VOLmaak

akkreditasie
Carina en LP Swanepoel.
Carina en LP Swanepoel.
Carina (25) en Lou Swanepoel van Klerksdorp se seuntjie, LP (10 maande), is gebore met 'n dubbelgesplete lip en verhemelte. Carina deel hul verhaal.

Toe ek sowat sewe maande swanger was, het ek ’n 3D-sonar by ons ginekoloog laat doen en hy het ons vertel dat LP moontlik ’n gesplete lippie het. Die volgende dag het hy nog ’n sonar gedoen en toe kon hy dit bevestig.

Ons het geen verdere besonderhede gehad nie en het glad nie geweet wat op ons wag en hoe ernstig die komplikasies sou wees nie.

LP is op 38 weke met ’n keisersnee in die wêreld gebring. Hy het ’n bilaterale (dubbele) gesplete lip en verhemelte gehad. Dit beteken daar was openinge tussen sy lip en sy linker- en regterneusholte, en dat hierdie opening deur sy verhemelte gestrek het.

Ná die normale toetse wat pasgeborenes ondergaan moes hy broeikas toe. Ek was histeries – alles was onbekend en ek was bang.

Teen vieruur die middag het ’n spraakterapeut LP besoek en kon hy vir die eerste keer bottel drink. Dit was nie sommer enige bottel nie – ná ons ginekoloogbesoek het ek toevallig Pigeon se Cleft Palate Nurser-bottels in Dis-Chem raakgeloop en gekoop omdat ek nie geweet het of ons dit sou nodig kry nie.

Die bottels is sag sodat dit maklik gedruk kan word. Die spene is ’n bietjie langer as ander spene en die onderkant van die speen is sagter as die bokant sodat jou baba se tongetjie die melk makliker uit die speen kan suig. Die speen het ook ’n kruissnit op die punt om melkvloei te vergemaklik.

Ons kry hulp

Toe LP vyf dae oud was, is ons verwys na die Kliniek vir Gesplete Gesigdeformiteite by die Universiteit van Pretoria se Mondgesondheidsentrum. Hier het LP ’n voedingsplaatjie gekry wat as sy verhemelte kon dien. Die plaatjie is gemaak van akriel en word met sagter materiaal opgevul sodat dit gemaklik in die verhemelte pas.

Die personeel daar is fantasties opgelei en het alles sorgvuldig aan ons verduidelik. Die voedingsplaatjie moes ná elke voeding uitgehaal en met water afgespoel word.

By die kliniek is daar ’n spesiale span van chirurge, verpleegkundiges, spraakterapeute, mondhigiëniste, ’n kliniese sielkundige, ’n genetikus en ’n ortodontis. Ons moes een keer per maand teruggaan om verstellings aan die plaatjie te maak, want namate LP se mond ontwikkel het, moes die plaatjie aangepas word.

Sy gehoor is ook getoets omdat kinders met splete makliker middeloorontsteking opdoen, wat later hul gehoor kan aantas.

Voeding was ná die plaatjie effens makliker, maar steeds ’n uitdaging. LP mag byvoorbeeld glad nie plat gelê en drink het nie omdat die melk in sy oorkanaal kon beland en infeksie veroorsaak. Ek moes hom dus regop hou, die bottel vashou en sorg dat die speen is aan die kant waar daar ’n bietjie verhemelte is. Sodra dit net gelyk het of hy sluk, het ek die bottel gedruk om die melkvloei vinniger te maak.

Die kliniekpersoneel het verduidelik dat ’n baba die spiere in sy sagte verhemelte gebruik om te suig, maar omdat die sagte verhemelte gesplete is, suig die baba gewoonlik swak. Daarom help dit om die bottel te druk sodat hy nie so moeg word van die harde werk nie.

Twee weke ná LP se geboorte is koliek by hom gediagnoseer. Hy het ook met aaklige winde gesukkel omdat babas met splete meer geneig is om winde te sluk. Daarby het hy refluks gehad, wat voeding regtig moeilik gemaak het.

Met die tweede kliniekbesoek het hy pleisters op sy lippie gekry. Met bilaterale splete is die middelste deel van die bokaak (waar die twee voortande moet uitkom) en die bolip los van die res van die bokaak en staan dit vorentoe uit.

Soms is daardie deel ook skeef, soos LP s’n. Die pleisters word dan só geplak dat dit binne ’n paar maande die gesplete bolip en bokaak geleidelik na die middel van die kaak manipuleer, asook na binne sodat dit in ’n reguit lyn met die res van die bokaak kom.

Die verpleegpersoneel het ons gewys hoe om die pleisters korrek op te plak. In die eerste ses maande was die plaatjie en pleisters deel van ons daaglikse lewe en LP mag nie daarsonder gewees het nie.

Voeding was ’n reuse uitdaging. Ek moes purees met ’n lepel voer – dit het baie lank geduur, want die melk en kossies het heeltyd deur die spleet by sy neus uitgekom. Ons moes sy gewig baie goed dophou omdat kinders met dié afwyking geneig is om stadiger gewig aan te sit. As hulle kos mors, kry hulle byvoorbeeld nie altyd alles in nie.

Operasie 1

LP het sy eerste operasie op ses maande oud gekry. Daar was ’n paar voorwaardes voor ons die operasie kon aanpak: Hy moes eers leer om uit ’n voedingsbekertjie met ’n kort tuit te drink en hy moes ook op vier maande begin vaste kos eet.

Dit is omdat hy in die eerste twee weke ná die operasie nie uit ’n bottel met ’n speen mag suig nie, want die wrywing van die speen op die steke in die sagte verhemelte kan veroorsaak dat die steke te vroeg oplos en dat die verhemelte dalk weer oopgaan.

LP was sewe dae in die hospitaal. Met hierdie operasie is sy sagte verhemelte asook die een helfte van sy harde verhemelte gesluit. Hy moes aanpas en leer om deur sy neus asem te haal.

Die chirurg het aanbeveel dat hy twee weke ná die operasie weer moet leer om uit ’n bottel te drink omdat die suigaksies belangrik is vir spraakontwikkeling.

LP was egter nie daarvoor te vinde nie, dus drink die mannetjie steeds uit ’n beker.

Operasie 2

Die tweede operasie is gedoen toe hy agt en ’n half maande oud was. Die ander helfte van die harde verhemelte en sy lippie is gesluit.

Die aanpassings ná hierdie operasie is seker nog die uitdagendste omdat hy besig is om tande te kry. Hy raak nog soms benoud en sukkel nog om asem te haal omdat hy gewoond was aan die suurstof wat deur sy oop verhemelte en neus binnegestroom het.

Daar is aan sy neusvleueltjies ook gewerk en daar was kort ná die operasie nog swelling, wat die neusie ook effens toe maak.

’n Derde operasie lê in Junie voor, wanneer die chirurg sy neuspuntjie effens gaan lig omdat kinders met dubbelsplete geneig is om plat neusies te hê.

In die jare wat kom sal nog operasies volg, maar hierdie drie word in die eerste jaar gedoen. LP sal ook nou spraakterapie moet kry wat sy geneigdheid om deur sy neus te praat sal help verminder.

Ná elke operasie is dit elke keer ’n aanpassing, want hy lyk elke keer anders. Dit kos dan weer ’n rukkie om aan sy nuwe voorkoms gewoond te raak, maar vir my is hy volmaak net soos hy is.

Ondersteuning

Ons het reeds ’n rits uitdagings beleef, maar dit het my soveel as mens laat groei. Lou is my steunpilaar. Ek sou ook niks hiervan kon aanpak sonder ons familie nie, veral my skoonma Karin, wat ons met soveel praktiese dinge gehelp het.

Ondanks die wonderlike ondersteuning van ons familie en vriende wens ek tog ek het iemand in die nabye omgewing geken wat dieselfde uitdagings het. Ek het ’n behoefte aan ondersteuning deur iemand wat weet hoe ek voel. Ek hoop dat ek in die toekoms vir iemand só ’n persoon kan wees.

Hoe ontstaan splete?

Daar is drie faktore wat ’n gesplete lip en verhemelte kan veroorsaak, sê suster Daleen du Plessis, ’n gemeenskapsverpleegkundige van Pretoria.

  • Daar is ’n familiegeskiedenis van splete en dit word dus oorgeërf. Volgens ’n studie wat by die Kliniek vir Gesplete Gesigsdeformiteite gedoen is, het 28 persent van hul pasiënte ’n familiegeskiedenis van splete gehad. Wêreldwyd is dié syfer nader aan 25 persent.
  • Sekere sindrome gaan gepaard met ’n spleet. Die algemeenste is Pierre Robin-sindroom, waar babas gebore word met ’n gesplete sagte en harde verhemelte, asook ’n kort onderkaak en tongetjie.
  • Sekere omgewingsfaktore kan in die eerste drie maande van swangerskap veroorsaak dat die baba se lippe en/of verhemelte nie sluit nie. Dit kan insluit ’n tekort aan foliensuur, virus- infeksies (verkoue, blaasinfeksies), rook, gebruik van alkohol, sekere medikasies, lugbesoedeling en stres of trauma
Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees