1 As jy ’n vaginale geboorte gehad het, kan jou baba se gesig geswel en pofferig wees vanweë die drukking wat hy in die geboortekanaal beleef het. Dit veroorsaak swelling van die wange en ooglede. 

2 By dogtertjies sal die labia en tepeltjies geswel en rooi wees omdat jou hormone in haar lyf agtergebly het.

3 Voor jou baba se naelstring geknip word, word dit op twee plekke geklem. Binne 10 tot 14 dae ná die geboorte word dit droog en val af. Daar is geen senuwees in die naelstring nie. Jou baba sal dus geen pyn ervaar wanneer dit geknip word nie. 

4 Jou baba het nege maande lank in water rondgedryf en dit behoort dus geen verrassing te wees dat haar vel vol rimpeltjies is nie. Haar vel kan  ’n paar dae ná ge­boorte selfs afdop.

5 Seuntjies het dikwels baie groot skrotums weens die drukking van die baarmoederkontraksies en mamma se hormone wat gedurende swangerskap na die fetus oorgedra word. 

6 Vernix is ’n glibberigee stof wat jou baba se vel teen die vrugwater beskerm terwyl sy in die baarmoeder is, anders sou nege maande in die water haar vel verfrommel het. Dit help haar ook om in die geboortekanaal af te gly terwyl jy kraam. Gewoonlik kom die vernix tydens die bevalling af, maar daar kan nog ’n bietjie in die groefies en voue van die vel agterbly. Vroeë babas het veral nog baie vernix. Dit sal ná jou baba se eerste bad verdwyn. 

7 Jou baba sal instinktief jou gesig soek. Die pofferige ooglede beskerm haar sensitiewe oë teen skerp lig – nog ’n slim kunsie van die natuur om ons oorlewing en welstand te verseker. Daar kan geskeurde bloedvaatjies in die wit deel van haar oë wees wat deur drukking tydens die geboorte veroor­saak is. Dit klaar binne ’n paar weke op. Sy kan20 cm van haar af nog goed fokus en kan jou gesig duidelik sien. Dié noue aanraking verstewig binding. Wanneer sy jou gesig sien en jou herken, sal haar pupille wyer word, ’n teken dat sy bly is om jou te sien. Dit laat jou weer liefdevol teenoor haar reageer, en dit alles gebeur heeltemal onbewustelik!

8 Pasgebore babas het helderrooi lippies weens die vloed suurstof wat instroom wanneer asemhaling begin. 

9 Sekere dele van pasgeborenes se lyf het meer vet as ander. Hierdie vetvoue word langs die agterkant van die rug, die wange, die kante van die neus en onder die arms gevind. Dié vetreserwes wat teen week 17 neergelê word, verseker oorlewing en is ’n belangrike bron van voedsel en warmte in die eerste paar dae ná geboorte. Dit is een van die redes waarom jou baba nie veel kos in die eerste paar dae nodig het nie. Nog ’n rede is dat jou borsmelk aanvanklik baie gekonsentreerd is. 

10 Jy kan ligte pienk vlekke op jou baba se gesig, sy ooglede, tussen sy oë, op sy wenkbroue en in die agternekvou sien. Dit is plat, verwyde haarvaatjies wat binne ’n paar maande verdwyn. 

11 Sommige babas word met ’n vol bos haregebore terwyl ander bynaheeltemal bles is. 

12 Die fyn, donserige hare wat jy dalk op sy wangetjies, ore, rug, skouers en boarms sien, word lanugo genoem. Jou baba was in die baarmoeder daarvan oortrek. By ’n voltermynbaba sien ’n mens dit nie meer nie, maar dis nog sigbaar by vroeggebore babas. Dit vryf stelselmatig af. 

13 Babas wat ná 40 weke gebore word, het heel dikwels lang vingernaels en verrimpelde velletjies. 

14 As jy ’n vaginale geboorte het, kan jou baba se koppie ’n langwerpige vorm hê. Die skedelbene van pasgebore babas is nog soepel en word deur sterk vliese aanmekaargehou. Namate jou baba se kop deur die geboortekanaal beweeg, “skuif” die skedelbene oormekaar (dit word vervorming genoem) en dit vergemaklik die deurgang deur die bekkenbene. Dit beskerm die brein teen beserings en gee jou baba se kop die langwerpige vorm. Die vorm van sy kopbegin binne minute ná sy geboorte verander. Keisersnee-babas het ronder koppies omdat hulle nie ’n vervormingsproses deurgemaak het nie. 

15 Soms laat tangverlossings merke, maar dit verdwyn ook binne ’n paar dae. 

16 Binne minute ná jou baba se ge­boorte sal sy velkleur van bloupers na helderpienk verander wanneer hy sy longe die eerste keer gebruik. Dit duur effens langer voor sy hande en voete pienk word omdat sy bloedsomloop aanvanklik maar traag is. Babas word soms met ’n handdoek gevryf om dit aan te help. 

Wees geduldig

Kort voor lank sal jou baba die beeldskone, pienk, mollige kleinding wees van wie jy gedroom het.