Hou op uitstel

akkreditasie
Settled family
Settled family
Volg ons 4 stappe na produktiwiteit en hou jou huis in order sonder uitstel.

4 stappe na produktiwiteit
Verdeel jou tyd in drie dele: sosiaal (vriende en familie), loopbaan (werktyd) en persoonlike tyd (“my”-tyd vir ontspanning, sport of enigiets wat jy graag doen).
Voor jy jou take by dié drie gebiede indeel, moet jy die belangrikheid van balans besef. ’n Lewe sonder balans is vernietigend.
Jy kry dié balans in elke lewensgebied deur te prioritiseer. Prioritisering wys jou watter take verrig moet word en in watter volgorde jy dit moet verrig.

Stap 1: Maak ’n lys

Skryf alle take neer. Jy kan nie die uitstelgewoonte afleer as jy alles wat jy moet doen, probeer onthou nie. Skryf elke enkele ding neer, hoe nietig of maklik dit ook al lyk.  Wanneer jy al dié stappe vir beplanning gevolg het en jy kom aan die einde van jou dag, gaan terug na jou lysie en krap al die take uit wat jy afgehandel het. Dra wat oorbly oor na die volgende dag en voeg die nuwes by.

Stap 2: Verdeel en oorwin

Verdeel jou take onder die volgende drie opskrifte in jou dagboek:

a) Moet-doen-take

Dis take wat nie onderhandelbaar is nie. As jy dit nie betyds afhandel nie, kan dit verskriklike nagevolge hê. Dis gewoonlik take wat met jou werk of huishouding te doen het. As jy nie die projek by die werk betyds inlewer nie, kan jy dalk ’n waarskuwing kry. As jy nie die loodgieter bel om die pype in die huis te laat regmaak nie, kan jou huis oorstroom.

b) Behoort-te-doen-take

Dis take wat gedoen moet word en wat belangrik is, maar dis nie dringend nie. Dit is take wat oor twee of drie weke afgehandel moet wees, en jy gaan vroeg daaraan begin werk sodat dit nie dringend word nie.

c) Hou-van-take

Dis take waarvan jy hou, soos inkopies vir jou nuwe baba of kuier saam met vriende. Dis gewoonlik die take waarvoor ons die moet-doen- en behoort-te-doen-take uitstel. Dit is veel lekkerder om inkopies te gaan doen as om aan ’n verslag te werk of voor te berei vir ’n seminaar.

Stap 3: Delegeer

Bekyk jou take en besluit watter het nie jou vaardighede nodig nie en delegeer dan daardie taak. Byvoorbeeld: Jy werk voldag. Dis nie nog nodig dat jy in die aande wasgoed was, stryk en huis skoonmaak ook nie. Bespreek die opsie van ’n huiswerker met jou man.

Die goue reëls van delegering is: Delegeer na die regte persoon toe, en verseker dat daardie persoon weet wat die uitkoms is wat jy verwag. As jy nie die uitkomste wat jy verwag aan die persoon verduidelik nie, gaan jy teleurgesteld en gefrustreerd wees.

Byvoorbeeld: Jy vra jou man om brood en melk te koop. Hy kom by die huis met ’n ongesnyde witbrood en 2 liter melk. Jy is kwaad, want jy wou gesnyde volgraanbrood gehad het en 1 liter melk. Dadelik is jy en hy omgekrap en spring jy in jou kar om self te gaan koop wat jy wou gehad het.

As jy vir hom verduidelik het wat presies jy wou hê, sou jy nie gefrustreerd en kwaad gewees het nie.

Stap 4: Gooi weg

Nadat jy jou take in die kategorieë verdeel en besluit het wat jy gaan delegeer, is die laaste stap eliminasie. Raak ontslae van die take wat jou nie laat groei nie. Byvoorbeeld: Moenie op die kleuterskool se ouerkomitee dien as jou kind nie meer in die kleuterskool is nie.

Dié 4 stappe is ook die sleutel tot doeltreffende beplanning. Deur beplanning kan jy verseker dat belangrike take nie dringend word nie. Beplanning maak jou ook meer buigbaar. As iets opduik soos ’n siek kind wat dadelik dokter toe moet gaan en jou beplanning is reg, sal jy nie oorweldig voel nie.

En onthou: Moenie volmaaktheid in al jou take nastreef nie. Dit is soms die hoofrede waarom mens take uitstel. Jy voel nie bemagtig om die taak aan te pak en perfek te doen nie, daarom los jy dit vir later. As jy volmaaktheid nastreef, gaan jy jouself net ongelukkig en gefrustreerd maak. Streef na metodiese beplanning om voortreflikheid te bereik. Wees die beste wat jy kan wees – dis genoeg.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees