Daar lê sy, die prinsessie vir wie jy so lank gewag het. Piepklein met haar ogies op skrefies en haar vingertjies om jou pinkie. ’n Stem in jou kop vra: Hoe gaan ek hierdie klein mensie leer ken? Wat moet ek doen om ’n goeie verhouding met haar te ontwikkel? Gelukkig is daar baie wat pa’s kan doen om te sorg dat hulle van die begin af ’n goeie, bindende verhouding met hul kinders het. Pa, jou rol is belangrik. Onthou, behalwe vir borsvoeding is daar nie ’n enkele ding wat ’n vrou vir ’n kind kan doen wat ’n man nie ook kan nie!

Die wagtyd

Selfs tydens die swangerskap kan Pa al sy stem(pel) afdruk. Dit is bekend dat kinders in die baarmoeder op geluide van buite reageer. Praat met jou kleinding sodat sy jou stem leer ken. Sing vir haar, vertel vir haar stories en laat haar sommer nou al weet hoe bly jy oor haar koms is.

Die geboorte 

Die beste plek om te wees as jy van die begin af ’n verhouding met jou kind wil hê, is die geboorte. Vir sommige pa’s is dit gemakliker om aan die koppenent van die bed te sit en nie te veel van die geboorte te sien nie, ander wil weer deel van die aksie wees.

Kort ná die geboorte word die ma gewoonlik besig gehou, veral as dit ’n keisersnee was. Dis die ideale geleentheid vir pa om alleentyd met sy nuweling te kry. Gaan saam wanneer hulle jou baba weeg en meet en vra of jy die kleintjie kan vashou. Onthou om die hele tyd te praat– dis immers ’n stem wat jou baba ken en wat haar veilig sal laat voel. En moenie skaam wees om jou hemp uit te trek en die baba teen jou kaal bolyf te hou nie. Dit sal vir julle albei ’n wonderlike ervaring wees.

Die eerste jaar

Party mans voel uitgesluit as hul vrou borsvoed. Daar’s egter ’n paar baie maklike oplossings hiervoor.

Een is dat Ma van haar melk uitpomp en dit in ’n bottel giet sodat Pa die vreugde van voeding kan ervaar. Daar word selfs aanbeveel dat jy jou hemp uittrek en die kleintjie teen jou kaal borskas laat lê terwyl jy haar voed. Behou ook oogkontak met baba – dit sal beslis met jul band help.

Nog ’n bindingsgeleentheid is wanneer jou baba se doek geruil met word. Dis goed vir jou baba om deur iemand anders as haar ma hanteer te word. Dit stel haar op ’n kalm, rustige manier aan ’n nuwe ervaring bekend en jy, haar pa, is die ideale mens om dit te doen.

Wanneer dit by bad tyd kom, kan Pa ook help. As jy aanvanklik skrikkerig is, hou Ma dop en volg haar voorbeeld. Wanneer baba groter is, is dit groot pret om saam te bad. Tap ’n groot skuimbad om dit lekkerder te maak.

Behou soveel moontlik oogkontak wanneer jy met jou kind praat. In die begin kan sy dalk nog nie so goed fokus nie, maar voor jy weet waar jy is, kry jy ’n glimlag wat jy weet net vir jou bedoel is.

En daardie glimlag, meneer Nuwe Pa, is die mooiste glimlag wat jy in jou hele lewe gaan kry!

Peuters

In die ou dae het baie mans erken dat hulle eers ’n verhouding met hul kinders begin aanknoop het wanneer die moeilike tye verby was. Dis nou wanneer al die tande daar is, baba al loop en hulle nie meer hul ontbyt/middagete/aandete gereeld in ’n heel ander gedaante op jou skouer uitspoeg nie.

Maar al was jy baie betrokke by jou nuwe baba is daar steeds verskeie dinge wat jy in die peuterjare kan doen om jul band nog sterker te vestig.

Musiek is ’n wonder middel en kan met groot sukses gebruik word. Sit jou gunsteling-CD op die speler, sing saam en dans met jou kleintjie. Moenie bekommerd wees as jy nie regtig kan sing of dans nie, jou kind gaan in elk geval nie omgee nie. Hoeveel keer was daar nie al onderhoude met bekende sangers wat vertel hoe hulle saam met hul pa na Elvis en die Beatles geluister het nie? Dit is iets wat ’n kind nooitvergeet nie.

As musiek nie jou ding is nie, is voorlees ’n goeie alternatief. Laat jou kleinding op jou skoot sit en lees saam-saam. Dit kan ’n geliefde deel van jul roetine word.

Alle ouers leer daar is tye wanneer sake nie so vlot verloop nie. Kleintjie is olik, haar neusie loop en sy wil net weet dat daar iemand naby is wat vir haar omgee. Wees in hierdie tye ook daar vir haar. ’n Siek kind is nooit lekker nie, maar Pa se sterk, kalm teenwoordigheid gaan die kleintjie (en haar ma) sommer baie beter laat voel.

’n Kleinding is ’n wonderlike manier om fiks te bly. Skop bal (seuntjies én dogtertjies hou daarvan!), gaan stap, ry fiets en gebruik jou kleintjie as ’n gewig om jou armspiere sterk te maak. Lê op jou rug, lig haar in die lug op en trek gesigte terwyl jy dit doen. Bitter min kinders sal nie kraai van plesier wanneer dit gebeur nie. Of sit met jou knieë opgetrek, plaas jou kind daarop en sing liedjies soos “Hoe ry die boere sit-sit so” terwyl jy jou knieë op en af wip. Dit sal wondere vir jul verhouding én jou beenspiere verrig.

Kleuters

Maak spesiale tyd vir net jou en jou kleuter. Nie net is dit goed vir jul verhouding nie, dit is goed vir Ma om tyd op haar eie te hê. (Vra maar enige ma: Sy is regtig baie, baie lief vir Pa en die kinders, maar o, die luukse van ’n uur of twee net vir haarself ...)

Pa’s kan die kleingoed neem om te gaan fliek, hulle kan gaan ontbyt eet by hul eie spesiale plek of biblioteek toe gaan om boeke uit te neem. Selfs alledaagse goed soos ’n uitstappie ysterwarewinkel toe kan pret wees. Of gaan vang vis, gaan kyk sport of gaan maak ’n draai by ’n motorhandelaar om na die nuwe modelle te kyk.

Die een ding wat alle pa’s moet onthou wanneer hulle bekommerd is oor hul verhouding met hul kinders: Dit is nie noodwendig wát julle doen nie, maar die feit dat julle dit sáám doen.