’n Baba & Kleuter leser vra:

"My baba het pas begin kruip en nou staan sy al teen alles op. Ek het al baie gelees dat die kruipstadium belangrik is. Hoekom is dit so en hoe lank moet ’n baba kruip voor haar brein en lyfie reg is om te loop?"

Anro-Mari Cohen antwoord:

Wanneer jou baba nuwe vaardighede aanleer, moet sy gewoonlik ’n reeks stappe volg om dié vaardighede te bemeester.

Dink daaraan soos aan ’n toring wat baksteen vir baksteen gebou word.

Een of twee verlore bakstene gaan nie so ’n groot verskil maak nie, maar neem té veel bakstene weg en die toring val om.

Kruip is ’n baie belangrike stap in ’n reeks ontwikkelingsmylpale wat insluit om die kop teen swaartekrag op te lig, die hande en voete saam sowel as afsonderlik te gebruik, en om ’n ingewikkelde beweegpatroon te bemeester.

Kruip is in der waarheid die stewige fondament van die toring wat gebou moet word.

As jou baba nie lank genoeg kruip nie, is die toring nie volledig nie.

Kruip help ook met ontwikkeling van dieptepersepsie, liggaams- en ruimtelike bewustheid en onderskeiding tussen links en regs.

Dit het ook ’n invloed op jou baba se fisieke ontwikkeling, aangesien dit kopbeheer en heup-, skouer- en polsstabiliteit bevorder.

Albei breinhelftes moet saamwerk om kruip moontlik te maak en inligting van die linker- en die regterkant van die lyf moet dus op die korrekte manier geïntegreer word.

Tussen die twee breinhelftes is ’n dik band wat die corpus callosum genoem word. Hoe meer inligting tussen links en regs gestuur word, hoe dikker word dié band danksy die groei van senuselle.

In ’n baba se eerste jaar vind daar ’n massiewe ontploffing van senuweeselle plaas wat tot die ontwikkeling van sy vaardig-hede bydra.

Aan die einde van die eerste lewensjaar word die oortollige breinselle en breinpaadjies wat nie gebruik is nie, weggesnoei.

Dit is hoekom babas wat in hul eerste lewensjaar nie leer kruip nie, dit soms nooit bemeester nie.

Die kruip-”breinpaadjies” is nooit gestimuleer nie en het vervaag.

Hoewel kruip dus ’n tydelike vaardigheid is, vind dit plaas in die tydperk dat die corpus callosum ontwikkel sodat die brein vir die res van baba se lewe gekoördineerd kan funksioneer.

Hoe langer jou baba dus kruip, hoe beter is dit vir die aanleer van toekomstige vaardighede. ’n Mens wil nooit ’n mylpaal aanjaag nie. 

E-pos jou vrae na yolandi@babaenkleuter.co.za. Vrae kan ongelukkig nie persoonlik beantwoord word nie.