Hoe om te oorleef as enkelma

akkreditasie
Is jy 'n enkelouer? Dis nie die einde van die wêreld nie! Hier is 'n paar top wenke om die alleenrit met jou kinders makliker te maak.

Die syfers

  • Volgens FAMSA (Family and Marriage Association of South Africa) is sowat 30% van Suid-Afrikaanse huishoudings enkelouer-gesinne.
  • Slegs 24% van Amerikaanse gesinne is gesinne in ’n tradisionele eerste huwelik met een ma en een pa. Daar is 7,5 miljoen enkelma’s in Amerika, ’n styging van 25& oor die afgelope 10 jaar. 
  • 1 uit 4 gesinne in Brittanje is enkelouer-gesinne en 9% van hulle is enkelpa’s.
  • Tot 31% van babas wat in Australië gebore word, het enkelma’s.

’n Goeie steunstelsel is baie belangrik. Of dit nou ’n ouma, vriendin of kinderoppasser is, dit is belangrik om iemand te hê op wie se nommer jy kan druk. Moenie skaam wees om te vra nie. Jy sal verbaas wees hoe vinnig mense bereid is om te help.

Moet jouself nie te veel kasty nie. Daar gaan tye kom wanneer dinge dalk nie so vlot loop nie, maar troos jou daaraan dat dit in die beste van huisgesinne gebeur.

Jy het tyd vir jouself nodig. Bou elke dag ’n rukkie by jou dag in waarin jy iets doen wat jou batterye herlaai. Lees ’n tydskrif, drink oor middagete koffie saam met ’n vriendin, gaan vir ’n manikuur, gaan stap in die park of haal slaap in. Moenie skuldig oor die tyd voel nie – jy verdien dit! En soos die gesegde sê:

As Mamma gelukkig is, is almal gelukkig

Jou vriendekring gaan dalk krimp of selfs verdwyn wanneer jy ma word en daar is tye wanneer jy baie alleen gaan voel. Moenie dat dit jou onderkry nie. Wanneer jou kind begin skoolgaan, gaan jy ’n splinternuwe groep ouers ontmoet en die kanse is goed dat daar nuwe vriendskappe gaan begin wat die potensiaal het om vir die res van jul kinders se skoolloopbaan en langer te hou.

Dit is dalk moeilik om te dink jy moet al die belangrike besluite oor jou kind se lewe alleen neem, maar daar is ’n positiewe kant ook. As jy besluit jou klein Jannie moenie rugby speel nie, is daar nie ’n pa wat bulder dat sy seun rugby sál speel nie!

Pak die reis aan soos jy Everest sou klim, sê Kaapse enkelma Petro Mostert: klein treetjies op ’n slag. “En as jou asem hard jaag, stop eers ’n bietjie, rus en kyk na alles om jou wat mooi is. Stap dan verder en sê dankie. Ek sê twee keer ’n dag dankie vir die Here dat hy Stef vir my gegee het.”

As depressie dreig om jou onder te kry, kry dadelik hulp. “As jy nie kop bo water kan hou nie, moet jy professionele hulp soek anders gaan alles net verder agteruit ten koste van almal,” sê Abraham.

’n Roetine is in enige huishouding ’n goeie ding, maar meer so in ’n enkelouer-gesin. “Ons eet sesuur, bad seweuur en agtuur is ons in die bed. Dit klink dalk laf, maar daardie goeie nagrus doen my en my seun die wêreld se goed,” sê Petro.

Geniet elke oomblik!    

'n Sielkundige se opinie

Abraham le Roux van Kaapstad is ’n kliniese sielkundige en enkelpa vir sy drie tienerkinders, Johannes (18), Liezl (17) en Phia (15). Hy sê ook die voordele van enkelouer wees weeg baie swaarder as die nadele.

Hy en sy kinders doen baie dinge saam soos kook, TV kyk, inkopies, kunsprojekte en gaan saam vir naweke en vakansies weg. “Ek voel soms meer soos ’n ma as ’n pa. Ek tel klere op, sit skottelgoed in die masjien, doen die wasgoed (en kry raas vir my seun se wit onderbroeke wat skielik pienk is en my dogters se klere wat krimp!) en moet sorg dat die koskaste vol is.”

Vir hom is die grootste vreugde van enkelouerskap die hegte verhouding wat hy met sy kinders het. “Ek is deel van alles in hul lewe. Ek glo die belangrikste ding wat ’n ouer vir ’n kind kan doen, is om na die wêreld deur hul oë te kyk, om te sien wat hulle werklik nodig het op ’n emo¬sionele, fisieke en finansiële vlak.”

Soos meeste enkelouers waarsku hy dat dit nie altyd maklik is nie. “Dit is baie belangrik om na jouself om te sien en ’n ondersteuningnetwerk te kry. Dit help nie as jy jouself uitbrand en dit tot konflik met die kinders lei nie. Kyk na die groter prentjie. Om gelukkige kinders groot te maak met wie jy ’n goeie verhouding het, skep ’n ongelooflik goeie toekoms vir almal en dit maak al die opofferings die moeite werd.”

’n Predikant se siening oor die saak

Terblanche Jordaan, leraar by die Kruiskerk in Kaapstad, sê wanneer mense hom vra of hulle kinders moet kry, sê hy altyd met oortuiging ja. "’n Kind bring geweldige vreugde in jou lewe en is ’n wonderlike manier om te ontdek wie jy is.

“Maar ouers moet ook weet dit verg totale toewyding om ’n kind te hê. ’n Kind kom nie met ’n handleiding nie en is nie ’n objek wat jy koop en in ’n kas wegpak wanneer jy moeg word daarvoor nie. Elke kind verdien ’n ouer se onverdeelde aandag en liefde. Voor jy tot die stap oorgaan om enkelouer te word, moet jy jou mooi afvra of jy dit om die regte redes doen.”

Ongelukkig weet niemand vooraf of hulle ’n goeie ouer gaan wees nie, sê Terblanche. “Dit leer jy maar tussen die Huggies en tandekry deur!”

Daar is een ding wat op die oomblik swaar op sy hart druk. “Ons lewe in ’n tyd waar baie ouers verslaaf is aan mag, geld, seks, drank of dwelms. Dan wonder hulle hoekom hul kinders in rehabilitasiesentrums beland. Daar is vandag nie fout met ons kinders nie, daar is fout met ouers. Dit is tyd dat ons weer ons kinders met liefde en aandag grootmaak, of jy nou ’n enkelouer is of nie.”

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees