Les 1

Pa praat net een keer

Jy praat met jou meisiekind oor haar speelgoed wat die huis vol lê en vra mooi dat sy dit moet bêre. Dan raas jy daaroor, jy herinner haar weer dat sy dit moet doen, jy dreig, en uiteindelik skree jy op jou kind uit pure frustrasie terwyl jy dit maar self gaan bêre. Kom manlief in, praat hy net een keer en sussa spring. Wat doen jy verkeerd?

Kenners reken hierdie situasie ontstaan omdat pa’s meer stelselmatig en streng toesien dat die huisreëls nagekom word, sodat die kinders die gevolge van reg en verkeerd leer verstaan. ’n Pa laat sy kind die regstreekse gevolge van sy gedrag ervaar en lê klem op regverdigheid en pligte, terwyl ma’s meer daarop fokus om die impak van die kind se gedrag op ander uit te wys, en ook makliker genade sal toon as die kind berou het.

Die les: Ma’s praat en dreig te veel sonder om die gevolge deur te voer. Konsekwente gevolge vir verkeerde gedrag is nodig.

Les 2

Pa stres oor niks nie

Wat maak dit saak as ouboet nie wil hare kam of as kleinsus haar ballerina-tutu wil skool toe dra nie – solank hulle warm genoeg aangetrek is, is die res mos nie belangrik nie – in elk geval nie vir ’n pa nie!

Pa’s stres baie minder oor kleinighede, mits die basiese dinge soos veiligheid en gemak daar is. Daarteenoor is ma op detail ingestel: Dis vir haar belangrik dat die klere wat haar kind dra by mekaar pas en netjies lyk.

Die les: Aandag aan detail is belangrik, maar soms moet jy daar verbykyk en aanvaar dat solank jou kind gelukkig en gesond is, die res minder saak maak. Dit verlig jou las en sorg vir ’n ontspanne verhouding met jou kind.

Les 3

Pa is nie bang nie

Dit maak nie saak of jou peuter sy nuwe skopfiets teen ’n afdraand beproef of heel bo-op sy nuwe klimraam sit nie, jou hart sit in jou keel en jy vra hom kort-kort om nie te vinnig te ry nie, nie te hoog te klim nie en op te pas dat hy nie seerkry nie. Daarenteen hits sy pa hom aan om hoër te klim, meer kanse te waag en nuwe dinge te beproef.

Roekelose gedrag? Nie noodwendig nie. Tradisioneel wil ma’s hul kinders beskerm en dit kan selfs grens aan oorbeskerming. Pa is weer geneig om sy kind aan te spoor om nuwe uitdagings te aanvaar. So wys hy vir sy kind hy glo hy is tot meer in staat.

Dit gee ’n kind se selfvertroue ’n stewige hupstoot en help hom meer onafhanklik word. Pa kan ook ’n bietjie langer wag voor hy kleinding uit ’n moeilike of gevaarsituasie red – so leer Janneman onderskei waar presies die grense tussen veilig en onveilig is.

Die les: Veiligheid bly belangrik, maar jou kind sal ook baat by jou aanmoediging om nuwe dinge onder jou wakende oog te waag. So sal hy sy ervaringswêreld verbreed en sy selfvertroue bou.

Les 4

Pa kies sy stryd slim

Jy kners op jou tande, want ná ’n lang, uitputtende dag weier jou kleinding om in die bad te klim. Jy is al besig om sy klere uit te trek, dan kondig manlief aan dat dit nie nodig is om te bad as hy so moeg is nie en gaan stop hom vuil-vuil in die bed. Of hy verskyn met paddavoete en ’n snorkel en vra die klein rakker of hy lus is om saam te bad.

As ma’s beskou ons die verantwoordelikheid van ons kinders se versorging in ’n ernstige lig en dit veroorsaak gereeld konflik, veral as jou kind ’n sterk wil het. Ons sal maklik ’n kind dwing om iets te doen, deels omdat ons bang is oor wat ander sal sê as ons toegee.

Pa’s kyk gewoonlik eers of die stryd werklik die moeite werd is. Gaan dit oor ’n belangrike beginsel of nie? Indien nie, sal hulle dit maklik net los. Anders sal hulle dikwels lawwe alternatiewe planne maak om kleinding se samewerking te kry.

Die les: Soms is dit nodig om toe te gee of ’n bietjie verder te dink en planne te maak om jou kind se samewerking te verkry. Kies jou gevegte met jou kind versigtig: Jy wil nie van elke klein dingetjie ’n bakleiery maak nie.

Les 5

Pa's het pret

As julle saans van die werk af kom, is daar ’n spul dinge wat gedoen moet word en jy sukkel net om die kinders gevoed, gebad en gebed te kry. Dan styg jou woedemeter na rooi as manlief nie help nie, maar eerder vir sussie om die tafel jaag of met boetie stoei.

Ma’s is meer ingestel op versorging; pa’s op spel. Pa’s dink niks daarvan om die roetine te verbreek ter wille van spel nie en speel ook rowwer en meer kompeterend as ma’s. Geen wonder tweejariges in een studie het hul pa twee-derdes van die tyd bo hul ma verkies as dit by pret en aksie kom nie.

Navorsing wys pa’s se spel bou verstandelike vaardighede en help met kinders se sosiale en emosionele ontwikkeling.

Die les: Ons ma’s is dikwels so vasgevang in die daaglikse versorging van ons kinders dat ons vergeet om saam met hulle pret te hê. Jou kind is net een keer klein: Vergeet soms van die skottelgoed en geniet jou kind!

Les 6

Pa vertrou sy instink

Maande voor baba se koms het jy al ouerskapslypskole bygewoon, ’n ouerskapsboek verslind en beskik jy oor al die kennis wat nodig is om jou baba die beste moontlike opvoeding te gee. Maar dan vind jy nie eens die beste raad werk vir jou kind se fiemies nie. Pa tree in: Hy ignoreer al die reëls in die boek en dit werk soos ’n bom! Klink dit bekend?

Kenners reken ma’s is geneig om meer staat te maak op die leiding van ouerskapskenners of ander se raad in die hantering van hul kinders, dalk uit vrees vir kritiek as hulle iets nie reg doen nie. Pa’s is daarenteen geneig om ’n probeeren-leer-metode te volg en eenvoudig hul instink te vertrou. As die eindresultaat bevredigend is, is dit vir hulle genoeg.

Die les: Hoewel dit belangrik is om ’n ingeligte ouer te wees, is dit nodig om in voeling te bly met jou intuïsie en te leer om dit te vertrou. Jou kind is uniek en jy ken hom beter as enige kenner; vertrou dus wat jou hart vir jou oor hom sê.