Ma se woord teen Pa s'n

akkreditasie
Ons gee raad oor hoe jy en jou maat kan saamwerk om die kroos in toom te hou - en veilig en gelukkig te laat voel.

Dissipline handhaaf is nie ’n maklike storie nie, veral nie as Pa en Ma nie altyd saamstem oor hoe dit moet gebeur nie.

Ja, ons weet ongehoorsaamheid is onaanvaarbaar – maar omdat elke ouer met sy eie bagasie en opvattings na die oortreding kyk, kan die dissiplinering van ’n stoute kind vinnig tussen twee stoele deurval.

Kyk nou maar vir Anna (3). Sy sal steeds, nadat Mamma al drie keer gepraat het, haar vinger in die muurprop druk. Skielik vererg Pa hom, spring op en skiet haar vingertjie. Eers is daar ’n verbysterde stilte waarin almal van die skok herstel.

Dan breek ’n chaos los. Ma reageer verontwaardig en ontsteld oor Pa se “onnodige” fisieke tugtiging, Pa storm mompelend by die kamer uit met die voorneme om nooit weer te help om die kind op die regte pad te bring nie en Anna spring gillend in haar ma se arms.

Al is sy nog piepklein, weet sy nou presies wie sy die maklikste sal kan manipuleer as sy weer ’n grens wil oortree.

“Dissipline beteken dat jou kind presies doen wat jy vir haar sê, binne ’n billike tyd en met ’n goeie gesindheid,” sê Andalene Salvesen, ’n ouerskapsafrigter en self ma van vier en ouma van ses.

In haar werk sien sy gereeld ouers wat nie bewus is van die uitwerking wat hul verskille in dissiplinestyl op die gesin het nie. Party ouers verkies om te dissiplineer deur net te praat, ander glo weer straf is die eerste wegspringplek.

Dissipline is op lang termyn baie doeltreffender as straf as dit kom by die slyp van ’n kind se karakter, sê Andalene. Maar vir toepaslike straf is daar ook ’n plek. “As straf die gevolg is van ongehoorsaamheid, kan dissipline ingespan word om ons kinders te help leer om nie weer dieselfde foute te maak nie. So skep ’n mens ruimte vir albei ouers se styl en benadering.

“Ek vind dikwels dat albei ouers óórvergoed vir die ander se dissiplinestyl. Gewoonlik is een ouer strenger en een sagter. As Pa miskien die sagte een is, sal hy ál sagter word om te vergoed vir Ma se streng styl, terwyl sy op haar beurt weer ál strenger en kwaaier word.”

Balans

Gewoonlik is albei se toepassing 50 persent reg en 50 persent verkeerd, sê Andalene. “Die geheim is om die balans tussen die twee style te vind deur mekaar se styl te respekteer en toe te gee.”

Dit gaan egter nie net oor jul afsonderlike dissiplinestyl nie – ’n mens moet vasstel watter styl by elke kind pas en daarvoor moet sy ouderdom, temperament en die situasie in ag geneem word.

As straf uitgedeel word, moet dit darem onaangenaam genoeg wees dat kleinman se brein vir hom sê hy moet dit voortaan tot elke prys vermy! “As die gedrag herhaal word, was die straf nie doeltreffend genoeg nie,” sê Andalene.

Die grootste uitdaging vir Ma en Pa is om nie gemengde boodskappe oor dissipline en straf uit te stuur nie, al glo julle albei onwrikbaar jul benadering is die beste. Wees aanpasbaar en span saam verskillende style in waar gepas, eerder as om teen mekaar te werk.

Nog ’n oplossing is om saam uit te werk watter grense en reëls vir julle en die kinders van waarde kan wees. Grense laat kinders veilig voel, maar hulle gaan dit steeds wil toets. Kinders is maar nog selfsugtig en manipulerend, en hulle sal maklik vir die sagter ouer iets gaan vra nadat die strenger ouer dit reeds geweier het, sê Andalene.

“Daarom is dit so belangrik dat ouers konstant is.” As julle dit kan regkry om oor grense saam te stem, skep julle ’n veilige omgewing waarin julle dissipline kan toepas binne duidelik omskryfde grense en
reëls.

Hoe ons dit doen

Leezélle en Dian Kotzé van Kenridge in Kaapstad het hul dissipline-styl uitgewerk voor die geboorte van Mia (16 maande).

Al het dissipline in ons ouerhuise verskil, stem ons saam oor die beginsels. Toepassing is egter nie altyd dieselfde nie! Dian praat soms kwaaier met Mia as wat ek dink nodig is. ’n Kind moet egter verstaan wat die reëls is en wat die gevolg is as die reëls oortree word.

Ons glo ook dat albei ouers ’n reël konstant moet toepas. Nog ’n uitdaging is om nie net te dreig sonder die beloofde gevolg nie.

Een benadering behels positiewe dissipline wat fokus op voorkoming, instruksie en proaktiewe gedrag, terwyl negatiewe dissipline regstelling en gevolge behels. Ouers kan albei inspan en vooraf besluit hoe balans tussen die benaderings bereik kan word.

Byvoorbeeld:

Mamma verduidelik vir Pietie hy moet vroeg gaan slaap want môre gaan sy skool op ’n uitstappie. As hy laat gaan slaap, gaan hy moeg wees en dit nie geniet nie. Dis positiewe dissipline. As Pietie tog laat gaan slaap, het hy die reël oortree en moet hy die gevolge dra. Dis die straf en julle besluit saam daaroor.

Michelle en Stephan Serfontein van Pretoria het twee seuns, Tiaan (4) en Zander (18 maande), en hulle ondersteun mekaar as dit by dissipline kom.

Hul verwysingsraamwerke oor dissipline was van die begin af soortgelyk, maar Michelle sê dit is steeds nodig om gereeld daaroor te praat en te kommunikeer.

Ons het voor ons troue al besluit hoe ons ons kinders wil grootmaak en hoe ons dissipline sou toepas. Ons is al twee baie streng en volgens sterk morele waardes groot gemaak, en ons ouers se opvoedings en die dissipline wat as kinders op ons toegepas is, stem baie ooreen.

Ons probeer altyd konsekwent wees. Ons stem gelukkig saam oor hoe ons ’n saak moet aanpak en ondersteun mekaar ten volle. Ons is ook baie aanpasbaar en hou ons kinders se gedrag fyn dop en sal daaroor gesels en redeneer. Partykeer is dit nodig om jou dissiplinestyl te verander namate die kinders ouer word.

Gesels oor hierdie dinge. Praat dit uit, maar agter geslote deure waar die kinders julle nie kan hoor nie. Wanneer ouers besef hul style verskil baie, is dit tog nodig om dit rustig uit te pluis en balans te soek.

Eddie en Linda Stoffberg van Kaapstad het twee dogters, Mia (8) en Kayla (7), en een goue reël.

Die eerste antwoord wat die kinders kry, is die een wat gaan geld. As ons oor die besluit verskil, bespreek ons dit waar hulle nie by is nie. Voor hulle handhaaf ons ’n verenigde front.

Ons resep werk goed en ek sal dit verseker aanbeveel: Ouers moet saamwerk en hoe vroeër die kinders besef die antwoord van albei ouers af gaan dieselfde wees, hoe beter vir almal.

Moet mekaar nooit weerspreek nie; kinders kom dit agter en sal dit gou as wapen teen julle inspan. Kinders voel veilig as hulle weet Ma en Pa praat uit een mond en niks kan tussen hulle kom nie.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees