Nuwe baba? Só maak jy tyd vir ousus

akkreditasie
Geluk! jy is die ma van 'n splinternuwe baba - en heel moontlik ook van 'n beduiwelde kleuter. Maak dit só vir ousus makliker om die nuwe gesinslid te aanvaar.

Die koms van jul nuwe baba is opwindend, maar hoe gemaak as almal in die huis nie ewe bly is oor die nuus nie? Al is jou peuter wantrouig oor die veranderinge, moet jy haar by die geboorte betrek. Berei haar voor vir hierdie ervaring omdat dit nie net ’n langtermyninvloed op die kommunikasie en dinamiek van jul gesinstruktuur kan hê nie, maar ook op jou peuter se emosionele ontwikkeling, selfbeeld en selfvertroue.

Maak seker dat jou eersteling voel jy sien haar raak. Die nuwe baba se geboorte sal natuurlik beteken dat ousus
minder aandag kry. Sy moet dus weet dat jou hart groot genoeg is om almal ewe lief te hê, al bring jy dalk nou ’n bietjie meer tyd saam met die baba deur. 

Die beste manier om jou ouer kind by die nuwe baba en veranderde omgewing te laat aanpas, is met goeie voorbereiding. Hier is ’n paar wenke om ousus deur dié tyd te help.

Tydens jou swangerskap

1. Berei jou kind voor deur saam boeke oor babas te lees.
2. Laat haar toe om iets spesiaals vir die babakamer te kies. Probeer jou peuter opgewonde maak oor baba se koms deur haar te vra om die klere in die kas te pak.
3. Maak haar deel van die swangerskap. Neem haar saam as jy sonarondersoeke laat doen, of laat haar voel as baba skop.
4. Plaas jou peuter in ’n dagsorgsentrum of kleuterskool tydens jou swangerskap sodat sy teen die geboorte by daardie roetine aangepas het.
5. Vertel haar die groot nuus in taal wat sy verstaan. Kinders onder twee hoef eers die laaste twee of drie maande van die nuwe baba te hoor, behalwe as hulle vroeër vrae vra. Vertel jou kind van ouer as twee vroeër, sodat sy dit nie elders hoor nie. 

In die hospitaal

1. Berei jou peuter daarop voor dat jy vir ’n rukkie weg gaan wees om haar bababoetie of -sussie te gaan haal, maar dat jy weer terugkom. Maak seker sy weet jy is nie siek of in gevaar nie.

2. Maak tyd om ousus te liefkoos en koester terwyl iemand anders die baba vashou – selfs al het jy ’n keisersnee gehad. Laat haar toe om aan die nuwe baba te vat en neem selfs foto’s waar sy die baba vashou.

3. Vertel haar hoe baie jy haar mis en gee haar ’n geskenkie van die baba af.

Terug by die huis

1. Laat ousus saamry hospitaal toe om die baba huis toe te bring.
2. Maak seker jy skenk baie aandag aan haar as jy tuis kom. Moenie die nuwe baba aan haar opdwing nie – wag eerder tot sy self van hom kennis neem.
3. Stuur ’n sak blou of pienk lekkers saam skool toe sodat die maatjies saam die koms van die nuwe baba kan vier.
4. Gaan wys die nuwe baba vir haar maatjies by die skool wanneer hulle groepietyd het.
5. Probeer jul bestaande roetine waar moontlik behou. Doen moeite met spesiale rituele soos slaaptydstories.
6. Bly konsekwent met reëls en grense – dit skep sekuriteit en ’n voorspelbare omgewing – maar wees daarop
voorbereid dat dit vir jou eersteling ’n aanpassingstyd is en moenie te veel verwag nie.
7. Gee haar genoeg tyd om baba deeglik te bekyk, aan haar te vat en haar met jou hulp te hanteer. Vestig haar aandag op baba se reaksie: “Kyk, hy hou daarvan as jy vir hom sing!”
8. Betrek ousus by die nuwe baba – laat haar toe om die baba se voetjies te was tydens badtyd en wys haar hoe om die baba se handjies en voetjies te soen. Verduidelik sommer baie vroeg al van die fontanelle bo-op baba se kop en dat dit baie sag is.
9. Sorg dat jy jou peuter baie goed laat verstaan dat sy nooit die baba sonder jou mag optel of dra nie.
10. Lees ’n storie terwyl jy borsvoed of laat sy haar eie babapop voed of self ’n sappie drink.
11. Gesels met jou kleinding oor hoe sy voel oor die veranderinge in die huis. Help haar om haar gevoelens te
verwoord.
12. Vertel vir mense watter wonderlike ouer sussie jou peuter is – en maak seker sy hoor dit!
13. Maak die baba van die heel eerste dag af al daaraan gewoond om te midde van gewone huishoudelike geraas te slaap. Jou peuter kán nie die hele tyd fluister en saggies wees net ter wille van die nuwe baba in die huis nie.
14. As sy aggressief is, maak dit kalm duidelik dat dit onaanvaarbare gedrag is en probeer dit kanaliseer. Moenie
slegte gedrag met aandag beloon nie, anders word dit herhaal. Doen liewer moeite om later op haar behoefte aan
aandag te reageer.
15. Wys haar haar eie babafoto’s en gesels met haar oor al die verskille en ooreenkomste tussen haar en die nuwe baba. 
Só maak jy tyd vir ousus

1. Bou alleentydsessies in jou daaglikse skedule in. ’n Goeie tyd is wanneer jy van die werk af kom. Staan dadelik
10 minute aan elke kind af waarin jy niks anders doen as om net op daardie kind te fokus, te luister wat in haar dag gebeur het en wat haar behoeftes is nie. Jou kinders sal gou aan dié roetine gewoond raak en vir die res van die aand heerlik rustig wees.
2. Gebruik aktiwiteite wat deel vorm van jul algemene roetine as alleentyd. Pa en boeta kan saam bad terwyl ma
en sussie saam die slaai maak. Of boeta gaan saam met mamma winkel toe terwyl die ander twee by pappa
agterbly.
3. Kry ’n stokperdjie wat julle deel, of betrek jou kind by jou stokperdjie. As manlief graag gholf speel, kan hy een van die kinders met sy eie stel minigholfstokke saamneem wanneer hy gaan balle slaan.
4. Skeduleer elke maand een alleenuitstappie op jul kalender en maak daarvan iets spesiaal. Pa kan sussie dieretuin toe neem terwyl ma die ander besig hou.
5. Reël dat jul ander kinders by ouma gaan kuier terwyl jy en manlief vir ousus uitvat.
6. As julle Saterdae saamspeel, gee vir elke kind ’n aandagbeurt: 30 minute saam met een, dan 30 minute saam
met die ander. In daardie tyd fokus jy eksklusief op een kind.
7. Maak ’n weeklikse afspraak met jou kind. Maak dit op ’n vaste dag en ’n vaste tyd. Niks en niemand mag inbreuk maak op jul tyd saam nie. Los jou selfoon, gaan sit saam met jou kind op die vloer en laat sy die spel en gesprek lei.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees