Huisvergaderings: dis hoe

akkreditasie
Funksioneer jou gesin goed? Daar is baie kriteria waaraan jy dit kan meet, maar sekerlik een van die belangrikste, is positiewe kommunikasie.

Lank gelede het gesinne nog etenstyd saam om die tafel gesit; daar was nie televisie of rekenaars om die aandag af te trek nie en geen selfone wat aandring op aandag nie.

Gesinne was dalk nie probleemvry nie, maar daar is geen twyfel nie dat gesinslede meer oogkontak gemaak het met mekaar, meer geluister het en meer opinies gedeel het so tussendeur die speel en huishoudelike takies.

Vandag, hoewel gesinslede onder baie stres en druk is, is daar veel meer klem op die reg van elke gesinslid op ’n opinie of ’n gevoel. Meeste ouers probeer wegbeweeg van die vroeëre outokratiese metode van kinders grootmaak.

Ouers wil hê hul jong kinders moet kan praat oor wat hulle voel en kan keuses maak, maar tog is daar in die meeste huishoudings nie die struktuur wat oop kommunikasie sal aanmoedig nie.

Menige ouers woon slypskole by oor ouerskap, lees boeke en win professionele raad in om effektiewe kommunikasie te leer. Maar baie ouers is onseker oor hoe en waar om die strategieë te implementeer.

’n Goeie plek om te begin, is met die instel van gereelde gesinsvergaderings, wat ’n lewenslange stukkie ‘gereedskap’ kan word waarmee kommunikasie-kanale oop en gesond gehou kan word.

Wanneer is die regte tyd om met gesinsvergaderings te begin?

Begin met huisvergaderings sodra jou eerste kind verbaal is en konneksies kan begin maak om eenvoudige probleme op te los.

Ma en pa moet tyd maak om ’n kwessie met hul 3- of 4-jarige te bespreek.

Beplan byvoorbeeld saam aan ’n uitstappie park toe, of strand toe. Sit saam, elkeen op sy eie stoel, en sê goed soos: “Ons gaan piekniek hou op die strand. Kom ons praat oor wat om saam te vat.”

Ma kan dan ’n lys gee van wat sy saam vat en pa kan dinge byvoeg.

Moedig dan jou kind aan om ook by te voeg wat sy wil saamvat – emmer, grafie, sap ...
Dit klink moontlik soos ekstra werk, maar jy lê die grondslag vir oop besprekings in die toekoms. Soos die kinders groei, word die gesinsvergadering ’n integrale deel van hoe jou gesin funksioneer.

Voordele van huisvergaderings

  • Kinders leer dat hul opinies tel.
  • Kinders leer dat hulle ook keuses het.
  • Daar is ouderdomgepaste magdeling.
  • Kinders leer dat ander se opinies ook saak maak.
  • Kinder leer luister, en ’n praatbeurt afwag.
  • Kinders leer saamwerk; dat elke gesinslid ’n keuses het.
  • Kinders leer van demokratiese leierskap.

Wenke

  • Voorsien ietsie lekkers om te eet tydens die vergadering.
  • Maak naambordjies vir die stoele.
  • Kies ’n ouderdomsgepaste kwessie om te bespreek. 
  • Kinders is gek daaroor as jy die besluit wat bereik is, neerskryf.

Die reëls

Hou by die volgende basiese reëls vir suksesvolle huisvergaderings:

  1. Alhoewel ouers die verantwoordelikheid het om grense te stel, moet julle die vergadering met ’n oop kop benader. Waak daarteen om alles te wil beheer.
  2. Die gesinsvergaderings is nie bedoel vir individuele probleemoplossing nie. Dis bedoel vir kwessies wat die hele gesin raak, en een gesinslid mag nie die vergadering gebruik om afbrekend op te tree teenoor ’n ander nie.
  3. Elkeen kry ’n kans om sy sê te sê. Die jongste en die stilste ook.
  4. As ouers moet julle positiewe rolmodelle wees. Sien toe dat julle effektief luister en gevoelens met respek uitdruk.
  5. Begin met maklike, aangename kwessies, soos ’n vakansie of verjaardagpartytjie of Kersfees of wat om vir ouma te koop vir haar verjaardag.
  6. As jy ’n moeilike, negatiewe verhouding met ’n kind het, moet jy dalk eers die verhouding verbeter voor jy gesinsvergaderings gebruik om oor kwessies te praat.  

Gesinsvergaderings in die praktyk

Gesin no.1

Leanne is getroud met Ben en hulle het twee kinders: Thomas is 7 en in graad een en Emily is 5 en in graad R. Leanne vertel:

“Ons het ’n ouerskapslypkool bygewoon waar die konsep van gesinsvergaderings bespreek is. Brendan het eers gedink dit klink 'corny', want toe hy grootgeword het, het sy ma en pa gesê wat gedoen word, en klaar.

“Ek het hom egter oorreed om dit te probeer. Met die eerste probeerslag het ons die kinders ingelig dat ons ’n vergadering gaan hou om die komende vakansie te bespreek. Ek het die stoele reggeskuif – nogal formeel – en koekies en sap op die tafel gesit. Die kinders was baie opgewonde.

"Brendan het die eenvoudige vergaderingreëls verduidelik. Dit het regtig goed gegaan. Die agenda was eenvoudig: wat om saam te neem, speletjies vir die motor, gunsteling-happies. Ons het ook gepraat oor reëls vir die vakansie, soos geen argumente in die motor nie, en die moontlik gevolge as die reëls oortree sou word.

“Brendan het ná die tyd gesê dat dit beslis dinge makliker gemaak het tydens die vakansie om die kinders te kan herinner aan ooreenkomste wat in die vergadering bereik is.
“En ons hou steeds gereeld vergadering. Ons praat oor wat die beste ding is wat dié week gebeur het, of die slegste ding.”

Gesin no. 2

Melanie en Bertus het begin met gereelde gesinsvergaderings toe hul kinders, Caitlin en Alice, 4 en 6 jaar oud was. Hulle is nou al tieners. Melanie vertel:

“Ek voel positief oor hoe die vergaderings kommunikasie in ons gesin oop gehou het. Ek en Bertus het die kinders aangemoedig om hul opinies te gee en te praat oor hul keuses.

“Toe die kinders 10 en 12 was, het ons ’n baie traumatiese tyd deurgemaak. Bertus het sy werk verloor en ek moes weer gaan werk vir die eerste keer sedert hulle gebore is.

“Omdat die kinders van ’n jong ouderdom geleer het dat vergaderings ’n goeie forum is waar dinge uitgewerk kan word, kon ons saam deur baie van die moeilike tye werk. Die kinders is nou al tieners en ek voel ons gesinsbande is versterk deur die manier waarop ons in ’n tyd van krisis saamgewerk het.“

Alle soorte gesinne kan baat

Saamgevoegde gesinne kan veral groot voordeel trek uit gereelde gesinsvergaderings. Wanneer ’n kind in die week by een ouer bly en naweke by ’n ander, is dit baie gerusstellend om die periode te begin met ’n vegadering. Die besoekende kind kry so die kans om weer geïntegreer te word in die gesin, byvoorbeeld deur naweekplanne te bespreek.     

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees