Nessie vol liefde

akkreditasie
Dis wonderlik om te dink dat jul liefde gelei het tot die baba wat nou in jou groei. Koester die laaste paar maande saam voor julle tweetjies drie word. 

Daar is min dinge so mooi soos ’n broeis amperpa wat sy swanger vrou op die hande dra. Al daardie ekstra aandag is beslis een van die groot voordele en voorregte van swanger wees.

Verlustig jou daarin en laat jul romanse herleef, want onthou, as baba eers haar eerste “ê” gesê het, wag ’n paar moeë maande op jou wanneer jy jou aandag tussen jou man en die nuwe gesinslid sal moet verdeel. Hoe sterker jul band voordie tyd is, hoe beter. Daar gaan tye kom dat julle regtig nie vir mekaar ooghare het nie want almal is moeg en gestres en slaap sleg, en ’n paar goeie herinneringe kan julle dan daardeur dra.

Beplan dus nou rustige tye saam, doen klein goedjies vir mekaar, kuier ’n bietjie alleen, gaan hou vir oulaas saam alleen vakansie en skep ’n romantiese atmosfeer tuis in jul nessie.

“Binding” is ’n woord wat dikwels vir die verhouding tussen ma en kind gebruik word, maar dieselfde woord geld ook die verhouding tussen man en vrou. Binding geskied wanneer mense gehaltetyd saam deurbring. Voor die baba opdaag moet julle lekker lang gesprekke hê. Praat oor jul verhouding, jul verwagtinge van ouerskap en wat julle van mekaar verwag as nuwe ma of pa. Doen moeite om na mekaar te luister en te probeer verstaan hoe die ander een die wagtyd ervaar.

Swangerskap is ook ’n tyd van groot onsekerheid, en hoe meer ’n man sy vrou gekoester laat voel, hoe minder angstig sal sy wees – en dis goed vir die baba ook!

Bederf haar

  • Sê en wys dat jy vir haar lief is. Dit is’n vrou se grootste behoefte om te sien, hoor en ervaar dat haar man haar liefhet. Maak dit ’n gewoonte om elke dag vir haar te sê dat jy vir haar lief is. Vroue moet dit hoor. Doen dit ook voor ander mense en in die openbaar.
  • As sy hoogswanger is, kan sy onaantreklik voel. Verseker haar dat sy beeldskoon en spesiaal is.
  • Gee baie drukkies en soentjies, nie net as jy wil seks hê nie. Baie vroue sê: “My man raak net aan my as hy wil seks hê.”
  • Doen dingetjies vir haar wat wys dat jy haar lewe probeer makliker maak soos om te help kos maak en inkopies doen.
  • Stuur vir haar ’n SMS en sê: “Ek dink skielik aan jou”, “Mis jou”, “Is mal oor jou”.
  • Koop badskuim en tap vir haar ’n lekker bad in (onthou ook die kerse).
  • Sit sjokolade op haar kopkussing met ’n briefie: “Ek’s lief vir jou.”
  • Sê vir haar jy weet sy gaan ’n wonderlike ma wees, en dat jul kind baie gelukkig is.
  • Koop ’n boompie en plant dit vir haar iewers in die tuin om haar te herinner hoeveel jy vir haar omgee.
  • Masseer haar skouers as julle ’n DVD of fliek op TV kyk.

Bederf hom

  • Skryf in ’n briefie hoe aantreklik hy vir jou is. Sit dit tussen sy klere, in sy beursie, op sy kopkussing of pos dit na sy werk toe.
  • Gooi vir hom ’n drankie in wanneer hy van die werk af kom.
  • Gee hom ’n voetmassering, selfs al is jou maag baie groot.
  • Wys hom jy’s lief vir hom deur drukkies te gee, hande vas te hou (ook in die openbaar), aan hom te raak en met sy hare te speel.
  • Bel hom en sê: “Jy bly in my gedagtes!”
  • Stuur ’n stoute SMS.
  • Kyk saam met hom na sy gunstelingsport op TV.
  • Bel hom onverwags en sê: “Ek nooi jou vir ’n lekker ete by ’n restaurant ná werk. Ek betaal.”
  • Pak ’n spesiale lekker toebroodjie in werk toe.
  • Koop vir hom ’n lekkerny waarvan hy hou.
  • Sê dat jy hom waardeer en dat jy bly is hy is jou man en lief vir jou.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees