1. Hoe weet ek 'n modelagentskap is betroubaar?

’n Agentskap se webtuiste is ’n goeie aanduiding, sê Wayne (eienaar van Infinity Models). “Dit moet professioneel lyk. Maak ook seker die agentskap is ’n lid van Nama (National Association of Model Agencies) of die Official South African Casting Association (Osca).

2. Hoe lank duur 'n gemiddelde foto- of verfilmingsessie?

Ses uur.

3. Hoeveel sal my kind betaal word?

Dit hang af van waar die advertensie vertoon word en vir hoe lank, sê Wayne. ’n Kind in ’n advertensie wat net in Suid-Afrika sal verskyn, sal aansienlik minder verdien as in ’n advertensie wat ook vir die buiteland bestem is.

’n Baba kan tussen R1 000 en R10 000 vir ’n advertensie betaal word, afhangende van faktore. Gewoonlik is dit egter tussen R1 000 en R2 000. Ouers moet weet modelwerk is nie ’n maklike manier om geld te maak nie. “Doen dit vir die pret en nie weens die geld nie. Jou kind se selfvertroue sal toeneem en hy of sy leer hoe om met ander kinders en volwassenes om te gaan.

Niemand kan beloof dat jou kind suksesvol sal wees nie, maar dit beteken nie jy moenie probeer nie. Beproef dit!”

4. Hoe werk betaling?

Jou agent sal ’n faktuur aan die produksiemaatskappy stuur. Die produksiemaatskappy sal dan die faktuur aan die kliënt stuur. Die kliënt betaal die produksiemaatskappy, wat op hul beurt agente betaal. Betaling kan dus ná 60 tot 90 dae verwag word.

Jou agent sal sowat 20 persent van die betaling eis. Dit is standaardpraktyk en dan moet daar nog belasting afgetrek word. Kinders sal op die bruto-inkomste van elke sessie waaraan hulle deelneem, belas word. Julle sal aan die einde van die belastingjaar ’n IRP5 ontvang. Agente verskaf die identiteitsnommer en adres van elke model op die faktuur.

5. Wat is die moontlikhede in die bedryf?

- Katalogusse Jou kind sal klere van maatskappye vertoon. ’n Gebruiksfooi maak deel uit van die vergoeding en dié sessies kan dus beter betalend wees.
- Advertensies Jou kind sal in ’n advertensie verskyn om ’n spesifieke produk of diens te bemark.
- Foto-argiewe ’n Fotograaf neem generiese foto’s vir ’n foto-biblioteek soos Getty Images, en maatskappye of publikasies kan dan die foto’s koop. Baie van die foto’s wat in Baba & Kleuter verskyn, kom uit so ’n biblioteek.
- Redaksioneel Dis die gebruik van ’n foto in ’n boek, tydskrif, ensiklopedie of ander gedrukte publikasie wat nie vir bemarking of advertensie bedoel is nie. Dis bloot ter illustrasie en word nie aan ’n produk verbind nie.

6. Hulle praat in die bedryf van 'n gebruiksfooi. Wat is dit?

Dit word betaal aan modelle wanneer foto’s gepubliseer word of as hulle in die finale advertensie (ná redigering) verskyn. Elke kliënt het ’n ander begroting en hierdie tariewe is geensins standaard nie.

Dit word op ’n persentasie van die dagtarief bereken, maar die persentasie verskil. Volgens die Kids Inc-agentskap het advertensieveldtogte gewoonlik die hoogste gebruiksfooie.

7. Moet my kleuter of groter kind enige opleiding kry?

Daar’s baie kinders wat suksesvol in die bedryf is sonder opleiding, sê Nicky. Ouer kindermodelle wat wel oor sekere vaardighede soos dans en toneelspel en selfs perdry beskik, kan vind dat dit hulle in sekere oudisies baat.

8. Wat is die voordele?

Kinders kan verantwoordelikheid, toewyding, tydsbestuur, geduld, die waarde van werk en sosialisering leer en hul selfvertroue kry ’n gesonde hupstoot.

9. Wanneer word oudisies gehou?

Modelagentskappe verwittig hul lede gewoonlik minstens een dag voor die tyd van oudisies (in die bedryf word dit castings genoem), sê Nicky. Jy sal dan jou kind moet neem vir foto’s of ’n kort TV-opname.

Jy sal daarna hoor of jou kind op ’n kortlys is en hy of sy kan selfs teruggeroep word vir nog ’n oudisie. Dan sal jy hoor of jou kind suksesvol was.

10. Wat moet ek die dag van die foto-sessie/verfilming doen?

As jou kind vir die fotosessie of verfilming aanmeld, moet haar gesig en hande skoon wees, haar naels kort en sy moet skoene dra. Wees geduldig en gereed om ’n hele rukkie daar te wees.

Gewoonlik mag net een ouer saam met die kind na die fotosessie of verfilming gaan. Maak seker dat jy jou agentskap vooraf kontak en al die inligting kry. Moenie laat wees nie, want dit kan die hele proses ontwrig.

11. Wat moet ek as ouer weet?

Ouers moet verwag om lank te wag en baie rond te ry. Tuisblyma’s is dus in dié opsig gelukkiger. Jy moet ook teleurstelling kan verwerk. As jou kind nie gekies word nie, is dit nie omdat iets met hom of haar verkeerd is nie.

’n Ander kind was net meer geskik vir die spesifieke werk. Onthou ook, jou baba is dalk nou uitgeknip vir die kalklig en baie gemaklik by vreemdelinge, maar kan later ’n skugter kleuter word. Sy geniet dit dan dalk glad nie. Neem jou kind se persoonlikheid en behoeftes in ag.

12. Kan ek die gepubliseerde foto's van my modelkind kry?

Jy kan die agentskap vra vir ’n afskrif van jou kind se werk. Die kliënt sal dit moontlik in MPEG-formaat kan stuur as dit TV-werk is of ’n publikasie as dit ’n brosjure of katalogus is. Doen navraag by jou agentskap.

Vind meer uit

- Kool Kids Casting Club: koolkidscasting.co.za ; 0219758841

- Infinity Models: infinitymodels.co.za ; 021424400

- Kids Inc Models: kidsincmodels.co.za ; 0219393172

- Nama (National Association of Model Agencies): nama.co.za 

- Osca (the Official South African Casting Association): oscasa.com