Wakker in die nag

akkreditasie
As jou baba in die nag wakker word en net huil en nie weer aan die slaap raak nie, lees hierdie raad van 'n slaapkonsultant.

Vraag:

My baba is 10 maande oud. Sy gaan slaap sonder moeite seweuur saans. Ek lê haar neer met haar bottel en sy drink self en die ogies val toe. Die probleem is dat sy deesdae tussen twee- en drieuur in die oggend wakker word, baie huil en dan nie weer self aan die slaap kan raak nie. Ek wil nie daardie tyd van die nag weer ’n bottel gee nie, of is sy honger? Dis nie ’n doek, siekte of tande nie. Ek moet haar optel en troos en dit duur tot 20 minute voor sy weer kalm is. Ek het haar ’n paar aande by ons laat slaap, maar ek is bang dit gaan haar slegte gewoontes leer. Ons wil haar eintlik nie by ons in die bed hê nie.

Antwoord:

Dit is onwaarskynlik dat jou kleinding honger is. Vra jou af: Het sy al haar geboortegewig verdubbel? Drink sy genoeg gedurende die dag? Eet sy al vaste kos en proteïenryke voedselsoorte? Weeg sy meer as 7 kg?

As jy herhaaldelik die normale roetine verbreek, kan dit ’n gewoonte vorm. Dit is normaal dat babas tussen 10 en 20 minute neem om aan die slaap te raak. Net soos volwassenes word ’n baba herhaaldelik in die nag onbewustelik wakker.

As die slaapomstandighede met die wakker word nie meer dieselfde is as toe ’n mens oorspronklik aan die slaap geraak het nie, word jy bewustelik wakker.

Hier is ’n voorbeeld: Toe jou baba aan die slaap geraak het was daar ’n heerlike bottel melk. Die oorgang tussen die eerste paar slaapsiklusse lewer gewoonlik nie probleme op nie, want ons slaap op ons beste en diepste in die beginstadiums van die nag. Tussen twee en drie uur in die vroeë oggend is dit egter die tyd wanneer sy waarskynlik as ’n jonger baba gewoond was om te drink, en daarom word sy nou wakker.

My raad is om die verband te breek wat jou kleinding tussen drink en slaap gevorm het. Dit doen jy deur haar slaaptydroetine ’n bietjie te verander. Gee haar melk voor jy haar bad. Gebruik ná badtyd ’n ander aktiwiteit, soos om ’n boekie te lees of ’n liedjie te sing, om haar rustig te maak voor jy haar neerlê om te slaap.

Jy sal verbaas wees hoe baie die laaste paar uur van die dag en slaaptydroetine ’n mens se slaap beïnvloed. ’n Paar klein veranderinge aan die slaaproetine kan die verskil beteken tussen ’n baba wat herhaaldelik in die nag wakker word en een wat deurslaap.

As sy die eerste vyf aande nadat jy die roetine aangepas het steeds wakker word, kan jy na haar toe gaan en haar troos tot sy weer rustig is. Jy kan haar selfs optel en by haar sit tot sy rustig is. Hou in gedagte dat babas soms in hul slaap huil, net soos ons in ons slaap praat.

Wag dus ’n paar minute voor jy na haar toe gaan. Partykeer is dit ons wat hulle wakker maak wanneer hulle nie regtig wakker is nie.

Moenie ’n lig aanskakel wanneer jy na jou baba toe gaan nie. Lig beïnvloed ons sirkadiese ritmes omdat dit die produksie onderdruk van melatonien, die hormoon wat ons vaak maak.

Onthou ook dat dagslaap nagslaap beïnvloed. Op 10 maande moet jou babatjie minstens twee keer in die dag slaap (tussen 2,4 en 2,8 uur in elke sessie) en in die nag moet sy optimaal tussen 10½ en 12 uur slaap.

Dit beteken dat jy jou baba nie te veel moet stimuleer nie, want sy gaan ten minste elke 3,5 uur slaap. Hou ook die tekens dop dat sy moeg is.

Dis belangrik om te verstaan dat slaap deur baie dinge beïnvloed word en soms word slegte slaap deur die kombinasie van ’n paar dinge veroorsaak. Net soos volwassenes het babas en kinders ook “af” aande en dae.

Moet dus nie bekommerd wees as jou baba een of twee aande onverwags in die nag wakker word nie. As ’n patroon een tot twee weke lank voortduur, kan dit egter in ’n gewoonte ontaard.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees