Borsvoeding is iets wat instinktief vir mamma en baba is en heel natuurlik behoort te wees. Tog is daar dinge in die moderne samelewing wat wil inmeng en dit laat lyk na iets moeiliks en outyds.

Die eerste paar weke van borsvoeding gaan bepaal of jy suksesvol sal kan borsvoed of nie. As jy vasbeslote is om die beste vir jou baba te gee, volg hierdie raad om seker te maak dat jy dit sommer van die begin af reg doen.

Sê nee vir byvoedings

Die kans is baie groot dat een van die susters jou gaan vra of sy vir jou baba ’n byvoeding kan bring. Die verpleegsters kan selfs daarop aandring dat jou baba se bloedsuiker te laag is en sy daarom byvoeding móét kry.

Ook die dokter kan jou bangpraat dat jou baba te veel gewig gaan verloor as jy nie ’n byvoeding gee nie. In al hierdie gevalle moet jy voet by stuk hou dat jou baba geen byvoeding mag kry nie.

Terwyl jy in die hospitaal is sal jy slegs klein hoeveelhede kolostrum hê. Jy kan dus dink dat jy nie genoeg melk het nie, maar dit is om ’n rede so. Jou baba se organe is stadig besig om aan te pas by die wêreld buite mamma se lyf en kolostrum is spesiaal daarvoor geformuleer.

As jou baba se bloedsuiker laag is, sit haar onmiddellik aan die bors sodat sy kan drink. As sy te slaperig is om te suig, kan jy die kolostrum saggies met jou hand in haar mondjie uitdruk. As daar niks uitkom nie, kan hulle ’n bietjie glukosewater gee terwyl jy jou baba gereeld aan die bors sit.

Bêre die fopspeen diep weg

In die eerste paar weke van jou baba se lewe leer sy haar mamma deur haar mondjie ken. Sy leer presies hoe haar mamma se tepels voel en hierdie boodskap word goed ingeprent sodat sy sommer gou soos ’n gesoute suiger kan heg en drink.

Wanneer ’n fopspeen in ’n pasgebore baba se mond gedruk word, meng dit met hierdie proses in en baba kan sukkel om aan die bors te heg.

Jou baba moet egter gereeld drink sodat jy genoeg melk kan maak. Wanneer jou baba wil suig, moet sy dus aan jou suig en nie aan ’n fopspeen nie. Fopspene meng in met borsvoeding en is een van die groot redes waarom ma’s daarmee sukkel. Moet dit glad nie in die eerste vier tot ses weke gee nie.

Laat baba suig

Hoe meer gereeld en doeltreffend jou baba suig, hoe meer melk word gemaak. Gee albei borste met elke voeding en laat baba minstens 10 tot 15 minute aan een bors suig voor jy borste ruil. So sorg jy dat sy die waterige voormelk en die ryk agtermelk kry.

As sy eers aan die linkerbors en daarna regs gedrink het, begin met die volgende voeding regs en dan links. Gebruik sommer ’n sagte armband om jou te herinner met watter bors jy moet begin.

Vergeet van twee-, drie- en vieruurliks. Voed jou baba wanneer sy vir jou wys dat sy honger is deur wakker te word, te huil, knieserig te raak of haar handjies te suig.

Kry ondersteuning

Een van die belangrikste aspekte van borsvoeding is ondersteuning. Veral met ’n eerste baba kan ’n mens soms onseker voel. Dalk wonder jy of jy dit reg doen of jou tepels lyk miskien nie soos in die boeke nie. As jou familie dan ná die eerste trane met blikmelk en bottels opdaag, gaan dit na die maklikste oplossing lyk.

Lig jou familie vooraf in oor jou vasbeslotenheid om te borsvoed en vra hulle om jou te ondersteun. Sluit aan by steungroepe soos La Leche League op Facebook. Bêre voor die geboorte al die naam van ’n borsvoedingskonsultant op jou en ’n familielid se foon. So kan jy dadelik professionele hulp inroep as jy dalk sukkel.

Dit kan dalk seer wees

Met jou eerste baba is jou tepels nie gewoond aan die vreeslike gesuig nie en kan dus die eerste paar dae sensitief wees. As jou tepels bars en bloei is dit ’n teken dat jou baba nie die bors vat soos sy moet nie. ’n Borsvoedingskonsultant sal help seker maak dat jou baba reg drink.

Fisioterapeute doen laserbehandeling op seer tepels sodat dit vinnig genees. Vra gerus sommer van die eerste dag af daarvoor.

Wees meer gerus

Party van ons wil in beheer wees en presies weet hoeveel milliliter baba gedrink het. Net soos jy verskillende tye van die dag en week en maand verskillende hoeveelhede kos nodig het en eet, so is dit ook met jou baba gesteld. As jy borsvoed wanneer jou baba vra en kyk na haar honger- en versadigingseine, sal sy drink presies soveel as wat haar ly¬e nodig het.

Om uit te melk om te kyk hoeveel jou baba drink gaan jou dalk net gespanne maak. As jou baba agt tot 10 nat doeke het en gewig aansit, kry sy genoeg melk. As dit voel of jou melk te min is, voed jou baba meer gereeld of bel ’n konsultant.

Druppels is onnodig

Die beste vir jou baba is eksklusiewe borsvoeding. Dit beteken dat sy niks anders as net jou melk in haar mond moet kry nie. Al die druppels vir krampe en winde is onnodig en navorsing kon nog nie bewys dat dit werklik vir ’n huilerige baba help nie. Jou baba het nét jou melk nodig.

Hoe langer, hoe makliker

In die eerste ses weke wat jy jou eerste baba borsvoed, gaan jy waarskynlik moeg, moedeloos en oorweldig voel. As jou baba ure aaneen net wil drink terwyl sy kort-kort aan die slaap raak, kan jy dalk selfs ’n bietjie geïrriteerd raak en voel jy wil net weer jou lyf vir jouself hê.

Om dit te kroon kan jy nie vir manlief vra om die baba te voed as jy net te moeg is nie, en as hy ’n bietjie saggies aan jou wil vat, kan jy dalk verleë voel as jou borste dink dis die baba en die melk laat uitspuit.

Dit voel soos ’n ewigheid, maar dit duur eintlik net ’n kort rukkie en as jy kan uithou, wag daar baie maande waarin jy nie ’n bottel hoef te was of te meng nie. Jy sal nooit hoef te wonder of die melk te warm of te koud is of te lank gestaan het en jou baba gaan siek maak nie. Jy kan op jou rug gaan lê en ’n uiltjie knip terwyl jou gesonde baba haar melkie drink.