Ek lees dikwels dat borsvoeding so belangrik vir ’n baba is en dat dit baie gesondheidsvoordele inhou. Wat behels dié voordele alles?

Lisanne du Plessis antwoord:

Die voordele van borsvoeding en borsmelk is al eeue lank bekend, maar word dikwels vergeet of geïgnoreer in ’n wêreld waar daar alternatiewe vir byna elke denkbare aksie bestaan.

In ’n onlangse oorsigreeks in die hoog aangeskrewe mediese joernaal The Lancet is tot die slotsom gekom dat borsvoeding belangrike voordele vir ma en baba inhou, of hulle nou in ryk of arm lande woon.

Borsvoeding beskerm jou baba teen infeksies omdat dit teenliggaampies regstreeks van jou lyf na jou baba oordra. Borsgevoede babas se immuunstelsel is dus sterker en hulle beland minder in die hospitaal as formulebabas.

Daarby verskaf borsvoeding die volmaakte kombinasie voedingstowwe aan jou baba en dit teen die regte temperatuur. Omdat jy jou baba outomaties koester terwyl jy haar voed, sorg dit ook dat julle ’n sterk band vorm.

Borsmelk verseker daarby dat die goeie bakterieë in jou baba se dermkanaal floreer en beskerm jou baba so teen derminfeksies en ander kwale.

Dit help ook sorg dat die tande goed geposisioneer word, verhoog intelligensietellings en kan oorgewig en diabetes in jou baba se latere lewe help keer.

Vir ma’s is daar ook hope voordele. Borsvoeding beskerm ons teen borskanker en help ook dat ons kinders nie te vinnig op mekaar volg nie. Dit beskerm ons ook teen eierstokkanker en tipe 2-diabetes.

Dis dus baie belangrik dat ma’s op alle vlakke van die samelewing ondersteun word om te kan borsvoed.

Omdat dit niks kos nie, hou dit jou beursie voller.

Dis goed vir almal in die land omdat jou baba minder siek word en dus nie onnodige druk op die gesondheidstelsel plaas nie. Ma en pa hoef minder tyd by die werk af te neem en het ook minder mediese uitgawes. Borsvoeding produseer ook nie afvalmateriaal soos etikette en verpakkingsmateriaal nie – en dit hou die omgewing skoner omdat dit nie in ’n fabriek vervaardig word nie.

Raakgekoop

’n Gesonde swangerskapskommel deur Mom2B. Dis by Dis-Chem en uitgesoekte apteke te kry teen sowat R80 vir vyf 50 g-sakkies. Beskikbaar in aarbeigeur.