Medisyne vir uitstelkoors

akkreditasie
Ons stel uit, stel uit, en stel weer uit. Volg ons plan en speel klaar met die uitstelgogga sodat jy genoeg tyd het vir die lekker dinge van die lewe.

Jou kop draai van al die dinge wat jy moet doen. Daar is die projek by die werk, die seminaar waarvoor jy moet voorberei, jy is op die kleuterskool se ouerkomitee wat ’n reeks vergaderings in die aande het, jy en jou man het ’n funksie wat julle moet bywoon, jy moet nog ’n oppaster reël vir die kinders en jy moet vir jou kleuter ’n verjaardagpartytjie beplan.

Ma’s se lysie van dinge om te doen is eindeloos, en dikwels voel jy daar is net nie genoeg ure in die dag nie. Dan begin jy uitstel, en uitstel. En voor jy jou kom kry is alles op jou lysie dringend en jy moet spook om alles op een slag gedoen te kry.

Volgens dr. Judy Jaye van The Voice and Stress Clinic stel 90% van mense take uit omdat hulle glo dat hulle nie beheer oor hul tyd het nie.

Die geheim is egter dat jy beheer hét oor jou tyd, net jy. Judy sê jy hét nie tyd nie, jy máák tyd.
Hier is ’n paar riglyne om jou te help tyd maak sodat jy nie weer hoef uit te stel nie.

4 stappe na produktiwiteit

Verdeel jou tyd in drie dele: sosiaal (vriende en familie), loopbaan (werktyd) en persoonlike tyd (“my”-tyd vir ontspanning, sport of enigiets wat jy graag doen). Voor jy jou take by dié drie gebiede indeel, moet jy die belangrikheid van balans besef. ’n Lewe sonder balans is vernietigend.

Jy kry dié balans in elke lewensgebied deur te prioritiseer. Prioritisering wys jou watter take verrig moet word en in watter volgorde jy dit moet verrig.

1. Maak ’n lys

Skryf alle take neer. Jy kan nie die uitstelgewoonte afleer as jy alles wat jy moet doen, probeer onthou nie. Skryf elke enkele ding neer, hoe nietig of maklik dit ook al lyk.

2. Verdeel en oorwin

Verdeel jou take onder die volgende drie opskrifte in jou dagboek:

a) Moet-doen-take. Dis take wat nie onderhandelbaar is nie. As jy dit nie betyds afhandel nie, kan dit verskriklike nagevolge hê. Dis gewoonlik take wat met jou werk of huishouding te doen het. As jy nie die projek by die werk betyds inlewer nie, kan jy dalk ’n waarskuwing kry. As jy nie die loodgieter bel om die pype in die huis te laat regmaak nie, kan jou huis oorstroom.

b) Behoort-te-doen-take. Dis take wat gedoen moet word en wat belangrik is, maar dis nie dringend nie. Dit is take wat oor twee of drie weke afgehandel moet wees, en jy gaan vroeg daaraan begin werk sodat dit nie dringend word nie.

c) Hou-van-take. Dis take waarvan jy hou, soos inkopies vir jou nuwe baba of kuier saam met vriende. Dis gewoonlik die take waarvoor ons die moet-doen- en behoort-te-doen-take uitstel. Dit is veel lekkerder om inkopies te gaan doen as om aan ’n verslag te werk of voor te berei vir ’n seminaar.

3. Delegeer

Nadat jy jou dag se take onder dié drie hofies ingedeel het, is daar nog een ding wat jy moet onthou. Delegeer. Bekyk jou take en besluit watter het nie jou vaardighede nodig nie en delegeer dan daardie taak.

Byvoorbeeld: Jy werk voldag. Dis nie nog nodig dat jy in die aande wasgoed was, stryk en huis skoonmaak ook nie. Bespreek die opsie van ’n huiswerker met jou man.

Die goue reëls van delegering is: Delegeer na die regte persoon toe, en verseker dat daardie persoon weet wat die uitkoms is wat jy verwag. As jy nie die uitkomste wat jy verwag aan die persoon verduidelik nie, gaan jy teleurgesteld en gefrustreerd wees.

Byvoorbeeld: Jy vra jou man om brood en melk te koop. Hy kom by die huis met ’n ongesnyde witbrood en 2 liter melk. Jy is kwaad, want jy wou gesnyde volgraanbrood gehad het en 1 liter melk. Dadelik is jy en hy omgekrap en spring jy in jou kar om self te gaan koop wat jy wou gehad het.
As jy vir hom verduidelik het wat presies jy wou hê, sou jy nie gefrustreerd en kwaad gewees het nie.

4. Gooi weg

Nadat jy jou take in die kategorieë verdeel en besluit het wat jy gaan delegeer, is die laaste stap eliminasie. Raak ontslae van die take wat jou nie laat groei nie. Byvoorbeeld: Moenie op die kleuterskool se ouerkomitee dien as jou kind nie meer in die kleuterskool is nie.

Dié vier stappe is ook die sleutel tot doeltreffende beplanning. Deur beplanning kan jy verseker dat belangrike take nie dringend word nie. Sonder doeltreffende beplanning kan jy nie die  uitstelgewoonte klop nie. Beplanning maak jou ook meer buigbaar. As iets opduik soos ’n siek kind wat dadelik dokter toe moet gaan en jou beplanning is reg, sal jy nie oorweldig voel nie.

Moenie volmaaktheid in al jou take na-streef nie. Dit is soms die hoofrede waarom mens take uitstel.

Jy voel nie bemagtig om die taak aan te pak en perfek te doen nie, daarom los jy dit vir later.
As jy volmaaktheid nastreef, gaan jy jouself net ongelukkig en gefrustreerd maak. Streef na metodiese beplanning om voortreflikheid te bereik. Die strewe na voortreflikheid lei tot gevoelens van selftevredenheid en sukses.

Wanneer jy al dié stappe vir beplanning gevolg het en jy kom aan die einde van jou dag, gaan terug na jou lysie en krap al die take uit wat jy afgehandel het. Dra wat oorbly oor na die volgende dag en voeg die nuwes by. Moet dit nie later as sesuur die aand doen nie, anders gaan dit in jou kop maal, jy gaan jou gevoel van beheer verloor en net weer begin uitstel.

Uitstel is ’n tyddief wat sukses op enige gebied van jou lewe vernietig. Arresteer dié tyddief deur verantwoordelikheid te neem vir jou eie tyd, deur beplanning, en bemagtig so jouself. In die meeste gevalle is daardie ding wat jy so uitstel toe nie so erg om te doen soos jy gedink het nie, en wens jy jy het dit vroeër gedoen.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees