Dis 'n Vierling!

akkreditasie
Teresa (35) vertel hoe sy gesukkel het om swanger te raak en hoe sy 4 babas sonder enige hulp van buite grootmaak.

Ons woon op Reitz in die Vrystaat, maar vanweë die aard van Hennie (32) se werk – hy is ’n siviele ingenieur – trek ons gereeld na waar hy ’n kontrak het. Ek was ’n haarkapper maar het ses jaar gelede ophou werk toe ons getroud is sodat ek saam met Hennie kon gaan waar hy werk.

Ons was vier jaar in Zambië tot ek uitgevind het ek is swanger. Ek het toe nie weer teruggegaan nie en Hennie het ook permanent teruggekeer na Suid-Afrika, net betyds vir die geboorte van die vierling. Ons het baie gesukkel om swanger te raak.

Die gesukkel om swanger te raak

Omdat ek met ons huwelik al 29 was wou ons onmiddellik met ’n gesin begin. In die eerste drie jaar het ek by die ginekoloog geboer en ook behandeling vir ovulasie gehad. Daar is vasgestel dat my Fallopiusbuise verstop was. Die beste roete sou dus in vitro-bevrugting (IVB) wees.

Ons het in 2007 twee behandelings by ’n kliniek in Johannesburg ondergaan, maar albei was onsuksesvol. Daarna het ons by ’n homeopaat gaan aanklop. Hy het ons ’n eetplan laat volg wat die suur en gis in ons liggame laat afneem het.

Ná ’n jaar van gesond eet en suiwering het ons besluit om weer vrugbaarheidsbehandeling aan te pak.
Ons het ook van dokter verander om nuwe perspektief te kry. Weens die twee mislukte pogings het ons nuwe dokter bykomende bloedtoetse laat doen en vasgestel dat ek sperm-teenliggaampies het. Ek
moes dus ekstra medikasie daarvoor kry terwyl ons IVB ondergaan het.

Die arts het besluit om vier eierselle terug te plant, maar dié poging het tot ons groot teleurstelling ook misluk. Van die bevrugte eierselle is gevries en later is vier weer ingeplant. Weer was dit onsuksesvol.

Ek en Hennie was op moedverloor se vlakte, maar die dokter was positief en ons kon sien dat hy werklik al sy kennis en aandag aan ons gewy het. Was dit nie vir hom nie sou ons seker weer ’n IVB-blaaskans
geneem het.

Sy aansporing het ons egter oortuig om nog ’n keer te probeer. Ons Bybelstudiegroep het vir ons gebid en gevra dat die Here vir ons uitkoms gee. Ons het ophou vra vir kinders en Hom begin loof en prys vir die kinders wat Hy vir ons gaan gee.

Swanger, met 4!

Ons is weer deur die hele siklus en vier eierselle is weer teruggeplant. Groot was ons verbasing toe ons uitvind ek is uiteindelik swanger.

Die dag toe ek vasgestel het ek is swanger het ons al vermoed daar is meer as twee babas. Die dokter het gesê die bloedtoetse dui aan dat ek “goed swanger” is. Met die eerste sonar was daar vier sakkies.
Met die volgende sonar was daar reeds vier hartkloppies. Op hierdie dag het dit ’n werklikheid begin word: Daar was ’n vierling op pad.

Ons was verheug, hoewel Hennie en die dokter effens geskok gelyk het!

Ná al die beproewinge, teleurstellings en hartseer was ons trane nie meer van droefheid nie, maar van geluk, verwondering en blydskap.

Die swangerskap het aanvanklik baie goed verloop, veral as ’n mens in ag neem dat daar vier klein mensies in my gegroei het.

Om my voor te berei het ek baie oor meerlinge nagelees. Ek het besef ’n mens moet baie goed georganiseerd wees en hulle so gou moontlik in ’n roetine kry. Ek was nie bang nie, want ná die baie
teleurstellings kon ek nie wag om ’n ma te wees nie.

Die dokter het my aangeraai om rustig te bly en ek het die hele swangerskap lank by my sussie in Pretoria gebly. Ek was aan die begin verskriklik naar. Dit was amper onmoontlik om dokter toe te ry sonder om naar te word.

Ek het eers ná 24 weke ongemaklik begin voel. My maag was toe al so groot dat ek baie moeilik kon omdraai of opstaan. Ek moes minstens een keer per maand ginekoloog toe gaan en my bloeddruk en
die babas se hartklop elke week by die hospitaal laat monitor.

Spoedige geboorte

Met ’n roetine-ondersoek is toe vasgestel dat ek ’n urine-infeksie onder lede het. Ek is opgeneem en met HELLP-sindroom gediagnoseer. Dis ’n swangerskapskomplikasie wat lewensgevaarlik kan wees en
ek moes ’n noodkeisersnee ondergaan; dit was al hoe my en die babas se lewe gered kon word.

Die spannetjie is ná 28 weke swangerskap op 15 Desember 2009 in die Kloof- Medi-Clinic in Pretoria gebore. Almal het met hul aankoms dit darem reggekry om te huil, al het dit soos die gepiep van muisies geklink.

Drikus (1,12 kg), Fourie (1,09 kg), Jan- Hendrik (1,18 kg) en Lienka (1,05 kg) was almal gesond, maar klein en die drie boeties en een sussie moes meer as twee maande lank in die hospitaal se neonatale
waakeenheid bly. Danksy die pediater en personeel se uitstekende sorg en baie gebede van vriende en familie kon al vier op 20 Februarie 2010 vir die eerste keer huis toe gaan.

Terug by die huis

Dit was baie lekker om hulle tuis te hê. Die eerste paar weke was taamlik uitputtend toe hulle elke drie uur bottel moes kry. Dit het ’n ruk geduur om al vier gevoed te kry en hul winde uit te vryf, net om te sien dis amper tyd vir die volgende voeding.

Namate die babas meer op ’n slag en minder kere per dag kon drink, het sake ál makliker geword.
Ons het besluit om hulle sonder hulp groot te maak, al het ons uit verskeie oorde gehoor dat dit onmoontlik is. My ma het ons net die eerste week bygestaan sodat ons ons voete kon vind. Verder het ons net groot hulpmiddels soos ’n skottelgoedwasser, ’n tuimeldroër en ’n wasmasjien.

Teen vier maande het hulle begin deurslaap. Hulle word seweuur saans in hul bedjies gesit en kry die volgende oggend halfses die eerste bottel van die nuwe dag. Sedert hulle begin deurslaap het was daar net drie aande wat ons moes opstaan om na een om te sien. Ek kom gewoonlik voor nege in die bed en staan dan vyfuur op – dus slaap ek meestal ’n gerieflike agt uur.

Roetne, roetine, roetine!

’n Mens moet maar net kalm bly en elkeen sy beurt gee. Roetine is uiters belangrik en sodra hulle daaraan gewoond raak en weet wat wanneer gaan gebeur, is almal sommer tevrede en gelukkig. Ek en
Hennie verdeel ook die takies as hy tuis is. Met badtyd bad hy hulle en ek droog af, smeer room en trek aan. Voor jy kan sê “nat” is al vier gebad, aangetrek en met ’n bottel in die hand.

Ek hou by ’n streng roetine. Dit is baie belangrik om kalm te bly en nie gespanne te raak as hulle woelig word of huil nie. Kinders voel baie vinnig aan as jy paniekerig is. As jy kalm bly, hou jy hulle ook rustig.

Om dinge geriefliker te maak het ons ’n rooster opgestel om presies te weet hoe laat die voedings, slaaptye en speeltye is. Die geheim is om daarby te hou. Verder hou ons elke ding op sy plek sodat ons dit dadelik kan kry.

Hennie help met die eerste voeding voor hy werk toe gaan en met die laaste voeding saans. Naweke help hy met al die voedings en dit gee my darem ’n blaaskans.

Raad

My raad aan ander ma’s met meerlinge is roetine, roetine, roetine. Bly altyd kalm en moet nooit vergeet dat meerlinge baie spesiaal is nie. Doen goed navorsing oor toerusting soos stootwaentjies en monitors
om seker te maak dit vergemaklik jou taak en frustreer jou nie. Bad hulle net elke tweede aand as hulle
nog baie klein is. Speel elke aand dieselfde rustige liedjie voor hulle gaan slaap. Speel ook elke oggend dieselfde (meer opgewekte) liedjie as hulle moet wakker word.

Dis verbysterend om te sien hoe vroeg elkeen se persoonlikheid na vore kom. Ons kon ná ’n week by die huis elkeen aan sy of haar gehuil uitken. In hierdie stadium is Drikus die een wat die meeste aandag soek, Fourie die ongeduldige een, Jan-Hendrik die stil en soet een en Lienka die woelige een.

Hulle “speel” al met mekaar en trek gereeld mekaar se aandag, en dan babbel en lag hulle vir mekaar. Hulle begin ook nou mekaar se speelgoed “steel” en daar sal seker eersdaags ’n paar gevegte uitbreek!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees