Europeërs is groen van jaloesie oor ons klimaat, en Suid-Afrikaners oorsee verlang na braai, biltong en boerewors en die soet klank van Afrikaans. Met die Sokkerwêreldbeker het ons gewys ons kan en ons ryke verskeidenheid kulture en gasvryheid het besoekers se hart verower.

Suid-Afrika het heelparty probleme, maar ook oorgenoeg om ons trots Suid-Afrikaans te maak. Dis goeie nuus, want om trots te wees op jou land, herkoms, taal en kultuur is ’n belangrike bousteen in jou kind se menswees, sê kenners.

Kultuur anker jou identiteit en help jou persoonlikheid vorm, sê Donnay Torr, kommunikasiebestuurder van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). “Dit beteken nie dis ’n rigiede raamwerk waaruit jy nooit kan ontsnap nie, eerder ’n lewensingesteldheid wat kan groei, ontwikkel en verander, maar wat altyd jou basis gaan wees.”

Donnay sê sonder ’n bewustheid van ons herkoms het ons nie wortels nie. “Hoe kan jy ’n volledige prentjie van jouself skep en jou self werklik leer ken as jy nie bewus is van waarin jou uitkyk op die lewe gesetel is nie?

“Sonder ’n kulturele herkoms gaan ’n mens sukkel om na ander uit te reik – jy moet in die eerste plek weet en verstaan wie jy is, en dan uitvind en leer verstaan wie ander is. Ek wil beklemtoon dat ’n mens nie so in jou eie kultuur verstrengel moet raak dat jy jou afsonder van ander nie – gebruik dit eerder as ’n basis van waar jy kan verken.”

Linda de Rooster, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria, sê dis baie belangrik dat ’n kind weet waar hy vandaan kom. “Dit maak jou wie jy is. Dit maak jou deel van die groep, deel van die land waarin jy woon.

"Kyk na enige internasionale byeenkoms soos die Sokkerwêreldbeker: Elke groep wat hier was om hul span te ondersteun het hul land en span se kleure gedra. Hoekom? Hulle is trots op waar hulle vandaan kom, hul land en hul span. Jy wil voel jy behoort êrens en trots wees daarop. Dis belangrik vir jou selfbeeld.”

Linda sê saam met moedertaal gaan kultuur, familie, kos, sport en sosiale gebruike. “Dis deel van wie jy is, van jou selfkonsep.” Sy sê ’n kind wat sonder hierdie anker grootword, kan dalk later voel of hy nêrens inpas of behoort nie.

“Jou kind moet leer om trots op sy taal en kultuur te wees, en ook trots Suid-Afrikaans. Daarom is dit by die meeste kleuterskole deel van die leerplan.”

Ons ryke kultuurskat

Suid-Afrika met sy baie kulture het ’n ryk geskiedenis. Stories uit vergange se dae sal jou kleinding ’n prentjie help bou van waar ons vandaan kom.

  • Vertel vir jou asjas van heldestories uit ons verlede en hede. ’n Lekker bron is die Groot Afrikaanse Heldeboek deur Pieter W. Grobbelaar met stories oor dapper helde soos Shaka, Dirkie Uys en Wolraad Woltemade.
  • Lees tradisionele stories van al ons bevolkingsgroepe voor. Lekker opsies is Die Mooiste Afrikaanse Sprokies deur Pieter W. Grobbelaar, Eendag op ’n Reëndag deur Wendy Maartens, met geliefde Afrikaanse volksverhale en legendes soos Antjie Somers en Jock van die Bosveld, asook Die Madiba-boek met Nelson Mandela se gunstelingstories vir kinders wat Xhosa-, San- en Kaaps-Maleise stories insluit.
  • Hou kultuuraande waar julle kosse van verskillende bevolkingsgroepe in ons land beproef en geniet: lekker samoesas of roti’s een aand, tradisionele Afrikaner-lekkergoed soos koeksisters en melktert ’n ander keer.

Dis in jou houding

As jy ’n trots Afrikaanse en Suid-Afrikaanse kind wil grootmaak, kyk heel eerste na jou eie houding teenoor ons taal en land. Waak teen aanhoudende negatiewe kommentaar. Fokus op dit waarop ons met reg trots kan wees – besoek ’n webtuiste soos www.sagoodnews.co.za as jy redes soek om trots te wees!

Ongesonde trots

Trots op jou kultuur en land kan baie positief wees, sê prof. Rob Pattman, ’n sosioloog aan die Universiteit van Stellenbosch, maar as dit ten koste van ander groepe is, word dit negatief.

“Die gevaar is dat mense later so ‘trots’ word op wie hulle is en waar hulle vandaan kom, dat hulle begin dink ander mense of kulture is minderwaardig.” Aan die ander kant, sê Rob, kan ’n gebrek aan trots op jou herkoms lei tot ’n minderwaardigheidsgevoel wat weggesteek word in oormatige aggressie en selfs rassisme.

“Ons trots op ons taal, kultuur of land gee ons identiteit, maar behoort nie mure te bou nie. Ons verskil van mekaar, maar mag nie dink ons is beter as ander nie.”

Linda stem saam: “Wat met trots moet saamgaan is verdraagsaamheid. Dis belangrik dat kinders bewus gemaak word van ander tale en kulture. Om trots te wees op ons land, ongeag taalverwysing, is ’n samebindende faktor.”

Sport bind saam

Daar is min dinge wat jou so trots laat voel as wanneer jou land se sportspan presteer!
Trek elke Vrydag jul Springbokkleure aan om die Springbokke te ondersteun tydens die Rugbywêreldbeker in September.

Kyk saam na internasionale sportbyeenkomste soos krieket of swem waar Suid-Afrikaners deelneem sodat julle hulle kan ondersteun. (Moenie die biltong vergeet nie!)

Leer ons mooi land ken

  • Doen moeite om met jul vakansies verskillende dele van ons mooi land te verken.
  • Besoek interaktiewe museums soos Worcester se plaasmuseum waar hulle wys hoe brood gebak word.
  • Neem jou kleinding op uitstappies waar hy die wonderlike diere van ons land van naderby kan ervaar. Oorweeg die Pretoria-dieretuin, Johannesburgse dieretuin, UShaka Marine World in Durban, die Two Oceans-akwarium in Kaapstad, World of Birds in Houtbaai, of Monkeyland in Plettenbergbaai.
  • Gaan op uitstappies na natuurwonders soos die Kangogrotte of mooi watervalle.
  • Besoek julle naaste wildtuin of gaan op ’n kort staptog in die natuur.

Lekker!

Afrikaans floreer op die oomblik, al die doemprofete ten spyt. As ons taal jou na aan die hart lê, is dit maklik om ’n trots Afrikaanse kind te kweek:

  • Wys jou spruit van kleins af hoe mooi ons taal is deur hom rympies en raaisels in Afrikaans te leer. Belê in ’n goeie kleuterverseboek soos D.J. Opperman se Groot Kleuterverseboek of een van Jaco Jacobs se gedigteboeke (kyk by www.lapa.co.za) vir gediggies wat jou kleinding sal laat skater. Laai ons pragtige Afrikaanse rympie drukstukke af.
  • Leer jou kind lekker Afrikaanse aksieliedjies en tradisionele volksliedjies en sing en dans saam met hom. Kyk by www.busyhands.co.za/fak_sangbundel.htm vir die klavierbegeleiding en teks van kleuterliedjies of skaf CD’s aan soos Afrikaanse Volksliedjies of Carike Keuzenkamp se kinderliedjies.
  • Koop kinderboeke wat Suid-Afrikaans is en nie net vertalings van oorsese stories is nie. Daar is pragtige Afrikaanse kinderboeke met ’n sterk plaaslike aanslag soos Maritha Snyman se ’n Annerste ABC-boek vir Aspatatte.
  • Ondersteun Afrikaanse kindertydskrifte soos Bazoo (www.bazoo.co.za), of sluit aan by ’n goeie Afrikaanse kinderboek- en opvoedkundige produkte klub (www.kinderwerf.co.za, www.besterklub.com of www.annaemm.co.za).
  • Luister na Poen en Toekie en Kinderhoekie op Radio Sonder Grense elke aand om 7.15.

Uit ouma se tyd

  • Speel tradisionele speletjies: Klop by oupa en ouma aan vir speletjies soos vroteier, blikaspaai, wolf-wolf hoe laat is dit of krappe en kraaie sodat hierdie speletjieskat nie verlore gaan nie.
  • Vra vir ouma en oupa om vir jou kleingoed briefies te skryf of stories te vertel oor hul eie kinderjare.
  • Bak koekies of sit ’n ete voor met spesiale familieresepte uit jou eie kinderjare en vertel vir jou asjas hoekom dit vir jou spesiaal is.

SA handwerk

  • Maak die Suid-Afrikaanse vlag. Jy kan die buitelyne trek terwyl jou spruit dit inkleur of verf. Plak dit op ’n sosatiestokkie vas en ry daarmee in jou kar rond om die Sokkerwêreldbeker-gevoel te herleef!
  • Ryg krale en sit dit om jul enkels en arms en doen ’n wilde Zoeloedans of versier gum boots met bierbottelproppies aan ’n toutjie geryg (kap gaatjies in die doppies) en voer ’n gumboot-dans uit.
  • Maak papierborddiere-maskers van die Groot Vyf en ander Suid-Afrikaanse diere.