"Ek is 'n mamma op wiele"

akkreditasie
Marlindy-Rosé Badenhorst is 'n parapleeg en die enkelma van 'n lewenslutige peuter. Sy deel hul inspirerende verhaal. 

Elf jaar gelede is Marlindy-Rosé Badenhorst (vandag 27) se lyf van haar heupe af ondertoe verlam weens ’n motorongeluk. Die jong tiener van Wesselsbron in die Vrystaat was saam met haar oom en ’n vriend op pad huis toe ná ’n duikvakansie in Sodwana.

’n Bees het voor die motor wat voor hulle gery het, ingeloop en hulle het noodgedwonge in daardie motor vasgery – en die mooi meisie met die groot drome se lewe het in ’n oogwink vir altyd verander.

Sy vertel verder: “Al die mense in die ander voertuig is oorlede. Ek het op die agtersitplek gesit en het ná die ongeluk geen bloed op my gehad nie, daarom het die paramedici my laaste in die ambulans gelaai en na ’n hospitaal in Welkom geneem.

"Eers hier het die dokters gesien dat my rug op drie plekke gebreek is, asook my gewrig. Ek is onmiddellik oorgeplaas na ’n hospitaal in Bloemfontein, waar ’n spesialis aan my rug geopereer het.”

“Daarna is ek Pretoria toe gestuur vir rehabilitasie. Ek het my 16de verjaardag in die hospitaal gevier. My ma en ouma het darem gereeld ’n soetigheid of iets gebring om my op te beur.

“Om verlam te wees, was ’n groot aanpassing. Ek het voorheen vir Noord-Vrystaat netbal gespeel en was baie lief vir sport. My lewe het drasties verander en ek moes baie van my drome laat vaar.

“Ek het gelukkig betyds besef dat ek my gemoed sterk moet hou, produktief moet lewe en my brein besig moet hou. Die eerste twee jaar ná my ongeluk was die ergste. Dit het gevoel of almal my aanstaar. Gelukkig was my familie en vriende in dié tyd my steunpilare. Daar was mense wat vir my ma sou vra hoe dit met my gaan terwyl ek langs haar sit. Dit het my ontstel – net omdat ek verlam is, beteken nie daar is fout met my verstand nie!

Treetjie na onafhanklikheid

“Na skool het ek na Plettenbergbaai verhuis. Hier het ek iemand ontmoet en besef hoe groot my begeerte is om ’n babatjie van my eie te hê. Ek wou beslis nie ma-wees misloop net omdat ek verlam is nie. Ek het gedink ek sou ’n kind moes aanneem, maar ’n ginekoloog het bevestig dat daar geen probleme met my fertiliteit is nie.

Noem my mamma

“Ek het twee maande later swanger geword. Ek was oorweldig deur die goeie nuus, maar saam met die opgewondenheid het ek baie vrese gehad. Ek was bang dat die baba se beentjies sou krom wees omdat ek heeldag in ’n rolstoel sit, of dat ander komplikasies sou opduik. Dit was ’n ongelooflike gevoel om C.J. die eerste keer te voel skop; ek is baie dankbaar oor dié ervaring.

“Ek het regtig ’n moeilike swangerskap gehad. Met die groot maag kon ek nie meer behoorlik buig nie en het moeilik asemgehaal. Ek moes ook doeke dra omdat C.J. op my blaas gedruk het en weens die kateter wat ek gebruik, het ek dikwels nier- en blaasontsteking gekry. Ek het dus gereeld antibiotika gedrink en was bang dat dit ’n invloed op my baba sou hê.

“Op vyf maande het ek groot geskrik toe ek skielik begin bloei het. Gelukkig het dit opgehou. Ons het in daardie stadium verhuis en ek het kartondose opgetel en was kwaai gestres.

“Op 38 weke het ek weer gebloei en is onmiddellik ginekoloog toe. Dié keer was ek in kraam. My vrugwater het reeds gelek en ek het kraampyne gehad. C.J. is met ’n noodkeisersnee verlos. Ek het volle narkose gekry en nie spinale verdowing nie omdat ek ysterpenne in my rug het. C.J het met geboorte 2,5 kg geweeg en was ’n gesonde babatjie met ’n bos blonde hare. Toe ek hom die eerste keer in my arms vashou, het ek geweet my doel hier op aarde is om ’n mamma te wees.

“Ek en C.J. se pa is intussen uitmekaar, en ek en hy (toe 7 maande oud) het alleen in ’n woonstel op Plettenbergbaai gaan woon. Om ’n enkelma te wees, was nie maklik nie. Dit vereis dubbel die energie en ’n mens moet sterk wees ter wille van jou kind.

"Danksy my broer, Thys, het ek toe reeds ’n paar woonstelle in Wesselsbron besit en kon dus van die huur leef. Ek het ook vroeër in my lewe ’n naelkursus voltooi en kon tussendeur ’n ekstra geldjie daarmee verdien. Ek het daarby ’n kunswinkel bestuur, foto’s geneem en plakboek- en kunsklasse aangebied.

"Ek het wonderlike vriende in Plettenbergbaai gehad wat net ’n oproep ver was. Wanneer ek hulp nodig gehad het, was daar altyd iemand wat my bygestaan het. ’n Huiswerker het een keer per week die nodige huistakies verrig. Die res het ek self gedoen en is baie trots daarop! Ek het C.J. self gebad, aangetrek, gevoed en in sy kot gesit. Wanneer jy ’n mamma is, skop jou moederlike instink in.

Terug na my wortels

“Ons het ’n rukkie gelede terug Wesselsbron toe getrek omdat my grootste steun, my broer Thys, hier woon. Dit gaan ook finansieel beter met ons hier. Thys is nie net my broer nie – hy is my beste vriend, ’n fantastiese sakeman en die beste rolmodel waarvoor C.J. kan vra. My oupa en oom woon ook hier en ek is baie dankbaar vir al hul bystand.

"Gelukkig kom kuier my ma gereeld uit Plettenbergbaai vir ons. C.J. gaan soggens na ’n dagsorgsentrum wat net ’n blok van ons huis af is. Ek laai hom af en SMS dan gou vir sy juffrou om te sê hy wag voor die deur. In die middae maak ek kos vir myself, C.J. en Thys.

“My huiswerker help my 4 keer per week met huistake en dit maak ’n reuse verskil! Ek word gefrustreerd as ek sukkel met daaglikse dinge soos om iets wat te hoog is, af te haal. Ek is baie keer te trots om hulp te vra, maar dit is soms nodig om hulp te aanvaar. As ek iewers heen wil gaan, of dit nou vinnig lisensiekantore toe is of met vakansie, moet ek altyd vooraf bel om te hoor of alles rolstoelvriendelik is, die badkamers inkluis.

Die uitdagings

“Daar is definitief uitdagings met elke nuwe fase wat C.J. betree. Hy is tans 28 maande oud en besig met potjielesse. Hy is gelukkig ‘n selfstandige kind, maar daar is maar soms glipsies wanneer hy nie die toilet vinnig genoeg haal nie! Hy is geweldig verantwoordelik en onafhanklik –hy haal self sy doeke, klere en vogdoekies uit. Hy gooi sy eie klere in die wasmandjie en help my waar hy kan by die huis.

“Die gebruik van my bene is nou wel weggeneem, maar ek het soveel meer teruggekry. Ek maak C.J. met trots alleen groot. Ons het pas teruggekeer van nog ’n duikvakansie in Sodwana. Ek weet dit is een van vele wat nog kom – ek en dié mannetjie gaan nog baie dinge saam doen. Ek sien uit daarna om eendag weer iemand spesiaal te ontmoet om hierdie dinge met my en C.J. te deel.”

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees