As jou kind jou huwelik knou

akkreditasie
Vandat julle daardie bondeltjie liefde huis toe gebring het, het alles tussen jou en jou maat verander. Is jul huweliksbootjie op pad rotse toe of is daar nog tyd om dit veilig verby te stuur? 

Anina* en Pierre* is al sewe jaar getroud. Hul oudste seuntjie het pas drie geword en sy boetie is nou vyf maande oud. Ná hul eerste kind het hul huwelik ook ’n ietwat moeilike tyd beleef, maar met die koms van hul jongste kan hul verhouding slegs as stormagtig beskryf word.

Anina vertel: “Ek en Pierre kan deesdae niks anders doen as om te stry nie– oor alles, van klein dingetjies soos wie die bottels moet was tot groot dinge soos geld of hoe om ons oudste te dissiplineer. Ek is moedeloos en moeg en in dié stadium klink skei vir my soos ’n welkome uitweg, want dan is daar darem een mens minder om te versorg!”

Elmari Mulder Craig, ’n seksuoloog van Pretoria, sê Anina en Pierre se probleem is nie ongewoon nie.“Dit is een van die algemeenste probleme wat ek by pasiënte teë kom. ’n Nuwe baba is ’n geweldige aanpassing vir paartjies en iets waarop niks jou kan voorberei nie, dit maak nie saak hoeveel boeke jy lees nie! Die hele dinamika van ’n verhouding verander. Die ma is heeltyd met die kinders besig en moeg en die man voel uitgesluit en heel laaste op die agenda. Daarom is dit so belangrik dat paartjies kommunikeer en dat ’n man sy vrou ondersteun. Die vrou moet weer ’n bewuste besluit maak om haar man eerste te stel sodat haar kinders in ’n stabiele, gelukkige omgewing kan grootword,” sê Elmari.

“Dit gebeur ook dikwels dat die vrou sukkel om al die spreekwoordelike balle in die lug te hou. Sy het verskeie rolle om te vertolk (beroepsvrou, ma, vrou en minnares) en dis dikwels baie moeilik om van die een rol na die volgende oor te skakel.”

Dr. ST Potgieter, ’n sielkundige van Kaapstad, stem saam dat ’n nuwe baba huweliksprobleme kan mee bring omdat daar minder tyd vir mekaar is en ook minder tyd vir lekker dinge soos om te gaan fliek, gholf te speel of TV kyk.

“Nog ’n stressor wat die humeure maklik laat opvlam, is moegheid, veral as die baba koliek het of siek is en die ma heelnag wakker is,” sê hy. “Slaapgebrek verhoog irritasie en frustrasie. Nog ’n faktor is stres. Die een ouer voel dalk die ander een doen nie genoeg nie. Die ma kan voel sy moet altyd na die baba omsien terwyl die pa hom eenkant hou. Of dat sy nooit kans kry om uit die huiste kom nie terwyl haar man gaan werk en met sy lewe aangaan.”

Met ’n nuwe baba is daar ook minder tyd vir romanse en dit plaas groot druk op ’n verhouding, sê ST.“ ’n Vrou wat heeldag na haar baba omsien en dan nog ander verpligtinge moet nakom, is in die aand doodmoeg en wil net slaap. Seks is die laaste ding waaraan sy dink. Die man kan weer juis’n sterk behoefte daaraan hê en dit kan tot ongelukkigheid en konflik lei. ”Nog twee faktore wat stres by paartjies kan veroorsaak, is die ekstra uitgawes wat ’n baba mee bring en onsekerheid by ouers oor of hulle die baba sal kan versorg en suksesvol groot kry.

Hoe hanteer julle die spanning?

  • Alles gaan oor kommunikasie ST sê dis baie belangrik dat ouers hul probleme bespreek, hul gevoelens uitlig en op-lossings vind. “As julle stil bly en dit opkrop, kan julle emosioneel verwyderd raak of die opgekropte gevoelens kan ontplof, wat die verhouding kan skaad.”
  • Kry hulp. Aanvaar die hulp van familie en vriende, sê Elmari. “Oorweeg soms wegneemetes, kry hulp vir daaglikse huiswerktake en onthou dis nie die einde van die wêreld as die huis nie silwerskoon is nie,” sê sy.
  • Maak 'n afspraak. “Probeer om as man en vrou iets lekkers saam te doen en rustig te ontspan. Vra ’n oupa en ouma of baba-oppasser om na die kinders te kyk,” sê ST. Elmari sê kinders moet van kleins af leer dat Ma en Pa alleentyd nodig het.
  • Los mekaar af. As Ma heeldag na die baba omgesien het, kan Pa dalk die baba bad en vir die bed regkry sodat sy maat ’n bietjie op die bank kan lê en ontspan, sê ST.
  • Raadpleeg 'n kundige.  “Praat met ’n berader sodat julle die onmin, spanning en ongelukkigheid kan oplos,” sê ST.“’n Dokter kan ook ’n kalmeermiddel voorskryf.”
  • Moenie moed verloor nie.  ST waarskudat julle nie in die eerste twee jaar enige groot besluite oor die huwelik neem nie. “Wag tot die baba groter is voor julle tot drastiese stappe oorgaan. As julle die stresvolle tyd kan deur sien, kan julle dalk ’n vars perspektief kry en beter besluite neem. Dit gaan gewoonlik ná nege tot 12 maande beter.”
  • Maak 'n kopskuif.  Besef julle is nou ouers, sê ST. “Jy is nie nou net ’n vrou, man of ’n eggenoot nie, jy is nou ’n mamma of pappa en dit bring bepaalde verantwoordelikhede mee. Maak vrede daarmee.”
  • Verstewig die band.  Beplan ’n daaglikse verbintenissessie waar julle sonder onderbrekings oor die dag se gebeure kan gesels, sê Elmari.
  • Versorg jouself.  Eet gesond, doen oefening en wees goed vir jouself. “Laat Pa na die baba kyk sodat jy saam met jou vriendinne kan kuier. Jy sal sommer weer nuwe woema hê,”sê ST.

Slaapkamersake

Sit die vonk terug

Dis belangrik om die vonk in jou sekslewe te behou en dit verg beplanning, sê Elmari. “Stuur die kinders soms na ’n ouma toe of reël ’n betroubare kinderoppasser. Gaan eet uit of gaan slaap ’n aand in ’n hotel. Onthou, kinders moet ook onafhanklikheid leer en besef dat julle weggaan, maar altyd weer terugkom. Ek en my man hou een keer per week ’n afspraakaand en ek is ook tans besig om ’n databasis van betroubareoppassers vir ouers saam te stel.”

Dis jul bed

Elmari sê babas en kleuters hoort liefs nie in ouers se bed nie. Bababottels en kinders peelgoed ook nie. “Dis belangrik om ’n sensuele en rustige atmosfeer in jul kamer te skep.”

Verban die skuldgevoel

Moenie skuldig of bekommerd voel omdat seks die laaste ding in jou gedagtes is nie, sê Elmari. Sy skryf in die boek Die A-Z van seks dat nuwe ma’s se seksdrang soms weens borsvoeding, die aanpassing by’n nuwe roetine, min slaap en hormoonwanbalanse kan afneem. “Dit duur tot 12 maande voor jou hormoonvlakke stabiliseer. Wees dus sensitief vir mekaar se behoeftes.”

Wees goed vir mekaar

Eers wanneer julle weer genoeg slaap in kry, sal jul seksdrang na normaal terug keer. Eet gesond en doen matige oefening. Geniet saam ’n ontspannende borrelbad en masseer mekaar.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees