Aanneming: Die spesiaalste geskenk

akkreditasie
Om ’n baba aan te neem, is ’n intense emosionele ervaring en dit is belangrik dat jy alles daar omtrent weet. Ons gids help jou om die regte besluite te neem.

As die geluk van ’n eie kind hulle nie beskore is nie, kies baie paartjies om ’n baba aan te neem. Wat maak dit saak of julle van dieselfde bloed is as jy ’n hart vol liefde het wat jy graag met ’n kind wil deel? Maar dis nie net instap en ’n kleinding kies nie: Die aannemingsproses kan blootstellend, uitgerek en vol slaggate wees as jy nie reg te werk gaan nie. Waar begin jy dus?

Stap 1: Is aanneming vir jou?

Maak heel eerste seker aanneming is die beste opsie vir julle. Vra jou eerlik af:

  1.  “Het ek heeltemal vrede daarmee gemaak dat ek nooit ’n biologiese kind sal hê nie?” Dis baie belangrik dat paartjies eers vrede moet maak met hul onvrugbaarheid voor hulle aanneming oorweeg, sê Lucinda van der Vyver, maatskaplike werker by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie.
  2. “Het ek die vermoë om vir hierdie kind so lief te raak soos vir ’n biologiese kind?” “’n Kind is nie ’n pakkie wat jy kan teruggee nie. Aanneming is lewenslank,” waarsku Letitia van den Berg, ’n maatskaplike werker gemoeid met aannemings by die privaat organisasie Procare. Voornemende aanneemouers moet vir hulleself uitmaak of hulle die vermoë het om emosioneel te bind met ’n kind wat geneties nie hul eie is nie, sê Lucinda. “Party mense kan dit doen en ander nie. Dit maak nie van jou ’n beter of slegter mens nie, maar jy moet eerlik wees.
  3.  “Is sowel ek as my lewensmaat heeltemal aan boord?” Aanneming is nie iets waaroor jy ’n kompromie ter wille van jou lewensmaat kan aangaan nie, sê Lucinda.

Stap 2: Doen jou huiswerk

Bemagtig jou met kennis. Praat met mense sodat jy ingeligte besluite kan neem, is Lucinda se raad. ’n Goeie beginpunt is die webblad www.adoption.org.za. Dit bevat korrekte inligting oor die proses en wetlike aspekte, en wys watter dienste in jou omgewing beskikbaar is.

Stap 3: Soek ’n maatskaplike werker of agentskap

Maak seker die organisasie of privaat maatskaplike werker deur wie jy wil werk het ’n goeie reputasie en is geakkrediteer om aannemings te doen – nie almal mag nie. Daar is baie keuses: nie-regeringsorganisasies, staatsmaatskaplike werkers en privaat maatskaplike werkers. Raadpleeg verskeie mense en vind uit oor hul organisasies en werkwyse.

Stap 4: Die keuringsproses

Elke organisasie of maatskaplike werker het sy eie aannemingsbeleid en keuringskriteria. Wetgewing bepaal dat daar nie teen voornemende aanneemouers gediskrimineer mag word op grond van geslag, huwelikstatus, ouderdom, finansiële vermoë of seksuele voorkeur nie, maar sê wel daar moet gekyk word of die ouers geskik is om ’n kind aan te neem.

Lucinda sê hulle sal by ’n getroude paar byvoorbeeld kyk na die stabiliteit van hul huwelik, hul emosionele volwassenheid, hul vermoë om te bind, hul finansies (al mag hulle nie iemand op grond hiervan weier nie), hul gesondheid en werkstabiliteit.

“Elke saak word volgens verdienste beoordeel. Almal van ons het foute. Die kern is dat ons na die beste moontlike ouerpaar vir elke kind soek.”

Letitia sê hoewel elke organisasie sy eie riglyne het, netwerk die organisasies baie en gekeurde paartjies word op ’n sentrale register vir geskikte aanneemouers (RAPA) geplaas. ’n Organisasie sal dus soms die keuringsverslag van ’n ander organisasie gebruik om ’n baba te plaas as hulle nie ouers met ’n toepaslike profiel by hul eie organisasie het nie.

Stap 5: Wagtyd en admin

Ná die keuring word voornemende aanneemouers op ’n waglys geplaas. “Dan hang dit af van wanneer ’n geskikte baba beskikbaar raak,” sê Lucinda. “As ’n baba beskikbaar is, kyk ons wie die mees geskikte ouers vir hom of haar is.”

Lucinda sê hulle neem die wense van die biologiese ma of ouers in ag. “Sy kan miskien vra dat die kind binne dieselfde godsdiensgroep as sy geplaas moet word. ’n Passing word dan gedoen deur ’n paneel en twee of meer profiele word aan die biologiese ma of ouers voorgelê waaruit hulle een kan kies.

“As die 60 dae wagtyd verstryk het en die baba aanneembaar is, sal ons die egpaar vra of hulle nog belangstel. Dan word die baba wettig in hul sorg geplaas. Hulle doen aansoek by die kinderhof en die maatskaplike werker se verslae en aanbeveling word by die hof ingehandig.

Daar sal die kommissaris van die kinderhof ’n hofbevel uitreik wat sê die egpaar neem die baba aan. Hierna gaan die hofbevel na die registrateur van aannemings. Hy registreer die aanneming en sodra hulle ’n brief van die registrateur ontvang het, kan hulle die baba in hul naam registreer. Dan is die aanneming deur en die baba hulle s’n.”

Hoe lank neem dit?

Maatskaplike werkers in privaat praktyk het nie dieselfde werklading as nieregeringsorganisasies nie en daarom kan die proses vinniger verloop, sê Letitia. “By ons verloop daar van die dag dat ons die aanneemouers ontmoet tot hulle die baba kry gewoonlik so nege maande. Dit hang natuurlik af van hul voorkeure.

“Ons probeer die babas tussen drie tot ses maande ná geboorte by die ouers kry sodat binding kan plaasvind. In die staatsektor kan dit soms gebeur dat babas tot twee of drie jaar wag.”

Lucinda sê haar ervaring is dat aannemings gewoonlik vinnig deur die howe gaan en dat hulle dan vir die finale bevel van die registrateur van aannemings wag. “Daar is soms knelpunte. Die ideaal is dat die aanneming binne drie maande geregistreer word, maar dit gebeur nie altyd nie. Soms wag die registrateur nog vir dokumentasie of hy wil nog iets gedoen hê. Ons kan dus nie sê jy kan ’n baba op dag 60 kry en op dag 90 is hy joune nie.”

Wat kos dit?

Die koste verskil van organisasie tot organisasie. “’n Privaat aanneming kos in die omgewing van R25 000,” sê Letitia. “Dis ’n duur proses, want dis ’n intensiewe spesialiteitsgebied met baie administratiewe en wetlike fasette wat baie werk en tyd verg.” Benewens die koste van R25 000 is die aanneemouers by hulle gewoonlik ook verantwoordelik vir die kraamkoste, sou die ma in ’n privaat hospitaal kraam.

Lucinda sê by organisasies soos die SAVF betaal die aanneemouers op ’n glyskaal volgens hul inkomste. “Voornemende aanneemouers moet hul agent­skap of maatskaplike werker vra vir ’n uiteensetting van kostes sodat hulle weet of hulle R5 000 of R45 000 gaan betaal en dan kan hulle onderhandel oor wat hulle kan bekostig.”

Sy sê die wet is duidelik oor watter bevallingskostes gedek kan word, maar by die SAVF is aanneemouers nie verantwoordelik vir die koste van die bevalling nie. “Die meeste biologiese ma’s wat nie ’n mediese fonds het nie, kraam in staatshospitale. So nie betaal die aanneemouers dalk vir die bevalling en op die ou end is die baba nie beskikbaar vir aanneming nie.”

Interkulturele aanneming

In Suid-Afrika is baie min Indiër- en wit babas vir aanneming beskikbaar, terwyl duisende swart babas liefdevolle huise soek. Die wet beveel aan dat ’n baba in sy eie kultuur geplaas word, maar in ’n samelewing waar meer as 1,5 miljoen hoofsaaklik swart kinders wag om aangeneem te word, is dit nie altyd moontlik nie.

Interkulturele aannemings word ál aanvaarbaarder, veral in stede, sê Lucinda. Daar is egter unieke uitdagings. “Die ouers moet baie hard werk om die kind te laat voel hy behoort, want hy gaan uitstaan en makliker met sy aanneemstatus gekonfronteer word.” Aan die ander kant het elke kind op aarde maar sy tassie probleme.

“Dis baie belangrik dat ouers die regte leiding kry as hulle interkultureel aanneem, maar dit kan werk. Gesels met mense wat oor die rasgrens aangeneem het en hoor wat was die struikelblokke. Dan moet jy jou afvra of jy daarvoor kans sien of nie.”

Letitia het al heelparty suksesvolle interkulturele aannemings hanteer. Een van die grootste uitdagings is vreemdes en familie se persepsies. “In die keuringsproses werk ons ook met die uitgebreide familie en kyk of hulle die kleintjie gaan aanvaar. By net 2 persent van my aannemings was die familie regtig daarteen gekant en kon ons nie die aanneming aanbeveel nie.”

Moet ons regtig 60 dae wag?

Natuurlik wil ’n mens jou baba so gou moontlik ná sy geboorte in jou arms hou, maar in Suid-Afrika is ’n baba eers ná 60 dae wetlik aanneembaar, omdat die biologiese ouers deur die wet 60 dae gegun word om van plan te verander. Al belowe die biologiese ma plegtig dat sy nie die baba sal terugneem nie, kan sy steeds op die laaste oomblik van plan verander en sal jy jou baba moet teruggee.

Baie agentskappe plaas dus glad nie babas voor 60 dae verstryk het nie. Hulle laat dikwels nie eens die aanneemouers weet ’n baba is beskikbaar nie om teleurstelling te voorkom. Die babas word by ’n plek van veiligheid geplaas om almal emosionele trauma te spaar.

Oop of geslote?

Oop aannemings vind plaas wanneer die biologiese ouers en aanneemouers mekaar se identiteit ken. Met ’n geslote aanneming teken die biologiese ma of ouers die baba af en kies dan ’n profiel sonder enige identifiserende besonderhede vir haar kind. Procare hanteer nie oop aannemings nie, maar reël wel dat die biologiese en aanneemouers mekaar ontmoet sonder dat inligting oorgedra word waarmee hulle mekaar kan identifiseer.

Oop aannemings word gewoonlik met pleegaannemings of binne familieverband gedoen.

“Dit kan werk, maar jy moet weet wat die risiko’s en struikelblokke is. Kry kundige leiding voor julle hieroor besluit,” is Lucinda se raad.

My aanneembaba

Sy sal nooit die gevoel vergeet toe hulle gesê het haar seuntjie is hare nie, toe sy gewag het vir sy geboorte en toe sy hom kon vashou nie, vertel die aanneemma Helena van den Berg. “Dit was niks minder besonders as my biologiese kinders se geboortes nie.”

Helena sê hulle was meer as gereed vir ’n baba toe hulle die privaat aannemingsagentskap genader het. “Ons seuntjie was een maand later by ons.”

Haar raad aan voornemende aanneemouers is om eers hul eie hart voor te berei, asook dié van familie en vriende. “?’n Kind moenie aan jou vrese en onsekerhede onderwerp word nie. Wees seker, wees eerlik, en wees onbeskaamd oor die proses van aanneming. Dis ’n wonderlike roete waardeur jou éie kind by jou uitkom, net soos deur swangerskap en geboorte. Twee roetes, maar albei is joune.”

Lizan Botha is tans midde-in ’n interkulturele aanneming. “Ek wou altyd vier kinders gehad het. Ek het reeds twee en daar is geen rede hoekom ek nie nog kinders biologies kan hê nie – ek wil net nie. Aanneming moet ’n hartsbegeerte wees. Die Here het hierdie begeerte in ons harte geplaas. Ons het sewe maande daaroor gebid en met ons kinders daaroor gesels en hulle is vreeslik opgewonde daaroor. Die meeste kinders in hul skool is swart en ras is dus nie vir hulle ’n kwessie nie. Wat maak dit saak?”

Yvonne Cornes vertel: “Vier maande het verloop vandat ons navraag gedoen het tot ons Riley in ons arms kon hou. Natuurlik was ek baie senuweeagtig en angstig nadat ons gehoor het ons profiel is gekies en ons kon hom kry. Ek wou net meer inligting hê en dit was nie moontlik nie – baie frustrerend!

“Dit was ’n interkulturele aanneming en sommige mense het goed gesê wat seermaak voor hul nog ons baba ontmoet het. Uiteindelik het ons vir sommige mense gesê óf hulle ondersteun ons, óf ons sien hulle nie meer nie.

“Die aanpassing van ma-wees was nogal erg. Jy het net twee maande om alles reg te kry. Toe ek Riley die eerste keer in my arms kon hou, was dit ’n oorweldigende ervaring. Ek was heeltemal verbysterd deur die gedagte dat ek verantwoordelik was vir hierdie lewetjie. Gelukkig het hy geslaap, en toe hy wakker word het hy geglimlag. Hy het ons harte aangegryp en ons het nog nooit weer teruggekyk nie.”

Kry hier hulp:

  • Addoption-inbellyn: 0800-864-658.
  • Nasionale inligting en hulpbronne: www.adoption.org.za
  • Die Nasionale Aannemingskoalisie: www.adoptioncoalitionsa.org
  • "Die grootste geskenk" deur Terri Lailvaux, ’n boek oor aanneming deur ’n aanneemouer geskryf vir ’n aangenome kind. Gaan na www.adoptmom.co.za
  • SA Vrouefederasie: 012-325-3920 of www.savf.co.za
  • Procare: 0861-776-2273 of www.procare.co.za
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees