"Anderkant die grens: Botswana"

akkreditasie
Twee jaar gelede het Lynn Keyter die helder liggies van Johannesburg vir die rustige Francistown in Botswana verruil.

Ek, my man, Abrie, ons seun, Rynard, en ons hond, Max, woon nou al byna twee jaar hier in Francistown in Botswana. Ek en Abrie het mekaar in 2007 op die internet ontmoet. Min het ons toe geweet dat die kort e-posse en geselsies op Skype in ’n liefdesverhaal sou ontvou toe hy vroeg in 2008 die eerste keer vir my in Johannesburg kom kuier het.

Abrie is ’n Suid-Afrikaanse burger, maar woon al ’n hele ruk in Francistown. Sy ouers, ouma Elna en oupa Thinus, bly ook hier. Ons kon later nie meer so ver van mekaar af bly nie en hy het my sommer gou gevra om te trou. Ons het toe die knoop deurgehak en ek het die bedrywige stadslewe verruil vir ’n rustige, veilige, pragtige en baie warm Francistown.

Ons is 11 Junie verlede jaar geseën met ’n pragtige seuntjie, Rynard, genoem na Abrie se oorlede broer. Rynard is in my tuisstad, Roodepoort, gebore. Hier in Francistown is nie ’n privaat hospitaal nie en ek moes ’n keisersnee kry omdat ek al van kleins af met my rug sukkel. ’n Uur ná die geboorte het hy na sy asem begin hyg en is hy afgewoerts waakeenheid toe. Hy is eers sewe dae later ontslaan.

Dit was ’n nare tyd en ons het baie gebid, want ons wou so graag ons klein babatjie huis toe neem. Vandag maak Rynard ons harte elke dag net sagter en sagter. Dis ’n fees om saam met die mannetjie te groei.

Min Suid-Afrikaners weet dat Francistown ’n taamlike groot Suid-Afrikaanse gemeenskap het. En ja, almal ken almal. Die meeste mense het óf hulle eie ondernemings óf hulle werk by die myne. Abrie besit sy eie onderneming: Hy het die verspreidingsregte vir Sasol-olie in Francistown. Die besigheid is nog klein, maar sterk en die potensiaal is enorm.

Ek is ’n opgeleide radiografis, maar praktiseer nie meer nie as gevolg van my swak rug. Tans is ek ’n tuisteskepper terwyl ek my BComgraad probeer voltooi.

Ek is ongelooflik dankbaar dat ek tot dusver in die posisie was om Ryno se eerste jaar heeltyds saam met hom deur te bring. Al wat my hartseer maak, is dat ek hom nie elke dag met my vriende en familie in Suid-Afrika kan deel nie, veral ouma Leonie en oupa Albert. Hoewel hulle slegs 750 km ver woon, is dit net te ver vir ’n naweek se kuiertjie.

Ons bly in ’n meenthuis. Dis gerieflik, gesellig en net ’n klipgooi van die winkels af. Hier is heelwat Suid-Afrikaanse kettingwinkels. Wat vermaak betref is hier nie veel om van te kies nie, daarom kuier en braai ons maar oor en weer.

Ons is gelukkig dat hier heelwat babas van Rynard se ouderdom is en daar is tans nog ’n paar op pad.

Ek beplan om volgende jaar weer te begin werk. Ons sal dan ons deeltydse huishulp, Rejoyce, heeltyds aanstel om bedags na Rynard om te sien. Hier is nie kleuterskole vir kinders jonger as drie nie. Die meeste Suid-Afrikaners stuur hul kinders na Clifton Private of hulle doen tuisopvoeding.

As ons geldsake dit toelaat, sal Rynard op drie Clifton toe gaan. Die skool bied ’n verskeidenheid aktiwiteite en ons wil hom graag daaraan blootstel. Ek sal in ’n oogwink terug SA toe trek, veral as die klein jakkalsies pla. Maar Abrie is versot op sy lewe hier en ons gaan maar waar hy is.

Ek mis van die dinge wat ’n mens in SA as vanselfsprekend aanvaar. Ek raak nog gewoond aan Botswana en worstel soms maar om my kop hoog te hou.

Oupa Thinus skryf ’n boodskap in Rynard se fotoboek: “Elke kindjie wat gebore word, is ’n nuwe gedagte van God en dit bring die boodskap van God dat Hy nog nie met die mens moed opgegee het nie.” Ons behoort as mammas en pappas elke dag dankie te sê dat God ons so liefhet. Ons sal altyd geseënd bly hieronder die lekker warm Afrika-son!

*Lees elke maand E-pos uit die Buiteland in Baba en Kleuter

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees