Hegtingsouerskap: Band tussen ma en kind

akkreditasie
As jy jou hele wese instel op wat jou baba wil hê en jou moederinstink blindelings volg, is hegtingsouerskap waarskynlik waar jy sal uitkom.

Hulle noem dit hegtingsouerskap of, in Engels, attachment parenting. Dis ’n ouerskapsfilosofie wat daarop berus dat jy van die geboorte af ’n sterk band met jou kind bou deur ingestel te wees op sy
behoeftes, en hom so toerus om emosioneel en sielkundig gesond te ontwikkel en eendag sy volle potensiaal as volwassene te bereik.

Die term hegtingsouerskap is vir die eerste keer deur die ouerskapsghoeroe en pediater dr. William Sears gebruik, hoewel die praktyke daarvan al millenniums lank deur ma’s oor die aardbol heen gevolg
word.

Hegtingsouerskap gaan daaroor dat jy in harmonie met jou baba verkeer. Julle is ingestel op mekaar. As jou baba ’n behoefte het, kom jy dit dadelik agter en reageer daarop, verduidelik William.

Hy sê aanvanklik sal jou reaksie nie altyd toepaslik wees nie, maar mettertyd sal jy jou baba se tekens akkuraat leer lees en sy behoeftes kan bevredig.

Hegtingsouerskap sluit in dat jy spesifieke dinge doen om jou baba aan jou te bind en sy emosionele behoeftes te bevredig, soos langtermynborsvoeding, om baba aan jou lyf te dra met gereelde vel-tot-vel-aanraking, om dadelik op baba se huil te reageer en deurentyd ingestel te wees op sy behoeftes, en
om baba in jou bed of minstens in dieselfde kamer te laat slaap.

Hegtingsouerskap kan ook vir ouer kinders ingespan word. Die voordele van hegtingsouerskap is veelvuldig en uiteenlopend. Seker die lekkerste voordeel is die besonderse band wat tussen jou en jou baba ontstaan, sodat jou baba byna ’n deel van jou word en jy die bemagtigende vreugde kan ervaar van presies weet hoe om jou baba se tekens te verstaan – selfs nog voor hy begin huil – en hoe om hom tevrede te stel.

Maar daar is ook ander, meer meetbare voordele ...

Dit bevorder onafhanklikheid. Studies het getoon hoe beter jou baba met jou geheg het en hoe veiliger hy dus voel, hoe makliker sal hy aanbeweeg om die wêreld onafhanklik van jou te verken in die seker wete dat hy jou kan vertrou om in te gryp as dinge verkeerd sou loop.

Studies het ook gewys dat babas met ’n sterk hegtingsverhouding met hul ma later in hul lewe skeiding beter hanteer.

Baba is soeter. Hegtingsouerskap-babas huil minder, sê William, en is ook minder koliekerig, knieserig en klouerig. As jy dadelik op jou baba se behoeftes reageer het hy immers nie rede om ongelukkig
te voel of te huil nie.

Hulle ontwikkel beter. Hegtingsouerskap-praktyke bevorder die staat van ‘stil wakkerte’, wanneer babas die ontvanklikste is vir leer uit interaksie met ander of hul omgewing, sê William.

Dit maak baba slimmer. Benewens die feit dat borsvoeding die meerderheid babas se IK’s aanhelp, bied hegtingsouerskap die ideale omgewing waarin breinverbindings gevorm kan word. ’n Britse studie het getoon driejariges wat ’n sterk hegtingsband met hul ma het, se IK’s is hoër as dié van kinders wat nie veilig geheg met hul ouers voel nie.

Nog ’n studie het getoon kinders met so ’n sterk band vaar beter met kommunikasie en verstandelike take en is meer gemotiveerd om nuwe vaardighede baas te raak.

Dit verminder stres. Navorsing toon ’n verskeidenheid hegtingsouerskapspraktyke verminder stres by die baba. Een studie het bevind die babas van ma’s wat sensitief ingestel is op hul behoeftes, het minder van die streshormoon kortisol in hul liggaam. ’n Britse studie het getoon kinders tussen drie en
agt wat by hul ouers in die kamer slaap, het laer daaglikse kortisolvlakke.

Nog ’n studie het getoon vel-tot-vel-aanraking verhoog die oksitosienvlak (goedvoelhormone) van die liggaam en verminder tekens van stres by babas.

Dit sorg vir beter gesondheid. Die langtermynborsvoeding van babas help om hulle teen infeksies en allergieë te beskerm.

Kinders het beter emosionele beheer. ’n Amerikaanse studie het getoon 9- tot 11-jariges met sterk ouerbande hanteer en reguleer hul emosies beter.

Gedrag is beter. Navorsers het bevind wanneer ma’s meer sensitief op hul kinders reageer, wys die kinders meer empatie en positiewe sosiale gedrag. Nog ’n studie het bevind positiewe dissipline
dra by tot minder probleemgedrag.

Hoe doen jy dit?

Die lekkerte van hegtingsouerskap is dat dit nie ’n vaste stel reëls is nie, maar eerder riglyne wat jou help. Baie ouers is boonop verras om te sien hoeveel elemente van hegtingsouerskap hulle reeds toepas, juis omdat soveel hegtingsouerskapbeginsels eintlik dinge is wat ouers instinktief doen.

Inligting oor hegtingsouerskap is vrylik op die internet beskikbaar en verskeie boeke is daaroor geskryf.
Die organisasie Attachment Parenting International het agt beginsels as riglyne van hegtingsouerskap geïdentifiseer.

Beginsel 1: Wees voorbereid

Dit behels dat jy jou swangerskap, die geboorte en ouerskap ingelig betree, sodat jy van die begin af die beste omgewing vir jou kleinding kan skep. Win dus voor jou swangerskap reeds soveel moontlik inligting in oor swangerskap, geboorte-opsies en die versorging van die pasgeborene sodat jy in elke situasie ingeligte besluite kan neem.

Beginsel 2: Voed kleinding met liefde

Voeding word beskou as ’n manier om jou kleinding se behoeftes te bevredig en jul band te versterk, en oogkontak en fisieke aanraking is ’n belangrike deel van voeding. Borsvoeding op aanvraag vir so lank as moontlik is die optimale voedingmetode vir ’n baba se emosionele en voedingsbehoeftes.

Sou ’n ma weens mediese redes nie kan borsvoed nie, word aanbeveel dat sy borsvoedinggedrag met die bottel naboots. Die baba of peuter word gevoed as hy honger is en kan ophou sodra hy versadig is.

Ouers word aangemoedig om sensitief te wees vir hul baba se “tekens” sodat hulle hom voed wanneer hy honger is, maar voor hy huil.

Eerste vaste kosse word gegee wanneer baba gereed is daarvoor, eerder as op ’n spesifieke ouderdom. Baba is die een wat aandui hoeveel en wat hy wil eet.

Beginsel 3: Reageer op jou baba

Hegtingsouerskap berus op die beginsel dat jy van die geboorte af al vertroue tussen jou en jou baba vestig deur sensitief te wees vir haar behoeftes en konsekwent en toepaslik daarop te reageer. Dit sal beteken dat jy dadelik liefdevol op jou baba se gehuil reageer deur haar op te tel, eerder as dat jy haar los omdat jy bang is jy bederf haar.

Jou baba se huil is daar vir haar oorlewing en as jy daarop reageer, bou dit vertroue, sê William. “Babas leer vertrou dat hul versorgers op hul behoeftes sal reageer, terwyl ouers hul eie vermoë om hul baba
se behoeftes te bevredig leer vertrou.”

Dis ook belangrik om toepaslik op ouer kinders se behoeftes en emosies te reageer – so leer jou kind empatie.

Beginsel 4: Liefdevolle aanraking

Gereelde liefdevolle en vel-tot-vel-aanraking is belangrike beginsels van hegtingsouerskap, daarom word aanbeveel dat jy jou baba met badtyd of borsvoeding teen jou vel hou. Babamassering word aanbeveel, asook dat jy jou baba in ’n drasak teen jou lyf dra. Babas in ’n drasak bestee meer tyd in die stil-wakker stadium wanneer hulle optimaal leer, sê William.

Vir ouer kinders word gereelde drukkies, massering, fisieke spel en liefdevolle aanraking aanbeveel.

Beginsel 5: Veilige kermisbed

Hegtingsouerskap gaan van die standpunt uit dat babas in die nag net soveel koestering nodig het as bedags. Die deel van ’n bed snags help besige ouers om met hul baba te bind, sê William. Dit verminder
skeidingsangs snags en leer baba dat slaap lekker is.

Aanhangers van hegtingsouerskap is kwaai gekant teen slaapafrigting en beveel aan dat baba óf by die ouers in die bed óf by hulle in die kamer slaap, terwyl die basiese veiligheidsriglyne gevolg word.

Beginsel 6: Konsekwente liefdevolle versorging

Hegtingsouerskap gaan van die veronderstelling uit dat babas en jong kinders ’n intense behoefte het aan die fisieke teenwoordigheid van ’n konsekwente, liefdevolle versorger wat op hul behoeftes reageer,
verkieslik ’n ouer.

Sou omstandighede dit vir ’n ouer onmoontlik maak om heeltyds by die kind te wees, moet hulle sorg vir ’n heeltydse plaasvervanger-versorger wat liefdevol op hul kleinding se behoeftes reageer en met wie baba kan bind. Die ouers moet dan baie gefokusde tyd saam met hul kinders deurbring en doelbewus met hul kind bind ná skeiding.

Dagsorg van meer as 20 uur per week word nie aanbeveel vir kinders jonger as drie jaar nie – tuisversorging is verkieslik. Kinders jonger as drie moet verkieslik ook nie langer as twee nagte van hul ouers geskei word nie.

Beginsel 7: Positiewe dissipline

Hegtingsouerskap ondersteun positiewe dissipline: Die ouer behandel die kind soos sy self behandel sou wou word, met respek. Positiewe dissipline is daarop gemik om kinders te leer om reg op te tree uit empatie met ander en deur interne dissipline eerder as uit vrees.

Dit berus op ’n liefdevolle vertrouensverhouding tussen ouer en kind. Die ouer se rol is om te probeer agterkom hoekom ’n kind op ’n sekere manier optree en die probleem dan saam op te los. Hegtingsouer skapondersteun nie lyfstraf nie, maar fokus eerder op voorkoming en die natuurlike gevolge van optredes.

Beginsel 8: Balans in jou lewe

Die kern van die saak is dat dit makliker is om sensitief op jou kleinding se behoeftes te reageer as jy self in balans voel. Daarom is dit deel van die hegtingsouerskaps filosofie dat jy ’n gesonde ondersteuningsnetwerk opbou, realistiese doelwitte vir jouself stel, en soms nee sê en “ek-tyd" maak.

In hegtingsouerskap word ouers aangemoedig om hul ouerskap op ’n kreatiewe manier te geniet, gesond te lewe, hul huwelik te bou en hulp te kry wanneer nodig.

Toets jouself

Is jy sensitief vir jou baba se behoeftes?

  • Dit pla jou altyd as jou baba huil.
  • As baba knieserig is, bly soek jy na maniere om te troos.
  • Jy kan jou baba se behoeftes raaksien nog voor hy huil.
  • Jy vind dat jy instinktief die regte ding doen om jou baba tevrede te stel.

Dis hoe dit is

Tiffany Tredoux, ’n ma van vier van Durbanville in Kaapstad, sê hegtingsouerskap het vir haar sin gemaak.

“Die idee is dat ’n mens jou baba 24 uur ’n dag by jou hou. Dit maak dit makliker om in hul behoeftes te voorsien en hulle te verstaan. En dit skep ’n hegte band tussen ma en kind. Dis ook makliker as jy snags nie hoef op te staan vir voedings nie. Hegtingsouerskap is veeleisend, maar jou baba is gewoonlik gelukkig, en dan is jy ook gelukkig.”

Emma Bailie van Eversdal in Kaapstad is ma van ’n kleinspan van onderskeidelik ses, drie en twee jaar oud.

Al drie slaap nog steeds by hulle in die bed en twee word steeds geborsvoed. “Met hegtingsouerskap sien jy die tekens raak nog voor jou kind huil, sodat hy nie nodig het om by dié stresvolle fase uit te kom nie.

Jou baba voel hy word gehoor en voel veilig. Hegtingsouerskap is harde werk, maar as jy verstaan hoekom jy dit doen, is dit wonderlik. Ek het ’n besondere sterk band met my kinders.”

Mariska Vorster van Brakpan in Gauteng, ma van die vyf maande oue Jared

sê sy het nie doelbewus hegtingsouerskap toegepas nie, maar het later uitgevind dit beskryf wat sy doen. “Toe my seuntjie gebore is, het my man my vertel dat die suster sy lyfie teen my gesig gevryf het terwyl ek slaap, en dat hy toe dadelik ophou huil het.

Dit het my laat besef hoe sterk die band tussen ma en kind is. As hy huil en jy hou hom vas is hy tevrede: Al wat hy soek is sy mamma se reuk, warmte, stem en aanraking. Babas hanteer omstandighede baie beter as hulle gelukkig en veilig voel en daarom hou ek my mannetjie altyd naby my. So word ons onsigbare band net ál sterker.”

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees