'Ek het geen ervaring gehad nie'

akkreditasie
Moeg vir jou werk? Dalk inspireer ouerskap jou tot ’n heel nuwe loopbaanrigting. Ons het gaan hoor hoe 'n vindingryke entrepreneur munt slaan uit kinders en ouers.

Watoto: onvergeetlik vir ma én baba

Hoekom bedank iemand met ’n M-graad in die regte uit haar top-pos in ’n internasio-nale regspraktyk om ’n babawinkel in Fourways, Johannesburg, oop te maak? Omdat sy nie tydens haar swangerskap mooi klere kon koop nie, verduidelik Mary Chege, ma van die driejarige Cicu en eienaar van die eiesoortige Watoto in Cedar Square.

Met Watoto, verduidelik Mary, ’n Keniaan van afkoms, wou sy ’n ma-en-baba-winkel met ’n verskil skep. “En alles het by Cicu begin – sy was my inspirasie.”

Wanneer en hoe het die idee ontstaan?

Toe ek ’n paar jaar gelede swanger was met my eersteling, was dit baie moeilik om mooi klere te kry vir die professionele en korporatiewe omgewing waarin ek gewerk het. En hoe groter my maag gegroei het, hoe meer het ek gesukkel om mooi onderklere te kry! Toe begin ek rondkyk op my sakereise na New York, Parys, Dublin en Londen, en sien wat is alles daar beskikbaar vir voornemende ma’s.

Ek is ook ’n baie feitelike mens, en het baie gesukkel om regtig goeie boeke te kry om vir my presies te verduidelik wat in my lyf aan die gang is. Toe het ek begin wonder oor die idee van één winkel met alles wat ’n nuwe ma begeer onder een dak: kraamdrag, mooi babaklere, boeke, ’n koffiewinkel wat gesonde kos en drankies spesiaal vir verwagtende vroue bedien ...

So is Watoto, wat “kinders” in Swahili beteken, gebore. In Januarie 2007 het ek as prokureur bedank en teen middel van 2007 was ons winkel se deure oop.

Wat maak Watoto spesiaal?

Ons het probeer om aan alles te dink wat die lewe makliker sal maak vir ’n nuwe ma of verwagtende vrou. Ons wou ’n spasie skep waar hulle gemaklik sal wees en waarbinne hulle in groot gerief kan inkopies doen. Ons aantrekkamers is byvoorbeeld groot genoeg om ’n winkeltrollie of ’n stootwaentjie te kan akkommodeer. En daar is ’n spesiale kamer waar mamma vir baba kan voed of droogmaak. As jy op soek is na iets anders as massa-geproduseerde klere vir babas en kleuters, is ons klere van sagte katoen net die ding vir jou.

Watter struikelblokke moes jy oorkom?

Ek kom uit die regswêreld, ’n baie professionele, deeglik beplande en rigiede werks-omgewing. Om dit te verruil vir winkelbaas wees, het nogal ’n reuse-kopskuif gekos. Ek het geen ervaring gehad nie, ook nie van werkgewer wees nie, en moes alles organiseer - van die reekse wat ons sou aanhou tot hoe om dit uiteindelik betyds afgelewer te kry. Gelukkig het ek langs die pad verskeie mense ontdek wat bereid was om hul kennis met my te deel en my te help om my droom te bewaarheid. Geld was ook maar ’n kopseer. Ek en my man, Xola Sitole, moes uiteindelik ons eie spaargeld gebruik en ’n lening aangaan om alles te finansier.

Raad aan ander entrepreneurs?

Dis wonderlik om te sien hoe goed in plek val as jy eers regtig jou kop op ’n ding gesit het. Verlede jaar hierdie tyd het ek net ’n sakeplan gehad – nou is daar al iets sigbaar, ’n winkel wat mense kan besoek en waarvan hulle hul vriende vertel.

Suksesse?

Jy moet hoor van waar kom mense om ons winkel te besoek op aanbeveling van hul vriende! Ons het in die eerste vier maande se tyd al ses versoeke gehad om die konsep in ’n franchise-besigheid te omskep. Mense is eenvoudig dol op die konsep. Ons wil onsself net eers deeglik vestig, dan sal ons wel uitbrei na ander dele van die land. Maar glo my, ons sal die mense wat by Watoto betrokke raak, met die hand keur, want ons wil die unieke kwaliteit behou.

Skakel Watoto by 011 465 3702

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees