Net ek en jy

akkreditasie
Die een luukse wat geld nie kan koop nie, is tyd. Waar en hoe vind jy dus tyd om kosbare oomblikke alleen saam met elk van jou kinders deur te bring?

Vir kinders om waarlik te floreer, is dit belangrik dat ouers belê in minstens ’n halfuur per dag waarin hul kind hul onverdeelde aandag kry. Ja, dis makliker gesê as gedaan, veral as albei ouers werk en daar meer as een kind is. Ons gee raad.

Alleentyd saam met jou is noodsaaklik vir jou kind se ontwikkeling. Onthou, jou kind is ’n unieke mens met haar eie vrese, behoeftes en persoonlikheid. Sy gaan anders daaraan uiting gee wanneer sy alleen saam met jou is as in ’n groep.

Corné Peach, ’n kliniese sielkundige van Kempton Park, sê die ouer-kind-verhouding is in die kleuterjare die hoofverhouding, en die plek waar sy die meeste waardes en eie waarde leer. Die groter gemeenskap en maatjies speel wel ’n rol, maar koester die jare waarin jý die belangrikste is, want as jou kind ’n tiener word, sal jy terugverlang na hierdie tyd.

Weet ook dat gereelde alleentyd saam met jou van onskatbare waarde vir joukleinding is. Jou kleuter voel in hierdie tyd veilig en kan rustig oor dinge uitvra waaroor sy onseker is. Sy kan haar sosiale vaardighede oefen sonder angs dat iemand vir haar lag. Een-tot-een-tyd sal wondere verrig vir jul binding en jy sal jou kind se persoonlikheid in al sy fasette leer ken.

Dit maak dit makliker om jou kind te verstaan en konflik te vermy. Dissipline-sake is nie meer so gekompliseerd nie, want jy het beter insig in wat jou kind motiveer. As julle lekker saam ontspan en net op mekaar fokus, floreer jou kind se selfbeeld. Jou belegging in hierdie tyd sê vir haar dat sy belangrik is en dat dit vir jou lekker is om by haarte wees.

’n Klein bietjie een-tot-een-tyd elke dag is beter as ’n hele middag een keer per week. Gaan slim te werk en bou die gesteelde kwartiertjies in by dinge wat julle in elk geval moet doen as deel van jul algemene roetine. Jy sal verbaas wees hoe julle as gesin die vrugte hier van sal pluk. Jul kinders sal gelukkiger wees, julle sal minder hoef te dissiplineer en vrede sal op jul huis neerdaal.

Vind hier tyd

  • Badtyd: As jy lief is vir bad, kan jy jou kinders nooi om een-een saam te bad. Pa kyk dan na die ander kind (dis weer hul alleentyd).
  • Nagmerrie-uur: Jy is pootuit ná werk en wil so gou moontlik met die aand se bedrywighede begin, maar almal neul en hang aan jou rokspante. Voor jy met die bad- en kookroetine begin, staan eers 10 minute aan elke kind af. Gee hulle jou onverdeelde aandag en fokus net op hulle en hul behoeftes. Hulle het heeldag honger gely vir jou en die klein belegging van tyd beteken dat die res van die aand baie rustiger sal verloop, met baie minder gekerm. 
  • Stokperdjies: As jy of jou man ’n stokperdjie het, betrek jul kinders daarby as hulle belangstelling toon. Of as jou kind baie lief is vir verf of bal skop, doen dit gereeld saam met hom.
  • Bederf een-een: As jou een kind êrens anders kuier, kan jy en jou man saam ’n groot bohaai oor die ander enetjie maak en haar uitneem. Beloof ook om dit anders om te doen. 
  • Voorkeure verskil: Sit jou jongste in die bed en jy en jou naguiltjie kan ’n bietjie alleen op bly.
  • Afsprake: Skeduleer weeklikse of maandelikse afsprake met elk van jou kinders waar julle op ’n vaste dag en vaste tyd iets saam gaan doen. Jou foon is af en niemand mag julle pla nie.

Reëls vir alleentyd

  1. Alleentyd is nie ’n beloning vir goeie gedrag nie. Moenie dit so gebruik of dit as straf van jou kind weer hou nie. Alleentyd moet onvoorwaardelik wees. Dis gewoonlik juis wanneer jou kind gedurig kerm en stout is, dat hy meer aandag nodig het.
  2. Fokus werklik op jou kind. Moenie net daar sit terwyl jou kop eintlik by ander dinge is nie – kinders voel dit aan.
  3. Wissel regverdig af sodat Ma en Pa met elk van die kinders ewe veel alleentyd kry.
  4. Moenie alleentyd beskou as ’n tyd waar jy jou kind doel bewus wil stimuleer of iets spesifieks wil leer nie. Hou dit ontspanne en laat jou kind jou lei in wat julle doen. Saam niks doen is van die wonderlikste alleentyd.
  5. Ma en Pa moet saam beplan en hul dagboeke koördineer om alleentyd in te ruim.
  6. Saam televisie kyk tel nie as alleentyd nie.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees