1. Sy slaap seker heeltyd?

Jy het pas die soveelste woeste, slapelose nag agter die rug en dan merk iemand op: “Hy slaap seker net heeltyd?”

Ons sê: Dis reg, en koeie kan ook hase vang. Mense wat sê iemand “slaap soos ’n baba” het duidelik self nog nie babas gehad nie – of lankal vergeet hoe dit voel. Jou pasgebore baba kan wel meer as 20 uur van die dag omslaap, maar die probleem is dat dit nie ononderbroke slaap is nie – en as hy wakker is, moet jy regstaan. Dikwels het jy skaars gaan lê om ’n uiltjie te knip, of jou baba word weer wakker. Dis vir jou liggaam ’n geweldige aanpassing om plotseling ’n paar keer per nag wakker te moet word. Daarby raak sommige babas gouer as ander weer aan slaap. As jou vriendin se baba dus van vroeg af deurslaap, moenie dink joune gaan dit ook doen nie. Waak wel daarteen om jou baba te oorstimuleer; dit kan veroorsaak dat hy sukkel om te slaap. Draai hom gerus styf toe vir dagslapies; dit kan soms help dat hy ’n bietjie langer aaneen slaap.

2. Jy lyk moeg

Jy het pas nog ’n nag van pajamadril agter die rug en die sakkies onder jou oë lyk soos swempoele. Dan daag jou vriendin op. Sy lyk soos ’n vars lentebriesie, volmaak versorg en uitgerus, en sy sê:“Jy lyk moeg.” 

Ons sê: Wat verwag sy? ’n Nuwe baba is ’n geweldige aanpassing vir elke ouer en daar is geen groter moegheid as nuwe-ouer-moegheid nie! Dit voel of jy nooit weer ’n ordentlike nagrus sal kan geniet nie, en jy voel soos ’n melkkoei met oorvol borste waaraan jou baba kort-kort wil drink. Dan kan jy dalk supersensitief raak oor enige opmerking oor jou voorkoms. Die beste reaksie is om eerlik te sê: “Ja, ek is!” Jou voorkoms het immers niks te doen met jou menswees of jou vermoë om ’n ma te wees nie. Ons almal slaap minder wanneer babas opdaag. Daar bestaan nie iets soos ’n nuwe ma wat nie moeg is nie. Mense lewer dikwels so kommentaar uit empatie sonder dat hulle besef dit kan aanstoot gee. Hulle sê dit om jou te ondersteun, om jou te laat verstaan hulle dink aan jou, maar almal dra dit nie so positief oor nie. Gebruik gerus hierdie geleentheid om te ontlaai en met jou vriendin te gesels oor hoe jy voel: Jy ís moeg, jy voel gedreineer en jy sal enige hulp aanvaar wat jou kant toe kom.

3. Wat doen jy heeldag?

Manlief kom vyfuur van die werk af. Die bed is nog onopgemaak, die wasbak vol skottelgoed, vuil klere en doeke lê oral rond en jy is nog in jou nagkabaai. Hy sê dit nie, maar jy lees sy gedagtes: “Wat het sy dan heeldag gedoen?”

Ons sê: Almal van ons was al daar! Daar kom dae waarop jou baba soveel aandag verg dat jy geen keuse het as om heeldag met hom doenig te wees nie. Moenie skuldig voel nie: Aanvaar dat jou baba nou jou eerste prioriteit is en dat dit reg en goed so is. Alles anders mág maar op die lange baan geskuif word. So ’n situasie is veral vir perfeksionis­tiese vroue moeilik. Hulle het altyd alles onder beheer gehad en skielik het hulle niks meer in bedwang nie want die baba verg ál hul aandag. Dis een van die grootste redes vir nageboortelike depressie. Kenners sê nuwe ma’s moet aanvaar dat hulle moet herprioritiseer. Jou baba kom nou eerste en jy moenie skuldig voel as al die ander dinge eers in die yskas gebêre word nie. Hierdie spesiale tyd gaan so gou verby, koester dit. Kry ekstra hulp as jy kan, of verlaag net gewoon jou standaarde.

4. Dis ’n interessante naam...

Jy en manlief het babanaamboeke bestudeer, gesif, geredeneer en uiteindelik die volmaakte naam vir jul kleinding gekry. Jy deel dit trots met jou sus en sy sê: “Dis ’n interessante naam” terwyl sy skielik oogkontak vermy.

Ons sê: Jy voel dalk seergemaak omdat jou suster nie hou van die naam wat julle met soveel sorg gekies het nie en kan dit as kritiek ervaar. Wat egter vir een mens mooi is, is minder mooi vir ’n ander, en almal gaan nie van dieselfde name hou nie. Vir elke ouerpaar is hul kind se naam baie spesiaal, maar almal sal nie dieselfde daaroor voel nie. Smaak verskil. Jul kind se naam is ’n persoonlike keuse en almal hoef nie daarvan te hou nie.

HET JY GEWEET Die groot hoeveelheid swangerskapshormone in jou lyf kan jou meer sensitief as gewoonlik laat voel. Probeer dus om ander se kommentaar nie te ernstig op te neem nie.

5. Sy huil – is sy nie honger nie?

Al die oumas kloek as jou kleinding begin huil. Jy het haar nou net gevoed, maar dan kom die vraag: “Is sy nie honger nie?”

Ons sê: Die oumas bedoel dit goed, maar as jy self nog ’n onseker ma is, kan hul kommentaar jou ontoereikend laat voel en dat hulle jou ouerskap bevraagteken. Maar jy as ma sal mos weet wanneer jou baba honger is! Moenie dat ouer, ervare ma’s se kennis jou intimideer nie. 

Aan die ander kant: Waak daarteen om oorsensitief te wees en ander se kommentaar as kritiek op jou moederskap te ervaar. Hulle het soms waardevolle raad. Jy moet aanvaar dat die hele familie betrokke wil wees by die grootmaak van jou kind. Hul kommentaar is dikwels meer weens opgewondenheid oor die nuweling as uit kritiek. Hulle gee raad nie omdat hulle dink jy is ’n slegte ma nie, maar omdat hulle graag wil help. As ’n baba huil, voel almal gespanne en wil hê die kind moet gelukkig wees. As oumas of tannies so iets sê of die baba uit jou hande wil neem, mag jy maar selfgeldend optree. Moet egter liefs nie dadelik begin verdedig nie.

6. Voel jy nie skuldig om te gaan werk nie?

Dit breek jou hart om jou kleinding agter te laat en werk toe te gaan. Dan vra iemand boonop nog of dit jou nie skuldig laat voel nie ...

Ons sê: Ma’s is van skuldgevoelens aanmekaargesit. Die oomblik wanneer jou kind gebore word, begin jy klaar skuldig voel omdat jy hom eendagiewers sal moet los om weer te werk, selfs al geniet jy jou werk hoe baie of al het jy die salaris hoe nodig. Die meeste ma’s wat terugkeer werk toe, het nie eintlik ’n keuse nie. Hulle probeer die situasie vir hulleself draaglik maak en as mense dan die voor die hand liggende uitspel, voel hulle net nog slegter omdat hulle moet werk. Wat help dit iemand sê iets daaroor? Hulle kan niks daaraan doen nie. Formuleer vooraf solank ’n pittige antwoord op dié onwelkome vraag, soos: “As jy my salaris vir die volgende jaar betaal, sal ek met plesier by my baba bly!” 

7. Wanneer kom die baba?

’n Vrou in die tou by die winkel wil geselsies aanknoop en vra gesellig: “Nou wanneer kom jou baba?” Jy verstar, want jou kleinding is al twee weke oud. 

Ons sê: Dis soms ’n reuseskok asjy ná jou baba se geboorte ontdek jylyk steeds etlike maande swanger. ’n Mens verloor helaas nie jou swangerskaps­gewig oornag nie. Baie vroue is ontsteld oor hul lyf ná hul baba se geboorte en omdat hulle nog nie in hul klere pas nie. Hulle voel selfbewus oor hul groot borste en is vreeslik bewus daarvan dat hulle nie soos voorheen lyk nie. As iemand anders dit ook raaksien, help dit glad nie.

Nuwe ma’s plaas baie druk op hulleself. Die laaste ding wat jy nodig het, is om jouself te dwing om jou figuur terug te kry – jy het nou ander prioriteite. Nou moet jy op jou baba fokus en die band met jou baba bou. Jy het nie tyd in die gimnasium nodig as jy liewer ’n uurtjie kan slaap of saam met jou baba kan deurbring nie, en jy kan dit nie bekostig om jou kilojoules te beperk terwyl jy borsvoed nie. Bekommer jou later oor jou figuur – dit sal weer regkom. Intussen sal borsvoeding baie help om die ekstra spekkies af te skud. Eet gesond (nie vir twee nie) en gebalanseerd, en as jy wil oefen, gaan stap met jou baba in sy waentjie.