Vlytige vingertjies

akkreditasie
Almal klap hande as 'n baba begin loop, maar daar is 'n ander vaardigheid wat amper meer geduld en aandag van jou baba verg: fyn motoriese vernuf. Ons wys jou hoe jy dit kan aanhelp.

Die manier waarop jou kind se klein spiertjies in haar hande, vingers, gewrigte, tone, oë en selfs tong saamwerk om haar in staat te stel om noukeurige take akkuraat uit te voer, staan bekend as fyn of klein motoriese vaardighede.

Dit klink dalk nie nou belangrik nie, maar 60 tot 70 persent van jou kind se skoolaktiwiteite gaan eendag fyn motoriese vaardighede vereis. Sy gebruik boonop hierdie vaardighede nou om haar wêreld te verken, en dit het dus ’n invloed op haar intelligensie.

0 tot 1 jaar

Jou pasgebore baba se handjies is nog in vuisies geklem en kom van tyd tot tyd per ongeluk in haar gesigsveld. Sien sy dit wel raak, het sy nog geen idee wat sy sien nie! Namate hierdie gryprefleks verdwyn, sal haar vuisies ál meer ontspan. Sy kan ook begin om haar handjies meer doelbewus in haar mond te druk en hulle so ontdek.

Teen drie maande sal sy dit wat sy aanraak en sien met mekaar begin verbind, en doelbewus probeer raak aan voorwerpe wat haar interesseer. Sy kan nog nie haar lyfie genoeg beheer om dit reg te kry nie en sal net haar arms wild swaai en per ongeluk aan die speelding raak.

Tussen vier en ses maande kan sy voorwerpe doelbewus begin raakvat, en in die daaropvolgende twee maande sal sy alles wat sy sien, met haar oë, hande en mond probeer verken. Sy kan voorwerpe in twee hande hou, dit teen mekaar kap en ’n voorwerp van een hand na ’n ander verplaas.

Sy sal ook nou begin om voorwerpe doelbewus te laat los, ’n vaardigheid wat sy teen 10 maande heeltemal onder die knie sal hê. Tot jou frustrasie sal dit vir haar heerlik wees om iets oor en oor te laat val!

Voorwerpe word in diepte bestudeer en sy begin om klein goedjies tussen haar duim en voorvinger in ’n knypgreep op te tel pleks daarvan om dit met die hele hand nader te hark.

Teen ’n jaar oud kan jou kleinding al die kleinste broodkrummeltjie van die vloer af optel in ’n knypergreep van duim en voorvinger.

Hoe jy kan help

  • Gee baba genoeg kans om uit te reik na voorwerpe soos ’n bewertjie: eers terwyl sy op haar rug lê, dan wanneer sy op haar magie lê en uiteindelik terwyl sy sit.
  • Hou die voorwerp waarna jou baba uitreik in die middel van haar lyfie sodat sy dit met albei hande kan vat, van hand na hand kan verplaas en voorwerpe teen mekaar kan kap.
  • Verskaf houers waarin baba voorwerpe kan laat val.
  • Verskaf kleiner voorwerpe wat baba tussen haar vingerpunte kan vashou.
  • Gee haar vingerkossies om te eet.
  • Laat haar toutjies trek wat ’n speelding musiek laat speel.
  • Slim speelgoedopsies: ratels, houtblokke van verskillende groottes, die sandbak, sagte speelgoed, boontjies in bottels wat ’n geraas maak, speelgoed vir badtyd, houers met deksels, hout en metaallepels, musiekinstrumente soos ’n trom en balle van verskillende groottes.

Speelgoed vir fyn vat

Trek- en stootspeelgoed, hoepels, teestel, speeltelefoon, speelgoed wat uitmekaargehaal kan word, houtblokke, legkaarte met knoppies waaraan dit opgetel kan word, musiekinstrumente, speelgoed soos ’n hamer om mee te slaan, kryte en papier, pennetjiebord met groot penne, inpasborde, krale van verskillende groottes.

1 tot 2 jaar

Jou kleinding sal ’n kryt met haar hele handjie kan vashou en begin probeer om ’n horisontale streep te trek. Sy hou daarvan om bewegende voorwerpe dop te hou, veral sirkelbewegings, en tel graag klein goedjies tussen duim en voorvinger op. Sy kan ’n vormpie goed in ’n vormsorteerder pas en blokkies op mekaar begin stapel.

Hoe jy kan help

  • Gee geleentheid vir krabbel, ook teen ’n vertikale oppervlak.
  • Laat haar dinge in- en uitpak en houers oop- en toemaak.
  • Bou torinkies met houtblokkies.
  • Speel balspeletjies.
  • Trek strepe wat sy moet natrek.
  • Speel baie met klei, soos eetbare klei.
  • Laat haar legkaarte van vier tot vyf stukke bou.
  • Speel vingerrympies soos Duimpie en Duimpie se maat.
  • Moedig haar aan om self knope vas te maak en ritssluiters op te trek.

Voorloper van fyn vaardighede

Groot motoriese vaardighede verwys na die bewegings van die groot spiere van die liggaam. Aksies soos sit, kruip, stap, skop en spring span almal jou kind se grootste spiere in.

Dis belangrik om te weet dat fyner spiertjies en vaardighede ontwikkel ná die groter spiere en vaardighede. Soms kan ’n probleem met ’n fynvatvaardigheid dus opgelos word deur oefeninge wat op die groot spiere en groter bewegings toegespits is.

Prakties gesien moet jy dus seker maak dat jou baba genoeg geleentheid kry om haar hele lyfie te strek en te beweeg. Waak daarteen om haar vir lang stukke van die dag vasgemaak in ’n stoeltjie of stootwaentjie te laat sit. Babas moet tyd op die vloer deurbring, op hul rug en baie belangrik ook, op hul magies. Dit kan amper nie genoeg beklemtoon word nie.

Bolyf-aksie

’n Baba wat op sy maag neergesit word, sal vanself begin beur om sy kop te lig. Sy kop is relatief groot en swaar, en dis harde werk, maar jy sal byna daagliks ’n verbetering sien as julle elke dag magietyd toepas. Sy nek sal al hoe sterker word, en later sal sy skouers en arms ook begin saamwerk, totdat hy later gemaklik op sy voorkant lê, gestut deur sy armpies.

Sonder dié vermoë, sal kruip moontlik nie gebeur nie, en arbeidsterapeute stem saam dat kruip ’n belangrike mylpaal is wat verkieslik nie oorgeslaan behoort te word nie.

Maak magietyd vir hom lekker en interessant deur ’n tekstuurmat onder hom neer te sit, of ’n spieël waarin hy homself kan sien as hy sy kop lig, of speelgoed wat hy kan bykom as hy sy bolyf lig. Lê self ook voor hom op die mat op jou maag – jou teenwoordigheid is altyd die beste motivering.

Onderlyf-aksie

Om sy onderlyfie te oefen, is badtyd weer ideaal, want babas is lief daarvoor om in die water te skop. Klim saam met hom in die bad, hou om op sy rug op jou skoot met julle bene uitgestrek en wys hom hoe om te skop. Bedags kan jy hom ook onder ’n babagim laat lê en hom aanmoedig om die interessante speelgoed wat daaraan hang raak te skop.

Laat baba ook gereeld op jou skoot bons en moenie bang wees om hom onderstebo te dop en ’n bietjie ‘rof’ te speel nie. Pa’s is van nature goed hiermee!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees