10 fantastiese voornemens vir die nuwe jaar

akkreditasie
Wat is jou nuwejaarsvoornemens as ma? Hier's 'n paar idees...

Almal het dit, maar min hou daarby. Ons praat natuurlik van nuwejaarsvoornemens. Vergeet maar van minder sjokolade eet en meer oefen – as jy hierdie 10 kan deurvoer, gaan jy 2010 met vreugde en vrede in jou hart onthou. Haal dus diep asem en sê agter my aan...

1. Ek gaan my kinders elke dag drukkies gee

Dis wetenskaplik bewys dat aanraking nie net sorg vir ’n beter band tussen jou en jou kind nie, maar jou kind ook beter oor homself laat voel. ’n Gesonder selfbeeld gaan beslis sorg vir ’n gelukkiger kind, maar onthou dat dit ook jou kind se intelligensie en taalvermoë kan verbeter, hom minder selfsugtig sal maak en beter gaan laat slaap.

Gereelde drukkies verlig ook spanning, pyn en depressie, en sorg vir ’n meer positiewe uitkyk op die lewe omdat jy voel jy is kosbaar vir iemand en behoort iewers.

Aanraking, sê die bekende Amerikaanse opvoedkundige Dr. James Dobson, is ’n belangrike uitdrukking van liefde wat jou kind se emosies sal voed selfs al verstaan sy nog nie eens woorde nie.

2. Ek gaan my kinders daagliks voer met positiewe woorde en elke dag herinner dat ek hulle liefhet

Die Australiese ouerskapsghoeroe Steven Biddulph glo dat kinders presies dit word wat jy vir hulle vertel hulle is. As jy jou kind dus aanmoedig deur te vertel hoe oulik, slim of verantwoordelik hy is, gaan hy of sy nog ouliker en slimmer word.

Gee jou kind pluimpies vir spesifieke slimmighede of goeie dade, maar onthou om hom ook te laat voel dat hy nie die hele tyd oulik of slim hóéf te wees om jou liefde te verdien nie, maar dat jy hom in elk geval liefhet. Weer Biddulph: “Verbeel jou hoe goed dit voel – om onvoorwaardelik liefgehê te word, net omdat jy bestaan.”

3. Ek gaan meer tyd vir myself skep, leer delegeer en leer om soms nee te sê

Hoekom móét jy meer tyd maak vir jouself? Dink aan die lugwaardin se raad wanneer sy die noodprosedures in ’n vliegramp beskryf – jy moet eers seker maak dat jou eie suurstofmasker stewig op is voordat jy in staat sal wees om ander te help.

Dr. Marianne Legato, ’n Amerikaanse kardioloog, verduidelik in ’n artikel in die tydskrif Health dat jou hele liggaam met stres reageer as jy net altyd regstaan vir mense om jou.

“Jy gaan voel jy het geen beheer nie. Jy word gedurig onderbreek. Jou brein sal sukkel om te rus selfs al slaap jy. Sulke chroniese uitputting verhoog die vrystelling van streshormone en laat jou bloedsuikervlak styg.”

En wat is die gevolg van sulke spanning? ’n Verhoogde kans op diabetes en hartsiektes, geheueprobleme, én ’n geneigdheid tot vet wat om jou middel saampak (’n bewese mediese gevolg van te veel streshormone).

4. Ek gaan sorg dat my kinders daagliks vars vrugte en groente eet en genoeg water drink

Jy gaan nie net jou kind se langtermyn-gesondheid verbeter deur hom weg te hou van te veel verwerkte stysel, suiker en vet nie, maar ook verseker dat sy brein – wat ’n kwart van die liggaam se daaglikse energie gebruik – elke dag optimaal kan funksioneer. Gesonde kos verseker ook ’n gesonder immuunstelsel en minder allergieë, dus gaan jou kind minder siek word.

Gesonde kos en genoeg water sorg ook vir beter konsentrasie. Hoofpyn en hardlywigheid is dikwels ’n teken dat jou kind se lyf begin ontwater. As jou kind nie dol is oor water nie, vermom dit in rooibostee en verdunde vrugtesap. Jy kan ook ystee maak van koue rooibostee en vrugtesap.

5. Ek gaan my kinders leer speel en vir ’n slag die TV afskakel

Jy sal jou kind ’n reuse guns bewys, want dis bewys dat te veel TV lei tot aandaggebrek, antisosiale gedrag, oorgewig, lae spiertonus en laer akademiese vaardighede in die latere lewe. Speel, daarenteen, lei tot beter spiertonus en meer koördinasie, beter motoriese vaardighede en beter fisieke gesondheid.

Kenners beveel aan dat kinders daagliks vir minstens sestig minute lank matig tot inspannend moet speel. Onthou: Speel is kinders se werk. Behalwe vir die fisieke voordele leer dit hulle beter taalvaardighede en kommunikasie, beter sosiale vaardighede, om te dink (oor ’n probleem of oplossing), kreatiwiteit en beter verhoudings met maatjies, boeties en sussies, en uiteindelik ook met ouers.

6. Ek gaan my kinders bekendstel aan die wonderwêreld van boeke

Lees ontwikkel nie net jou kind se intellek op ’n speel-speel manier nie, maar ook sy morele waardes, emosies, geestelike belewing en sosiale vaardighede.

Kinders wat lees of vir wie gelees word, het ’n beter woordeskat en meer selfvertroue, want hulle kan hulself beter uitdruk en meer logies dink en beter kommunikeer. Hulle het ook ’n beter begrip van die wêreld om hulle. En die beste van alles? As jou kind eers ’n boekwurm is, gaan jy hom nooit weer hoor sê “Ek is verveeld” nie!

Die uitgesproke skrywer, letterkundige en kulturele kritikus Harold Bloom het eenmaal in ’n onderhoud gesê lees maak kinders interessanter vir hulself en die mense om hulle, en help hulle om in individue te ontwikkel. “Deur meer interessant te word vir jouself en ander mense, ontwikkel jy jouself as individu. Kinders sal nie in individue kan ontwikkel deur televisie te kyk, videospeletjies te speel of rockvideo’s te kyk nie. Hulle sal net in ’n individu kan ontwikkel deur alleen te wees met ’n boek.”

7. Ek gaan elke dag vir en saam met my kinders bid

Ons lewe in ’n gejaagde, dikwels bose wêreld, en kan ons kinders onmoontlik nie teen alles en almal beskerm nie. Maar gebed behoort deel van jou ouerskapstegnieke te wees, skryf James Dobson.

“Onthou dat jou kind aan jou geleen is, toevertrou is aan jou sorg vir ’n seisoen, en dat sy Skepper hom uiteindelik baie beter ken en meer liefhet as enigiemand anders. As jy daardie feit erken en sy wysheid daagliks soek – selfs vir die daaglikse roetinetjies van ouerskap – sal dit jou bekommernisse in perspektief hou en vir jou toegang gee tot krag en insig wat veel dieper lê as jou eie,” sê hy.

Om jou kinders te leer bid, gee hulle ook ’n kragtige anker vir tye wat jy nie naby is nie.

8. Ek gaan konsentreer op die drie R’e: roetine, rituele en reëls

Roetine en rituele laat kinders veilig en geborge voel, en as hulle die reëls ken, gaan hulle presies weet wat van hulle verwag word en wat om te doen. Skep jou eie roetines – wat vir jou ma gewerk het, gaan nie noodwendig vir jou werk nie. Almal se leefstyl en lewenstempo verskil. Dis dalk nie prakties om al drie etes by ’n gedekte tafel te eet nie, maar dalk wel om van aandete ’n lekker gesinsaffêre te maak. Of dalk gaan jou kinders vir die res van hul lewe onthou dat hulle elke Saterdagoggend saam met julle in die dubbelbed kon kuier met koffie en beskuit...

En onthou, alle kinders het reëls nodig: om hul eie veiligheid en vordering te verseker, en om te sorg dat hulle goed by die samelewing kan inpas.

9. Ek gaan my moederinstink vertrou

Ons geslag ly dikwels aan inligting-oorlading. Tydskrifte sê dit, die internet dat, jou vriendin of ma iets heel anders. Later weet jy nie wat om te doen nie...

Maar eintlik is daar diep binne-in ons elkeen ’n stemmetjie wat die menslike ras al eeue lank help oorleef: jou moederinstink. Gebruik dit! As jou stemmetjie sê iets is verkeerd met jou kind se dagsorg, stel ondersoek in. As jy bekommerd is oor ’n koors wat nie wil breek nie, gaan dokter toe. En doen dieselfde as jou moederinstink sê dis nie noodsaaklik dat jou kleinman vanaand bad en in sy bed aan die slaap raak nie, maar eerder gelukkig en vuil gespeel op pa se skoot.

10. Ek gaan elke oomblik geniet!

Moederskap sluit in tandekry, sukkel met ’n skreeuende kind en min slaap. Dis verfkolle was uit jou splinternuwe mat. Maar dis ook die verwondering op ’n klein gesiggie wat vir die eerste keer ’n babakatjie vashou. Dis die vreugde van in die reën speel, vasgenael en grootoog na ’n storie luister, van sagte armpies om jou nek. Geniet die oomblik, want netnou is dit net ’n vae herinnering!

Gelukkige 2011!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees