Gelukkig getroud, baba en al

akkreditasie
Net toe julle gedink het julle verstaan mekaar, dat julle ’n gemaklike balans in jul huwelik bereik het, daag ’n klein pienkvoet op en verander alles. Skielik moet julle nuwe reëls maak, nuwe onderhandelinge aanknoop, en ’n balans vind tussen die behoeftes van die nuwe klein liefling en die ander, ouer liefling ... Die geboorte van ’n baba stuur skokgolwe deur die meeste huwelike, maar byt vas – as julle dit reg hanteer, lê die beste jare van jul lewe saam nog voor!

Verdeel pligte gelykop

Daar’s min dinge wat ’n huwelik so toets soos die konstante gekibbel oor huis¬hou¬delikhede. Ouerskap is harde werk en daar’s ’n magdom take wat daagliks verrig moet word bo en behalwe die gewone huishoudelike take. Bespreek vooraf hoe die verdeling daarvan gaan plaasvind en of julle hulp van buite gaan aanvaar. Wanneer baba eers daar is, moet hierdie verdeling gereeld hersien en verfyn word. Julle sal gou agterkom watter pligte kan saamgegroepeer word, watter pligte julle geniet en watter uitputtend is.

Onthou dat dit ’n veeleisende werk is om ’n tuisblyouer te wees. Dit het geen finansiële beloning nie, maar talle praktiese en emosionele voordele vir die kinders. Hou dit dus in gedagte wanneer die pligte verdeel word. Dis alles wonderlik as pappa ook snags wil opstaan en voedings behartig, maar as hy bedags ’n veeleisende werk het wat die enigste finansiële inkomste genereer, is dit dalk beter om sy nagrus ’n prioriteit te maak.

Hy kan eerder onderneem om elke aand vroeg tuis te wees om die kinders te bad. Onthou ook om naweke ’n bietjie afwisseling in te bou. Maak beurte om laat te slaap, bottels te was en die oggenddoek te ruil.    

Wees duidelik oor wat jy wil hê

Dit help nie jy werk jouself op oor dinge wat jou maat doen of níe doen nie. Niemand kan gedagtes lees nie en julle is albei in ’n splinternuwe situasie met nuwe kodes en gewoontes. As jy voel jou maat bring nie haar of sy kant nie, sê dit met liefde en begrip – daar is dalk ’n goeie rede daarvoor.
Dit gebeur maklik dat maande se voorbereiding ’n wanbegrip of onrealistiese verwagtinge kan oplewer. Dit is dan noodsaaklik om met mekaar hieroor te praat, eerder as om dinge te laat smeul en negatief te begin voel. Wees ook bedag daarop dat jou woorde met jou dade kan bots – jy kla dalk dat jou maat nie genoeg help nie, maar dan kritiseer jy hom onophoudelik as hy wel iets doen. Dit veroorsaak verwarring en frustrasie vir julle albei.

As julle van die begin af openhartig met mekaar is, weet julle wat julle van mekaar verwag en is daar meer ruimte vir onderhandeling as dinge nie uitwerk soos julle beplan nie.

Werk as ’n span

Julle streef na dieselfde doelwit: ’n gelukkige en gesonde gesinslewe. Julle wil die beste vir mekaar en vir jul kinders hê. Dit is die basis vir die vertroue wat julle in mekaar moet stel.
Veral wanneer dit by kinders kom, help dit nie om verdeeld te wees oor hoe julle sekere situasies hanteer of watter oplossings julle verkies nie. Dit klink miskien outyds, maar dit werk baie goed om ’n verenigde front na buite te hou. Moenie mekaar in die openbaar kritiseer of verkleineer nie, aanvaar jou maat se goeie bedoelings en wees geduldig met mekaar.

Tuis behoort daar altyd ruimte vir gesprek te wees en moet julle praat oor hoe julle dissipline, konflik, ongevalle en ander situasies gaan hanteer. Kinders tel baie vinnig onreëlmatighede tussen ouers op en manipuleer dit dikwels tot hul voordeel. Ouers wat as ’n span saamwerk en konsekwent optree, bied baie sekuriteit aan hul kinders, asook aan mekaar.

Maak tyd vir romanse

Dis verstommend hoe ouerskap skielik 99 % van jou huwelik opneem en die res verdring tot ’n skamele 1 %. Dis heel verstaanbaar tydens die eerste paar weke van aanpassing, maar dis nie ’n stand van sake wat behoort voort te duur nie.

Ongelukkig kom dit nie alles vanself reg nie en is dit nodig dat julle aktief daardie 1 % vermeerder tot ’n persentasie waarmee julle albei gelukkig is.

As julle egter van die begin af moeite doen daarmee om ruimte te skep waar julle nie slegs ouers is nie, maar ook minnaars, kan julle vele probleme later uitsny. Identifiseer daardie dinge wat vir julle as jong getroudes die lekkerste was en maak plek daarvoor in jul daaglikse of weeklikse rooster. ’n Weeklikse ete-afspraak, goedkoop fliek op Dinsdae, soggens se draf of muurbal speel, Saterdagoggende se tuinwerk, Sondagaand kerkbywoning – wat ook al maak dat julle instinktief hande vashou en herinner word aan die vlammetjie (wat sommige dae maar flou brand).

Gebruik jul infrastruktuur – oumas, kinderoppassers, bure – en maak tyd vir mekaar. Al is julle moeg of aanvanklik nie lus nie, moenie ingee en die afspraak kanselleer nie. Dit behoort dieselfde prioriteit as ’n vuil doek te geniet.

Gee mekaar ruimte

Net soos julle tyd saam moet geniet, is dit soms ook nodig vir alleentyd. Gee mekaar tyd om ander belangstellings te ontwikkel. Tyd om alleen te bad, lees, gholf te speel, te skryf of te skilder, naaldwerk of houtwerk te doen, tyd om koerant te lees – dit is alles dinge wat jou laat ontspan en krag gee om ’n beter ouer en ’n beter maat te wees.

Wees versigtig dat hierdie alleentyd nie selfsugtig raak nie. As jy sê jy gaan die middag gholf speel, moenie laatnag gehawend tuiskom nie. As jy vir ’n halfuur wil bad, moenie drie uur lank lê nie. Hou mekaar in gedagte en maak seker dat dit nie slegs een maat is wat sy of haar alleentyd opeis nie.
Die konflik tussen ’n pa wat heeldag werk en saans moeg is en ’n ma wat heeldag na die kinders omsien en moeg is vir hulle, is ’n oeroue konflik. Besluit hoe julle dit gaan hanteer sonder dat een se uitputting afgemaak word as onbelangrik. En tyd voor die televisie of in ’n winkelsentrum behoort nooit beskou te word as alleentyd nie ...

Wees positief

Daar is paartjies wat besluit om nooit kinders te hê nie omdat hulle nie kans sien vir die negatiewe invloed wat dit op ’n huwelik het nie. Daar is ook verskeie studies wat toon dat paartjies wat kies om kinderloos te bly, se kanse op ’n gelukkige huwelik groter is.

Die huwelik is reeds ’n uitdaging, en kinders het die geneigdheid om enige krake in ’n huwelik te laat oopbars en onderliggende probleme aansienlik te kompliseer. Wanneer jy dus op jou kinderlose vriende se wit rusbank sit en hul ontwerperslewe bewonder, onthou dat die ander kant ook waar is. Kinders kan ’n wonderlike nuwe dimensie in jou huwelik bring en jou laat groei en uitdaag om ’n beter mens te wees. Hulle kan jou lewe verryk en tot in jou oudag vir jou vreugde en plesier verskaf.

Kinders kan jou liefde vir jou maat verdiep en ’n besonderse band tussen julle skep. Dit hang egter nou van jou af. Om ’n positiewe ingesteldheid te hê en moeite te doen met jou huwelik, is ’n keuse wat jy maak. En dis ’n keuse wat telkemale getoets sal word. As ouer is ’n mens dikwels onseker oor dinge. ’n Positiewe houding is egter die beste begin.     

“Ek en my vrou het altyd klein bederf-gewoontes gehad waarmee ons mekaar verseker het van ons liefde, soos ’n sjokolade onder die kopkussing, koffie in die bed, lepellê op die bank voor die televisie en rugmasserings.

“Sedert die geboorte van ons baba het ons nie meer tyd en energie vir sulke gebare nie. Ons bly skaars voor met ons dag-tot-dag-verpligtinge. Ons moet onsself gereeld herinner dat ons ‘pligte’, soos die ruil van ’n doek, die maak van bottels, die opstaan snags, ook getuig van ons liefde.
“So nou en dan kry ons dit reg om ’n bederf in te glip – soos ’n koppie tee terwyl sy borsvoed, ’n rugmassering as kleintjie slaap, beurte om ’n Sondagmiddagslapie te neem – en dan is dit absoluut hemels.” Gerhard (41)

“Die grootste skok van ’n baba is die meedoënlose vernietiging van enige geslagsgelykheid wat in ons huwelik bestaan het. Ek en my man het voor ons huwelik besluit dat ons altyd sal sorg dat ons dieselfde hoeveelheid pligte en verantwoordelikhede het. Ons kon dit heel maklik volhou gedurende die eerste paar jaar van ons huwelik.

“Met my swangerskap moes hy noodwendig sekere pligte oorneem en dit was vir my moeilik om te aanvaar dat ek nie ’n keuse het nie. Toe ons baba uiteindelik daar is, was dit vir my ’n geweldige aanpassing om snags die enigste voedingsbron te wees. Ja, my man het saam met my wakker gebly tydens die voedings, maar dit was steeds ’n keuse wat hy kon uitoefen. Ek het geen keuse gehad nie. Natuurlik was dit nie sy skuld nie, maar ek kon soms nie help om hom te verkwalik nie. En hy kon nie verstaan waarom dit my so ontstel nie.” Julia (34)

“Ek het eintlik eers met ons tweede kind agtergekom dat ek en my man selde oor iets anders as die kinders gesels. Met jou eerste kind is dit ’n avontuur wat julle albei meemaak en is dit lekker om oor jul baba te gesels.

“Daar was egter ’n stadium met ons tweede kind dat ek gevoel het asof
ek wil skree as hy my begin uitvra oor die kinders. Dit was asof hy my met niks anders kon assosieer as die kinders nie.” Hanlie (32)

“Met die koms van ons baba het dit skielik vir my gevoel asof ek niks kan reg doen nie. Ek erken ek het nie soveel nagelees oor kindersorg soos my vrou nie, maar dit was asof sy my kop afbyt elke keer as ek iets vra of ’n voorstel maak. Dis asof ek allerhande goed moes antisipeer en sekere afleidings moes maak vanuit die inligting wat sy vir my gee – dit het gevoel asof sy van my verwag om haar gedagtes te lees.

“Sy kla nou nog dat sy alles vir my moet uitspel, maar dit is ongelukkig al manier waarop ek met selfvertroue ’n bydrae kan maak! Dit het ons verhouding baie verander.” Le Roux (37)

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees