Alles loop reg

akkreditasie
Praktiese wenke om jou dae klopdisselboom te laat verloop.

Elke ma beleef tye waar 24 uur in ’n dag eenvoudig nie genoeg is om alles te doen wat gedoen moet word nie, wat
nog te sê ’n paar dinge doen wat sommer vir die lekkerkry is. Maar soos die spreekwoord sê, betyds keer is ’n goeie geweer. Hier is ons wenke vir ’n meer vaartbelynde lewe. 

Verklaar etenstyd tot heilige tyd

Gebruik gerus die televisie as “kinderoppasser” wanneer jy gou kos maak, maar maak dit ’n reël dat dit tydens etenstyd self afgeskakel bly. Etenstyd kan die heel beste en rustigste gesinstyd wees as jy dit so beplan. Dek die tafel mooi, bid saam en maak die samesyn vir almal lekker. Die Engelse sê Families that eat together, stay together.

BONUSWENK: Moenie te veel klem lê op tafelmaniere en skoon bord nie. Jou kind leer meer uit jou voorbeeld as uit jou preke.

Een ding op 'n slag

Multitasking is nie meer mode nie – wat ’n verligting! Lewensafrigters is dit nou eens dat ’n mens meer doeltreffend is as jy op een ding op ’n slag fokus. Handel dit flink af voor jy aanbeweeg na die volgende taak toe. Moenie toelaat dat jou aandag afgetrek word nie. Beskou jou tyd saam met jou kind ook so. Wees 100 persent daar wanneer jy daar is, en moenie die heeltyd op jou selfoon kyk wat by die werk aangaan nie. Jou kind sal aanvoel dat sy nie jou onverdeelde aandag het nie, en begin kerm en klouerig raak.

BONUSWENK: Moenie enigiets anders doen in die eerste 10 minute ná werk as om op jou kind te fokus nie. Gaan lê op die grasperk en laat sy oor jou kruip. 

Roetine, roetine, roetine

As jou kinders weet hoe die dag verloop, spaar jy vir julle almal baie tyd, moeite en frustrasie. Kinders floreer op roetine en jou lewe sal beslis gladder verloop as hulle outomaties weet dat dit badtyd is onmiddellik ná etenstyd, en dan storietyd en bedtyd.

BONUSWENK: Wanneer jy 'n roetine instel, kan jy gerus 'n sterkaart gebruik om jou kind vir sy samewerking te beloon.

Tyd in die motor

Praat met jou baas oor die moontlikheid van fleksietyd sodat jy nie elke dag ure in die verkeer sit nie, want dis regtig onproduktief.

As jy baie tyd in die motor saam met jou kinders deurbring, wend ook ’n daadwerklike poging aan om dit vir julle almal lekker te maak. Speel speletjies soos “ek sien met my klein ogie” of maak sommetjies met ander motors se registrasienommers, of sing saam of vir mekaar.

BONUSWENK: Natuurlik is CD's en elektroniese speletjies ook aanvaarbaar op dae wanneer julle almal te moeg is om te speel.

Beplanning spaar tyd

Hou ’n groot kalender in jou kombuis waar jy en jou man alles aanteken van doktersafsprake en inentings tot groot vergaderings by die werk. Kyk elke oggend en elke middag daarna. So nie, kan julle jul elektroniese kalenders koördineer. Oppas om op twee of drie verskillende plekke te probeer tred hou, soos in jou dagboek, op jou rekenaar en op ’n kalender, want die kans dat jy ’n fout gaan maak en “dubbel” gaan bespreek,
is dan te groot.

Een groot gekoördineerde kalender sal julle laat sien waar daar ’n gaping is vir iets lekkers saamdoen. Skryf dit dan neer en hou die afspraak heilig! So sal jy ook kan sien of ’n week onnodig vol en stresvol raak en dan kan jy minder dringende afsprake uitskuif na ’n stiller week.

BONUSWENK: Internet-inkopies spaar baie tyd. Beproef dit gerus. Natuurlik moet daar net iemand tuis wees wanneer dit afgelewer word.

Organiseer jou huis

Die eerste stap is om ontslae te raak van rommel en ou klere. Skaf dan ’n klomp houers, mandjies of bokse aan vir speelgoed. Alles in jou huis moet ’n vaste bêreplek hê, van die skêr tot die sleutels. Maak ook ’n laai vir geskenke en al die toebehore wat nodig is vir geskenke toedraai.

BONUSWENK: Moenie van opruim 'n gehate taak maak nie. Leer jou kind van heel kleins af om handjie by te sit. Wees positief en prettig wanneer julle opruim. 

Kortpad in die kombuis

Trek elke naweek ’n spyskaart op vir die week. Dit sal jou help met jou inkopies, sal geld spaar en dan hoef jy nie nog te dink oor wat om te maak nie, jy maak dit net. En terwyl jy in elk geval in die kombuis staan, maak sommer dubbel en vries die helfte vir ’n ander dag.

Maak eenskottelgeregte – dis vinniger en daar’s minder skottelgoed ook. As jy kan, skaf ’n mikrogolfoond, skottelgoedwasser, outomatiese wasmasjien en tuimeldroër aan. Jy sal nooit spyt wees nie, want al dié toestelle spaar baie tyd en werk.

BONUSWENK: As jou beplanning jou in die steek gelaat het, ry by die supermark om en koop 'n gaar hoender.

Staan vroeër op

Twintig minute alleen soggens kan jou die hele dag laat voel asof jy ’n treetjie vooruit is! Maar vir daardie dae waar julle almal verslaap het ... hou ’n “mobiele ontbyt” reg sodat julle kan inspring en ry, en dan in die motor eet. Ontbytstafies of droë Otees sal werk.

BONUSWENK: Sit soveel as moontlik die vorige aand reg, al is jy moeg. Dis oor en oor die moeite werd.

Spanwerk in 'n krisis

Jou man moet ook heeltemal deel wees van jul kind se lewe en versorging sodat jy nie al een is wat moet inspring en verlof insit in ’n krisis nie. Maak beurte met doktersafsprake en siekdae, ook met partytjies en buitemuurse aktiwiteite. Bou ’n ondersteuningsnetwerk van ander ma’s wat ook kan help as die papaja sy ding doen. Eendag help jy haar weer.

BONUSWENK: Gun jou man sy stokperdjies. Moenie probeer boek hou van hoeveel meer as hy jy doen nie. Koester eerder 'n wederkerige gee-en-neem-houding.

 

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees