUIDE KOMMUNIKEER

Die algemeenste en doeltreffendste manier waarop ’n pasgeborene kommunikeer is deur te huil – en nuwe ouers vind dit gou uit! As jy deur die opwindende, maar deurmekaar eerste paar dae kan kom, sal jy gou verskillende soorte huilgeluide begin onderskei: hard en kwaai as sy honger is, en klaerig as haar doek vuil is. Huil is nie die enigste manier waarop pasgeborenes kommunikeer nie – hulle gebruik ook hul lyfie om te wys hulle weet wat om hulle aangaan. Die meeste van hierdie liggaamsbewegings is onwillekeurig.

Pasgeborenes se skrikreaksie vir ’n harde klank en suigreaksie as daar naby hul mondjie gevryf word, is maniere waarop hulle van hulle wêreld sin maak.

SY MAAK OOGKONTAK

Navorsing het gewys een van die eerste reaksies van ma’s wêreldwyd is om ná die geboorte van hul baba in haar ogies te wil kyk.  In ’n projek wat vroeë binding ondersoek het, het ma’s gesê hulle voel emosioneel nader aan hul baba nadat hulle oogkontak gemaak het. ’n Pasgebore baba se visuele vaardighede is spesiaal vir oogkontak aangepas. Van alle voorwerpe kyk pasgeborenes die graagste na gesigte.

Hulle kan die beste sien as iets sowat 20 tot 30 cm ver is. Dit is omtrent die afstand wat ’n ma se gesig sal wees as sy haar baba voed of in haar arms liefkoos.

SY WYS TEKENS VAN STRES

Pasgebore babas kan ’n sekere hoeveelheid sensoriese stimulasie op ’n slag hanteer. As te veel sintuie te lank gestimuleer word, kan sy begin wys dat haar stelsel oorlaai is.

Algemene tekens van stres by ’n pasgebore baba sluit in dat sy huil en kla, haar arms en bene oormatig uitstrek, van kleur verander, opgooi, nies, met glaserige ogies staar en bewerig raak. Onthou net elke baba is uniek en het  unieke reaksies.

SY WYS TEKENS VAN TEVREDENHEID

Jou pasgebore baba kan wys wanneer sy tevrede en kalm is en het ook heelparty maniere

waarop sy haar self kalmeer:

• Sy suig aan ’n tepel, bottelspeen, fopspeen of vingers.

• Haar arms en bene is na haar lyfie toe ingevou.

• Haar handjie gaan na die mond toe.

• Haar handjie hou styf aan ’n vinger of voorwerp vas.

• Haar ogies is wakker en gefokus.

SY BELEEF VERSKILLENDE SLAAP- EN WAKKER FASES

’n Pasgebore baba se dag wissel tussen verskillende fases van wakkerheid en slaap. Die bekende Amerikaanse pediater dr. T.B. Brazelton het dié fases in verskillende stadiums opgedeel. Blaai om en kyk wat die stadiums is en hoe jy elkeen kan benut.

KOMMUNIKEER SO MET JOU PASGEBORENE

Die eerste stap is om jou nuwe baba se natuurlike gedragspatrone waar te neem. Stel vas wat haar tekens van stres en tevredenheid is en kyk wat haar help om deur die verskillende stadiums van wakker en slaap te beweeg.