Laat daar gespeel word!

akkreditasie
Moeg vir jou werk? Dalk inspireer ouerskap jou tot ’n heel nuwe loopbaanrigting. Ons het gaan hoor hoe drie vindingryke entrepreneurs munt slaan uit kinders en ouers.

Die broers Paul en Mark Simon het reeds in hul twintigs groot naam gemaak as die stigters van die Young Designers Emporium, en hul jongste sake-idee beloof om weer ’n revolusie in hul bedryf te veroorsaak. Maar dié keer het dit niks met klere uit te waai nie, maar alles met speel. Onthou maar die naam Place of Play! Paul vertel meer.

Waar het dit alles begin?

Nadat ons YDE in 2005 verkoop het aan die Truworths-groep, het ek vir ’n ruk lank nie gewerk nie. Dit het my nogal skuldig laat voel, want ek gee die afgelope jare dikwels op uitnodiging lesings by  sakeskole en vertel altyd vir die studente hoe volop geleenthede in Suid-Afrika is. En ek was lekker verveeld, al het ek altyd gesê ek sou graag by die huis wou bly sodra ek kinders het!

Toe my dogtertjie, Sienna, omtrent ’n jaar gelede gebore is, het ek nogal nostalgies gevoel oor my eie kinderdae. Ons het altyd ons dae omgespeel, en ek wou hê sy moes ook na hartelus in ’n veilige omgewing kon speel. Ek en Mark is albei pa’s, en al die verhale van oorgewig kinders en introverte rekenaar-verslaafde kinders het ons laat be-sluit om in te spring en iets te doen wat ons en ons kinders en ander mense kan geniet.

Wat maak Place of Play so spesiaal?

Dis 2000 vierkante meter waarin kinders net kan speel! Die eerste een het in Augustus 2007 by Canal Walk in Kaapstad geopen. Daar is speelplek binneshuis én buite, en ons is toegespits op die hele gesin. Die idee is dat die kleintjies – dis gerig op kinders tussen 2 en 10 – lekker en veilig moet kan speel, maar ons maak ook voorsiening vir besige ma’s en pa’s. Ons het ’n spesiale binneshuise mezzanine vlak wat uitkyk oor die hele park, en waar die grootmense hul naels kan laat doen, ’n Shiatsu-massering kan kry of by een van ons internetpunte of in die WiFi-zone kan sit en werk. Só kry jy nog goed gedoen wat vir jou belangrik is terwyl jy ook ’n ogie kan hou oor die kleingoed.

Ons weet ook dat uiteet met ’n kleuter soms problematies is, en daarom het ons ook ’n POP Café met ’n kleutervriendelike spyskaart. Daar is ’n speelarea vir kinders, en ’n verhoog waar ons klein vertonings kan aanbied. En daar is ook heerlike kos vir grootmense! Ons bied ook spesiale vakansieprogramme aan, en is die ideale plek vir ’n verjaarsdagpartytjie.

Ek dink ons prys maak ons ook redelik uniek. Ons vra R35 per kind, ongeag die tyd wat jy spandeer. Volwassenes en kinders onder twee betaal nie. Dit beteken ma hoef nie die hele tyd ’n oog op die horlosie te hou nie, en almal kan regtig ontspan. Meeste van die speletjies is ingesluit by die R35, maar daar is wel hier en daar iets waarvoor ekstra kaartjies gekoop moet word.

Ons aktiwiteite word alles boonop goedgekeur deur arbeidsterapeute, en hier kan kinders speel-speel hul motoriese vaardighede én sosiale vaardighede kom verfyn.

Julle lê ook besondere klem op persoonlike veiligheid.

Ja, elke kind kry ’n elektroniese plaatjie wanneer hy die park binnekom. As dit nie deur ons personeel gedeaktiveer word voordat die kind die park verlaat nie, gaan daar ’n alarm af. Ons werk ook aan ’n armbandjie met ’n mikroskyfie wat ons in staat sal stel om presies te kan sê waar in die park ’n kind homself bevind op ’n gegewe oomblik.

Wat was die struikelblokke om POP te vestig?

Ag, die gewone dinge van ’n nuwe besigheid. Ons kon nie plaaslik baie inligting of kundigheid kry oor speelapparaat en toerusting nie, en moes daarom buitelandse navorsing doen. Dis nie verbasend om te hoor dat die VSA die leier op die gebied van speelapparaat is nie, en ons het baie van ons toerusting daarvandaan ingevoer. Iets wat my as pa gerusgestel het, is dat die Amerikaners geweldig baie klem lê op veiligheidstandaarde. Hulle wou ons byvoorbeeld nie eers toelaat om die drieverdieping klouterwouter (junglegym) van 85 m wat ons ingevoer deur plaaslike mense laat  aanmekaar sit nie. Hulle het ’n span mense spesiaal daarvoor uit Amerika gestuur.

Wil julle uitbrei?

Beslis. Ons beplan ’n Place of Play vir Gauteng, maar wou die Kaapstad-park eers ses maande lank bedryf om alle haakplekke uit te stryk. Ons kyk na elke aspek van die besigheid – higiëne, veiligheid, noodhulp – en wil dit sonder sukkel in toekomstige POP’s kan toepas.

Hoe weet jy die besigheid werk?

Die heel eerste dag nadat ons oopgemaak het, het ek in my kantoor sit en werk toe ek ’n bloedstollende gegil hoor. Ek het my lamgeskrik en dadelik gewonder of my personeel se noodhulpkennis dié besering sal kan hanteer. Toe ek uitstorm, het ’n nogal verleë ma verduidelik dat haar kind nie seergekry het nie, maar so gil omdat hy weier om huis toe te gaan! Vir my werk dit ook, want ek kan nou tyd saam met Sienna deurbring en enige tyd saam met haar speel.

Julle ondersteun ook die Rooikruis Kinderhospitaal ...

Ja, ons skenk R1 van elke toegangsfooi aan die hospitaal. Dis die ideale manier vir gesonde kinders om siek kinders te help wat in die kinderhospitaal veg om oorle-wing. Dit maak vir ons perfekte sin om die enigste speelpark in sy soort in die land te koppel aan die enigste kinderhospitaal in sy soort in Afrika! Al die geld wat ons skenk gaan aangewend word om toerusting aan te koop vir die nuwe operasieteaters wat in aanbou is by die Rooikruis Hospitaal.

Kliek op www.placeofplay.co.za vir meer inligting.    

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees