Betrokke pa's

akkreditasie
Help jou man om sy rol in jou kind se lewe vol te staan deur hierdie wenke te volg.

Sommige pa’s sukkel met die reuseveranderinge wat ’n baba se koms bring, en dit kan inspanning verg voor hy met sy baba bind en voor hy gemaklik voel met interaksie.

Dis ook ’n feit dat sommige mans so uitgesluit voel tydens swangerskap en geboorte dat dit baie aanmoediging verg voor hy voel dat hy selfs toegelaat word om betrokke te raak. Onthou, binding is nie ’n nou-of-nooit-storie nie. Dis eerder ’n liefdesverhaal met vele hoofstukke, wat die een na die ander op mekaar bou.

Hier is ’n paar behulpsame wenke om pa te help bind:

  1. Vat jou man saam na jou ondersoeke tydens jou swangerskap. Die hoor van die hartkloppie en die sien hoe julle baba beweeg met ’n sonar is toweroomblikke wat julle nader aan mekaar sal bring, en so skep julle ’n liefdevolle, verwelkomende wêreld vir jul baba.
  2. Moedig jou man om die ‘wetenskaplike’ te wees as dit kom by die swangerskap. Laat hy naslaan en oplees. ’n Fetus is werklik fassinerend, en soveel te meer wanneer dit sy eie is.
  3. Laat hy voel hoe julle baba skop, en knyp baie troeteltyd af waar hy jou maag kan insmeer met room en so met baba bind.
  4. Stuur hom om inkopies te doen. Jy sal baie items nodig hê kort na jou baba se geboorte. Vra jou man om alles te gaan koop en stel voor dat hy iets spesiaals vir die baba uitsoek, net van hom. Moenie voorstelle maak oor wat, of inmeng met sy keuse nie.
  5. Gee hom verantwoordelikheid sodra julle baba gebore word. Jy kan nie alles self doen nie, en jy moet ook nie probeer nie. Vra jou maat om badtyd of bedtyd te behartig, en los hulle uit in die tyd. Dit sal hulle spesiale tyd saam word. Moenie inmeng nie. As hy hulp nodig het, sal hy vra.
  6. Laat hom troos en winde uitvryf. Pa’s is kampioene met winde uitvryf. Hulle greep is stewiger en hulle vryf en tik winde baie gouer uit. Pa’s is ook nuttig wanneer baba ongedurig voel en jy te moeg is om te sus of te wieg. Om ferm in sterk arms vasgehou te word, laat jou baba veilig en geborge voel, en sal hom kalmeer.
  7. Koester spesiale oomblikke, soos pa en baba se eerste bad saam. Wees byderhand om te help met die handdoek wanneer baba klaar is. Net soos wat vel-to-vel kontak goed is vir jou en jou baba, is dit goed vir pa en baba ook.
  8. Moedig hom aan om ’n babamasseringkursus te doen. Dit sal hom selfvertroue gee as hy aanvanklik skrikkerig was om julle baba te hanteer.
  9. Laat hom saam met ander pa’s uithang. As jy ander pa’s ken wat dit geniet om pa te wees, kan jy ’n sosiale geleentheid organiseer. Maak seker dis mans waarby hy ’n aanklank sal vind, sodat hulle stories en ervaringe kan deel.
  10. Sien raak wat hy doen, en bewonder hom daarvoor.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees